Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beboet EFF-LP’s oor ontwrigtende gedrag

Die EFF het daarin geslaag om die staatsrede te ontwrig. Mag jy die parlement en sy reëls misbruik om dieselfde parlement en sy reëls te vernietig?

Pieter Mulder

By sy verkiesing het die EFF verklaar dat hy die revolusie na die parlement bring. Ook dat hy hom nie deur die parlement se reëls sal laat bind nie. Dis presies wat hy doen.

Art. 16 van die Verkiesingskommissiewet stel riglyne waaraan ’n politieke party moet voldoen om geregistreer te word. Pieter Groenewald (VF Plus) het die EFF se eie dokumente gebruik om aan te toon hoe hy die meeste van dié riglyne oortree. Tog is die party se registrasie goedgekeur.

Mag jy demokrasie gebruik om dieselfde demokrasie te vernietig? Dit is wat Hitler in Duitsland gedoen het. Ná ’n demokratiese verkiesing in 1933 is hy as kanselier ingehuldig. Met ’n noodtoestand as verskoning is die Magtigingswet in 1933 aanvaar. Daarmee het hy die Duitse demokra-sie vernietig en alle mag gegryp.

Verstaan my reg: Ons is nog myle van ’n Hitler-situasie af. Maar die vraag bly geldig.

Soek die meeste kiesers werklik ’n EFF-soort Suid-Afrika?

Hulle wil elke beleidsfout hier kom herhaal wat in Zimbabwe, Venezuela en die Sow­jetunie­ misluk het.

Ontleed EFF-beleid. Hy wil elke­ beleidsfout hier kom herhaal wat in Zimbabwe, Venezuela en die Sowjetunie misluk het. Soek ons sulke leiers hier?

Julius Malema en Mbuyiseni Ndlozi is tans in die hof omdat hulle ’n polisielid aangerand het. So ook Marshall Dlamini, nuwe EFF-sekretaris-generaal, in ’n ander voorval. Floyd Shivambu, EFF-adjunkpresident, is in die hof omdat hy ’n joernalis by die parlement aangerand het.

Voeg by die korrupsie- en ander klagte teen die leiers. Waar trek die ondersoek na Malema en VBS Mutual Bank? Sy Ratanang-familietrust en On Point Engi­neering word ook weer bekyk.

My parlementêre kantoor was op die vyfde vloer, die EFF-kantore op die vierde. Ons kry mekaar gereeld in die hysbak. Dan vra ek: “Wie is jul sprekers in vandag se belangrike debat?”

Hulle antwoord: “Die TV-kameras en die president is hier. Ons het niemand aangewys nie, want ons beplan om vanmiddag uitgegooi te word.”

Die middag tart hulle die speaker totdat hulle uitgegooi word. Wanneer ek daarna by hul kantore verbystap, kyk hulle tevrede na die mediadekking op TV – goeie dekking vir nog stemme. In die buiteland sê beleggers aan my: “Ons kyk na jul parlement. Ons wil belê, maar nie nou nie.”

Die EFF herhaal gereeld sy optrede omdat die parlementêre reëls nie werklik strafmaatreëls het nie. My voorstel: ’n Lid wat skuldig is, verloor ’n week se salaris. Twee weke se salaris weens ’n tweede oortreding.

EFF-lede moet maandelikse paaiemente vir hul duur klere en BMW’s betaal. Ek wil sien watter lede nog so dapper is nadat vier weke se salaris afgetrek is en paaiemente nie meer betaal kan word nie.

  •  Dr. Mulder was ’n parlementslid.
Meer oor:  Pieter Mulder  |  Eff  |  Staatsrede2020  |  Meningsberig  |  Standpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.