Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beelde-debat vereis gesprek
Gert van der Westhuizen

Dit is, aan die een kant, jammer dat die debat oor erfenis en monumente weer opvlam in ’n tyd waarin ons allermins onverkwiklike gesprekke kan bekostig wat Suid-Afrikaners net verder sal verdeel.

Dit sal ook ons aandag aflei van wat eintlik gedoen moet word om die land in die regte rigting te stuur ná die verwoestende ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie.

Maar aan die ander kant is dit dalk hoog tyd dat ons ná 26 jaar van demokrasie die debat oor monumente en erfenis op die spits dryf sodat ons weet waar ons as Suid-Afrikaners met mekaar staan.

Kom ons begin by die regering.

Dit is verstommend dat die regering nou skynbaar bereid is om miljoene rande (wat uiteindelik weer miljarde rande kan word) te bestee om “apartheidsbeelde” te skuif en êrens in ’n park te gaan hervestig. Dít terwyl daar mense is wat nie ’n dak oor hul kop of ’n werk het nie en elke aand honger moet gaan slaap.

Hoe kan jy geld bestee aan standbeelde in ’n land met honger kinders, kinders wat nie skole het nie, stede waar die infrastruktuur ten gronde gaan, stede waar vullis ophoop, dorpe wat nie water het nie, rioolstelsels wat op die punt staan om in duie te stort, gewelddadige misdaad hande uitruk . . . ?

Sal ’n land waarin mense kan werk en veilig voel nie ’n veel beter nalatenskap aan ons kinders wees as ’n klomp standbeelde waaraan niemand dalk oor 30 jaar veel erg gaan hê nie?

Die lys is eindeloos.

Sal ’n land waarin mense kan werk en veilig voel nie ’n veel beter nalatenskap aan ons kinders wees as ’n klomp standbeelde waaraan niemand dalk oor 30 jaar veel erg gaan hê nie?

Boonop roer die regering die kwessie aan terwyl hy, soos die DA aangetoon het, nie eens van die nuwe erfenisterreine wat wel sedert 1994 gevestig is, behoorlik in stand kan hou nie.

’n Mens kan daarom tereg vra of die regering werklik ernstig is en of hy net die kwessie van standbeelde en erfenis gebruik om die aandag van sy eie mislukkings af weg te lei.

Maar daar moet terselfdertyd ook begrip wees vir die frustrasie onder die meerderheid dat ’n klein deel van die bevolking se geskiedenis openbare ruimtes steeds oorheers.

’n Lid van die ANC het goed 20 jaar gelede aan my gesê daar kan tog nie van hom verwag word om elke dag in ’n straat wat na HF Verwoerd genoem is, te ry om in ’n gebou te gaan werk wat óók dié apartheidspremier se naam dra nie.

Sedertdien is byna al die standbeelde van apartheidsleiers uit ons openbare ruimtes verwyder en is daar omtrent nie meer ’n straat in die land wat hul name dra nie.

Moet ons nou verder gaan en die standbeelde van byvoorbeeld Paul Kruger, Louis Botha, Jan Smuts, Koos de la Rey en Christiaan de Wet verwyder? Sal daar geredeneer word dat hulle gehelp het om die grondslag vir apartheid te lê, dat hulle kolonialiseerders was of dat hulle ook in eie reg vryheidsvegters was?

Sulke besluite is moeilik en sál mense omkrap. Dit kan nie net deur die regering geneem word nie, want dit is baie gevaarlik as politici besluit hoe die geskiedenis geskryf of uitgebeeld moet word. ’n Stuk geskiedenis kan nie bloot uitgevee of ontken word nie.

Ons moet besluit of ons nie eerder daaroor wil praat nie en dit steeds wil sien ter wille van konteks en perspektief.

Ons kan eerder byvoeg wat in die verlede doelbewus weggelaat is en, soos in talle Europese lande, probeer om saam met ons verskillende geskiedenisse te leef.

Maar om dit reg te kry, sal ons eers bereid moet wees om met mekaar te praat en werklik na mekaar te luister.

En dit gebeur nie nou nie.

  •  Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.

Meer oor:  Gert Van Der Westhuizen  |  Armoede  |  Toekoms  |  Onderrig  |  Beelde-Debat  |  Standbeelde  |  Beelde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.