Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beelde gaan nie net oor verlede
Johannes Froneman
Johannes Froneman

Ek probeer Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena herlees. Dit gaan maar swaar.

Sekerlik is dit mooi geskryf, maar dit maak seer om te besef dat ons ná al die jare te min gevorder het – in die sin dat gewone, arm mense steeds swaar onder die ideologie van die dag ly.

Om ’n dak oor jou kop en brood op die tafel te hê, bly ’n daaglikse stryd vir miljoene.

In die 1980’s het Leon Wessels, destyds ’n prominente lid van die regering en latere menseregtekommissaris, die Poppie-boek op ’n vliegtuig gelees. Hy vertel in sy nuwe boek, Encountering Apartheid’s ghosts – from Krugersdorp to Constitution Hill, hoe hy die trane moes wegvee omdat Poppie se storie hom so diep geraak het.

Met hierdie en ander herinneringe worstel ’n eerlike Wessels en probeer hy die spoke van die verlede besweer.

Wessels se boek het ’n lekker tempo en lees maklik.

Maar ondanks die menslike oomblikke en insiggewende binnekring-staaltjies is daar ook talle herinneringe aan Afrikanerregerings se onbetwisbare bydrae tot die pyn van gewone mense. Dit maak opnuut seer.

Dit is nie maklik om in hierdie tyd sulke eerlike boeke te lees nie. ’n Mens vlug juis weg van die werklikhede wat op die TV-nuus neerslag vind. Die herhalende berigte oor Covid-19 is te erg en is soos die kykweer van ’n ongeluk in stadige aksie.

En dan is daar ook die herhalende nuus van nog ’n plaasmoord, dorpsmoord, stadsmoord, townshipmoord … dit stapel op.

Te midde hiervan kook mense sop vir die hongeres en gaan sommige kinders skool toe. Boodskappe van hoop word na mekaar gestuur en paaie word geteer. Die lewe gaan stadig maar onseker voort.

Intussen debatteer mense oor standbeelde.

Moet dit verskuif word of tóg gelaat word waar dit is (sodat dit dalk later deur ’n skare verontregtes afgebreek en in die dammetjie gegooi kan word)?

Moet daar pragmaties oor simbole gedink word of juis vasgeskop word?

Moet daar pragmaties oor simbole gedink word of juis vasgeskop word?

Gaan dit help om vas te skop?

Erger, gaan dit help om redelik te wees?

Te midde van al die ander dinge wat ons aandag verg, kan ons die gesprekke oor simbole nie laat vaar nie. Dit bind juis verlede en hede. En sê baie oor die toekoms.

Wat my laasweek opgeval het, is die meningsverskil tussen twee Afrikaners, prof. Pieter Labuschagne en dr. Danie Langner, oor die verskuiwing van die M.T. Steyn-beeld in Bloemfontein.

Hier is die FAK-man, uit die Solidariteit-dampkring, die inskikliker een. Skuif die beelde na plekke waar hulle tuis sal wees, argumenteer hy.

Nee, maar dan skuif jy my as Afrikaner, ’n pro-1994-Afrikaner, ook weg van die markplein, word geantwoord.

Hier is nie twee mense aan ’t debatteer of hulle Kanada toe moet emigreer nie. Hulle is albei Afrikaners wat ’n bydrae probeer lewer. Maar hulle verskil oor die beelde.

Dit is simbolies van Afrikaners se staanplek in die Suid-Afrikaanse samelewing en watter plek daar vir hierdie etniese groep bestaan – of behoort te wees. Dit is, in die taal van ’n boek uit die 1930’s, ’n voortgaande soeke na ’n tuiste vir ons nageslag.

Dit is ten diepste ’n gesprek waar vrede maak met die verlede hand aan hand loop met die skep van ’n nuwe toekoms.

Daarom is boeke en gesprekke oor ons verlede steeds nodig. En maak dit saak waar standbeelde staan.

Dit is allermins ’n niksseggende skooldebat. Maar dit verg ook toekomsgerigte optrede.

  • Froneman is ’n buitengewone professor van die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Johannes Froneman  |  Elsa Joubert  |  Rassisme  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.