Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beelde uit die memorieboek van die ’70’s
Annelie Botes

Ons is die komende Sondag genooi vir tee ná kerk by prof. Albert Troskie en sy Jenny. Nie ’n Engelse Jenny nie, maar J soos in Jan. Sy is van Hollandse afkoms. En die vooruitsig van Hollandse oliebolle wat wink.

Met die tref van die reëlings sê ek ons afspraak herinner my aan die ’70’s. Hy antwoord hy weet nie mooi van die ’70’s nie, want elke Sondag ná kerk drink hulle tee.

Toe beduie ek waarom juis die ’70’s helder in my memorieboek opgeteken staan.

Daardie tyd, ondenkbaar dat dit amper vyf dekades in die verskiet lê, het my ma-hulle elke Sondag gaste vir tee ná kerk oorgenooi. Dan moes ek en my suster my ma se fynste koppies en koekbordjies regsit en koekvurkies opvryf. En die koekspaan mag nie ’n vaal blerts hê nie.

Daardie tyd het niemand uit bekers gedrink nie, en om ’n teesakkie in ’n koppie te gooi, was teen alle etiketreëls. Die tee is nooit in koue koppies voorgesit nie, en die teepot moes ’n mussie dra. En gestyfde lapservette was die norm.

Saterdae het my ma die fyngebak vir Sondag opgetower. Vandag se dae kry ’n mens kaaskoeke en Flake-koeke wat destyds onbekend was. Die koekspyskaart het begin en geëindig by tjoklitkoek, lemoenkoek, geelkoek, koffiekoek, vrugtekoek en konfytrolle.

Die vroumensgaste het opgedaag met flambojante kerkhoede, borsspelde en aanknipoorbelle.

Die vroumensgaste het opgedaag met flambojante kerkhoede, borsspelde en aanknipoorbelle. Gesykous, selfs in die somer. Nog die blinkerige vasknipsoort wat met ’n step-in bo gehou is. Geen oom is sonder ’n pak, das en sakdoek kerk toe nie. Talle het kruisbande gedra en kerkskoene is Saterdae spieëlblink gepoleer.

Maar só is ek en my suster se taak die teeskinkborde se indra en die skinkery en koekskeppery.

In die ’70’s het die blommekind-era begin oorwaai tot in Uniondale. Tot my ma se argwaan het ons die bediening gedoen in hippiesandale wat met raffia gevleg is. Dan het ons twee lewensgetroue loodvlieë gehad, afkomstig uit ’n lucky packet. Groot pret met dié loodvlieë.

Voor ons skink, gooi ons dit in die koppie van ’n vooraanstaande tannie wat neig om haar teekoppie met ’n geligte pinkie vas te hou. Dan loer ons, want kinders mog nie in grootmensgeselskap rondhang nie.

As die tannie by die laaste tee kom, gewaar sy die loodvlieë en ’n uitdrukking van weersin sprei oor haar gesig. Te verstane. Dan kos dit my ma bontstaan oor haar dogters se vliegtruuk. Sy wou gereeld ons velle aftrek. Tog onthou ek die lag in haar oë.

Nou wens ek ek het twee loodvlieë gehad om Sondag suutjies in my tee te gooi daar by die Troskies. Net vir die pret.

En ek mis die ’70’s toe die lewe ongekompliseerd was, en niemand geweet het van tik, Facebook en Flake-koeke nie. En mense Sondae bankvas in die kerk gesit het, en ons kinders Sondagskoolversies uit ons koppe moes leer.

Maar dis ’n tyd wat weggevlieg het. Dit leef net in jou nostalgiese memorieboek.

Botes is ’n bekende outeur en rubriekskrywer.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Tee  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.