Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Begrafnisse in die tyd van Covid: Hoe groet ons nou?

Met deesdae se beperkings op begrafnisse is dit asof ons ontneem word van die kans om saam te rou deur saam te wees, skryf Leslie van Rooi.

Begrafnisse oor die wêreld heen het weens die Covid-19-pandemie heeltemal verander. Hier sê Bryanna Danas alleen totsiens aan haar pa, Gregory Blanks, wat op 50-jarige ouderdom in San Felipe in Texas in die VSA aan die koronavirus dood is. Foto: Reuters

Sedert die begin van die Covid-19-pandemie het ek verskeie klagtes gehoor oor die kilheid van begrafnisse wat onder nuwe die regulasies moes plaasvind.

Nie net was die meestal intieme geleenthede ontneem van die samesyn en direkte fisieke ondersteuning van saamwees nie, maar ook moes families harde besluit neem oor wie na die diens genooi moet word. Die getal mense wat begrafnisse mag bywoon, is om verstaanbare redes beperk weens die regulasies oor ruimtes waarin gedenkgeleenthede mag plaasvind.

En mettertyd het ek self ook iets hiervan beleef – waarskynlik soos die meeste van ons oor die afgelope byna 11 maande.

En, soos die dood, is dit nie iets waaraan ’n mens gewoond raak nie.

Dit is nie soos die MS Teams- en Zoom-vergaderings wat nou byna tweede natuur is nie. Dit is nie soos ons verstaan van masker dra en die verstaan van afstand hou nie. Hierdie ritueel gaan immers oor saamwees, saam groet, saam hartseer wees, saam onthou.

’n Handdruk en drukkie by ’n begrafnis voel daarom ook heeltemal anders as om iemand ná jare in Kerkstraat raak te loop – die diepte van betekenis is anders tydens hierdie sentrale deel van ’n proses van rou.

Deel van die kompleksiteit is dat ons ook nie die geleentheid het om siekes en selfs sterwendes in die hospitaal te gaan besoek of groet nie. Daar is ook nie geleentheid om mekaar ná ’n teraardebestelling met ’n koppie tee of met ’n meer tradisionele ritueel te groet nie – dink maar net aan die vermanings hierteen op ons nou bekende “familievergaderings”.

WhatsApp-boodskappe, SMS’e, stemboodskappe en video’s moes dit vervang – ons moes ook hier virtueel teenwoordig wees.

In baie gevalle is begrafnisse self ’n geleentheid waarop jy weer kollegas, vriende en familie raakloop wat ’n mens jare laas gesien het omdat ons lewenspaaie om verskeie redes ’n ander koers ingeslaan het.

’n Handdruk en drukkie by ’n begrafnis voel daarom ook heeltemal anders as om iemand ná jare in Kerkstraat raak te loop – die diepte van betekenis is anders tydens hierdie sentrale deel van ’n proses van rou.

In ons konteks is die ritueel van ’n begrafnis of ’n troosdiens of ’n dankdiens belangrik – nie net as deel van die proses van rou nie, maar juis ook as ’n ritueel wat ons help om ons die nuwe werklikheid sonder ’n geliefde in te dink.

Weens Covid-19 moes ons dit gedeeltelik prysgee en na ander maniere soek om te onthou en om afskeid te neem.

Natuurlik moes ons om heel verstaanbare redes ander maniere vind om die rite van troos uit te leef.

Die prys wat ons moet betaal

Leslie van Rooi

Verskeie voorbeelde bestaan nou wat waarskynlik tot ’n mate sou kon voortduur. Dit sluit onder meer die geleenthede in waar jy groet deur verby ’n plek te ry (drive-by) asook die regstreekse uitsending van dienste vanuit kerkgeboue.

Albei het uiteraard ook uitdagings. En hoewel dit aan meer mense die geleentheid bied om deel van ’n gedenkgeleentheid te wees, het dit ook sy beperkinge.

So betrap ek my tydens ’n troosdiens van ’n oud-kollega, wyle Piet Eloff, voor die skerm van my rekenaar waar ek die heeltyd na ’n persoon “langs my” wou kyk of glimlag in erkenning van die staaltjies wat tydens huldeblyke oor Piet vertel is. Alleen in my kantoor was dit natuurlik nie moontlik nie.

Dit is asof jy deel van die diens in Moederkerk was – jy sien alles en almal – maar jy is ook nie daar nie. Jy is gelyk daar en nie daar nie.

Dit is veral die gedenkgeleenthede wat in die kerk plaasvind en uitgesaai word wat moeiliker is. Want iets in die gebou is bekend as deel van die ritueel – jy weet hoe dinge sal verloop, jy weet wie daar is, jy weet hoe dit voel, jy weet hoe om jouself in die seisoene van die diens in te leef; die woorde, die musiek, die gevoel. Daar is dus ’n vreemde maar verstaanbare verlange om daar te wees.

Dit is asof ons ontneem word van die kans om saam te rou deur saam te wees.

Dit is effens anders by ander geleenthede waar ons genooi word om te onthou en hulde te bring ’n tyd ná ’n begrafnis en/of teraardebestelling waar almal gelyk op ’n virtuele platform inskakel om by mekaar te wees.

So sal dit wees wanneer ons nog ’n oud-kollega, wyle Mohammad Karaan, onthou en sy lewe herdenk. Dit sal baie van ons dan ook die kans gee om te groet.

Maar ook hier sal ons die samesyn mis en sal ons nie ’n paar jaar af-in-tyd die dag saam kan onthou nie en so weer Mohammed se lewe vier nie. Onder ander omstandighede sou ons sekerlik ’n gedenkgeleentheid vir ons kollega en mentor op kampus kon hou. Maar nie tans nie.

Dit is asof ons ontneem word van die kans om saam te rou deur saam te wees. Saam afskeid te neem deur mekaar in die oë te kan kyk in die hoop dat jy so ander herinneringe kan oproep en so op sinvolle maniere afskeid kan neem. Saam.

Maar hoe dan nou anders? Dit is deel van die prys wat ons tans betaal.

Dalk is die deel van die gevoel, die frustrasie om daar, maar ook nie daar te wees nie, ’n manier om hierdie gedeelde gevoel van rou saam te beleef. Dalk moet ons mekaar hierin troos – dat ons die afgestomptheid van hierdie aangepaste ritueel nou ken en dat ons saam verlang na geliefdes wat ons graag op ander maniere sou wou groet.

Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Covid-19-Pandemie  |  Rou  |  Begrafnisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.