Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Begroting teken van ’n sterker CR
Henry Jeffreys

Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede verlede week is voorafgegaan deur raad uit alle oorde – onder meer dat hy die staat se massiewe salarisrekening moet takel. Maar niemand het verwag dat hy dit inderdaad sou doen nie.

Mboweni het aangekondig dat die staat se salarisrekening met R160 miljard besnoei gaan word – tot groot bevrediging van opposisiepartye en woede van staatsdiensvakbonde. Die vakbonde se misnoeë is deur die ANC se alliansievennoot Cosatu verwoord. Dis ’n oorlogsverklaring teen die werkers, het die vakverbond onthuts verklaar, terwyl hy dit duidelik gemaak het dat hy die plan met mening sal beveg.

Elders is Mboweni se polities gewaagde aankondiging verwelkom as dapper en “die regte medisyne” vir ’n ekonomie op sy knieë. Die aankondiging is ’n teken van Mboweni en pres. Cyril Rama­phosa se vasberadenheid om te doen wat nodig is om die ekonomie weer op die herstelpad te kry.

Luister ’n mens na die retoriek wat die begroting in vakbondkringe begroet het, lyk dit onafwendbaar dat ’n staking in die staatsdiens vanjaar op hande is. Dit beteken wel nie dat die regering nie moeite moet doen om die vakbonde tot ander insigte te bring nie.

Dit is belangrik dat die regering en Cosatu gebruik maak van forums soos Nedlac om oor die kwessie te onderhandel. Vakbonde is gewoond daaraan om te onderhandel. Oor die jare het hulle egter begin optree asof hulle in hul verhouding met die regering geregtig was op verhogings, soms bo die vlak van inflasie. Dit het die staat se salarisrekening buitensporig laat gedy.

Cosatu en ander vakbonde moet eenvoudig oortuig word om die eng belange van hul lede ter wille van die nasionale belang opsy te skuif.

Cosatu en ander vakbonde moet eenvoudig oortuig word om die eng belange van hul lede ter wille van die nasionale belang opsy te skuif. Sommige vakbondleiers sê nou dat staatsdienswerkers nie verantwoordelik gehou kan word vir die oorsaak van die ekonomiese krisis nie.

Wel, hulle is verkeerd. Uiteindelik is ons álmal skuldig en moet ons almal nou die bitter medisyne sluk wat nodig is om die siek ekonomie te genees.

Die gaping tussen die regering se besteding en inkomste is enorm, wat be­teken die regering moet geld leen om kop bo water te hou. Die regering se skuld is al meer as R3 duisend miljard, wat be­teken dat 15 sent van elke rand wat bestee word, aangewend word om rente op die skuld te delg. Dit is skreiend onvolhoubaar.

Die besparing van R160 miljard wat Mboweni hoop om in vanjaar se begroting te bereik, is dus eintlik ook maar net ’n druppel aan die emmer van wat werklik nodig is. Suid-Afrika se rentelas beloop by die R1 miljard per dag.

’n Ligpunt in die begroting was dat Mboweni, anders as wat verwag is, nie persoonlike belastings verhoog het nie.

Dit beteken baie vir Suid-Afrikaanse huishoudings wat reeds onder groot finansiële druk is. Die verwagting is dat dit ekonomiese groei kan help aanwakker. Baie meer is egter nodig om ’n be­tekenisvolle uitwerking te hê.

Mboweni se begroting stuur ’n duidelike boodskap dat Ramaphosa nou gereed is om minder weifelend en meer beslissend te wees in sy besluite oor moeilike kwessies. Die president voel duidelik sekerder in sy posisie as ANC-leier. Dit is nie goeie nuus vir die Zuma-gesindes in die regerende party nie.

Dit is egter uitstekende nuus vir Ramaphosa se ondersteuners binne en buite die ANC. Die meeste Suid-Afrikaners wil graag hê dat Ramaphosa suksesvol moet wees en deel sy visie vir die land se toekoms.

Hulle sal gesamentlik hoop dat Mboweni se begroting die begin is van ’n oorwinning van lig oor die donker in ons politiek. Mag dit ’n voorloper wees van beter dae wat wag en nie ’n misleidende hersenskim nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  Henry Jeffreys  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.