Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beheerliggame moet hierdie balans verkry

Suid-Afrika se meer as 24 000 skole het in Maart en April nuwe beheerliggame verkies. By hoërskole word sewe ouers verkies asook twee onderwysers en een nie-kurrikulum-spesialis (KS), soos ’n sekretaresse of ’n opsigter. Vanweë sy posisie as bestuurder van die skool is die skoolhoof ex officio-lid van die beheerliggaam. By laerskole word vyf ouers, twee onderwysers en een nie-KS-opvoeder verkies, plus die skoolhoof. Die proses is afgehandel en nou lê die harde werk voor. In die volgende paar maande sal provinsiale onderwysdepartemente begin met die opleiding van nuwe skoolbeheerliggame.

Artikel 20 van die Suid-Afrikaanse Skolewet verwag van beheerliggame om belangrike besluite te neem oor die veiligheid van leerlinge, die voorkoms van die skoolterrein, skoolgeld en gehalte-onderrig. Om op ’n hoë vlak te funksioneer, vereis ingryping deur kundiges waaroor die skool nie noodwendig beskik nie. Deur betrokke te raak by die bestuur van jou kind se skool kan jy ’n verskil maak in die gemeenskap.

Spesialisfunksies

Die goeie nuus is dat individue gekoöpteer kan word om sekere spesialisfunksies in die beheerliggaam te verrig. Dit sluit in ’n prokureur om die beheerliggaam by te staan tydens dissiplinêre vergaderings of wanneer die skool in ’n hofgeding betrokke raak. Nog ’n belangrike funksie is finansies, wat te make het met begrotings, geldinsamelings en die deursigtige bestuur van skoolgeld. Daarom is dit ’n goeie idee om ’n rekenmeester te koöpteer.

Die beheerliggaam se primêre taak is die beheer van eksterne faktore en die bepaling van beleide wat die skool se administrasie rig, naamlik toelatingsbeleid, ’n gedragskode vir leerders, taalbeleid, die skool se missie en visie, aanstellings van onderwysers en ander personeel en die bepaling van skooldag-ure. Skoolhoofde kan dus nie willens en wetens die skool sluit nie. Ander funksies sluit in die vestiging van komitees vir finansies, geboue en terrein, dissipline, koshuise, bemarking, sport en kultuur. ’n Lid van ’n beheerliggaam moet te alle tye die voorsitter van so ’n komitee wees, maar dit kan aangevul word deur ouers en kenners wat waarde kan toevoeg.

Skool se regspersoon

Die beheerliggaam tree as die skool se regspersoon op. Kontrakte kan slegs deur die beheerliggaam aangegaan word nadat goedkeuring deur die departement verleen is. Die beheerfunksies moet nie verwar word met skoolbestuur nie. Daar is ’n fyn maar duidelike lyn tussen beheer en bestuur. Bestuur is die taak van die skoolhoof en sy bestuurspan wat bestaan uit adjunkte, departementshoofde en soms vakhoofde wat die beleide en opdragte van die beheerliggaam en die departement in werking moet stel.

’n Vertrouensverhouding tussen die skoolhoof en die beheerliggaam is onontbeerlik. Een van die onaangenaamste take vir my as kringbestuurder was om konflik tussen die skoolhoof en die beheerliggaam te besleg. Konflik is nadelig vir dienslewering. Daarom is ’n duidelike terreinafbakening tussen die twee partye ’n vereiste. Want as die beheerliggaam en die skoolhoof in harmonie saamwerk, is sukses gewaarborg.

  • Prof. Cordeur is hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Skole  |  Leerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.