Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Behoorlike geskiedskrywing só benader

Die afgelope week het hoor en sien om my vergaan, want ek was kniediep in doktorale proefskrifte. Ek begelei tans ’n doktorale student wat eersdaags sy proefskrif indien en nou in die laaste doodsnikke van die skryfproses verkeer. Terselfdertyd het ek ’n doktorale proefskrif van ’n ander universiteit nagesien en ’n eksamineringsverslag voorberei.

Lindie Koorts

Om die proses so van albei kante te beleef, het my opnuut waardering gegee vir die werk wat daar ingaan om nuwe, oorspronklike kennis van hoë gehalte te skep. Om te verstaan hóé kennis geskep word, is vir ons almal van belang, want dit stel ons in staat om die inligting te weeg waarmee ons daagliks gebombardeer word. Dit wissel van vakgebied tot vakgebied, maar die beginsels is breedweg dieselfde en kan ook op ons daaglikse omgang met kennis toegepas word.

Geskiedenis spesifiek is belangrik omdat dit ons begrip van ons samelewingsorde en van mekaar vorm en daardeur ook ons optrede in die hede. Historici het dus ’n verantwoordelikheid om noukeurige navorsing te doen, akkurate en gebalanseerde inligting te gee en vertolkings deeglik te begrond. Daar is ’n aantal maatstawwe waarvolgens dit gedoen word en waardeur ons verantwoordbaar gehou word.

Wanneer ek met ’n nuwe geskiedenisboek in die hande staan, kyk ek eerste na die bi­bliografie. My onmiddellike vraag is of die boek op primêre of sekondêre navorsing berus. Vir ’n historikus is primêre navorsing gegrond op argiefbronne en mondelinge onderhoude, terwyl sekondêre navorsing ’n samevatting is van bestaande publikasies. Primêre navorsing is die goudstandaard, want dit dui op oorspronklike stof wat nuwe kennis toevoeg. ’n Uitsondering is ’n sintese, soos Hermann Giliomee­ se magistrale Die Afrikaners: ’n Biografie, wat gepu­bliseerde navorsingsfragmente byeenbring om ’n geheelbeeld te vorm.

Feite wat voorafopgestelde idees nie staaf nie, mag nie geïgnoreer word nie.

Wanneer ek dan ’n boek lees, gaan ek die verwysings na. In die eindnotas lê ’n verhaal opgesluit oor hoe die navorsing aanmekaar gesit is, wat soms interessanter is as die verhaal self. Iedere feit moet gestaaf word, daar moet ’n groot verskeidenheid van bronne gebruik word en dit is belangrik om te sien of die skrywer krities teenoor die bronne was en hulle nie slegs op sigwaarde aanvaar het nie.

Dié praktyk noem ons bronnekritiek.

Vrae word gestel oor die oorsprong van die bron. Wie het byvoorbeeld ’n brief geskryf? Binne watter konteks? Met watter motiewe? Hoe vertolk ’n mens die brief in verwantskap tot ander dokumente? Wie het besluit watter dokumente bewaar moet word en watter dokumente is afwesig? Wat sou die motiewe daaragter wees?

Dan kom die historikus se eie vooroordele ter sprake. Daarvoor is daar ook meganismes ingestel en ’n goeie historikus streef na intellektuele eerlikheid. Ons eie konteks vorm die vrae wat ons stel, maar dit is belangrik om historiese figure in hul eie konteks te verstaan. Dit gaan daaroor om nie hedendaagse waardes op die verlede af te dwing nie, maar om terselfdertyd die uitwerking van historiese prosesse op ons hedendaagse samelewing te erken. ’n Historiese ingesteldheid behels sensitiwiteit in die hede én die verlede.

Feite wat voorafopgestelde idees nie staaf nie, mag nie geïgnoreer word nie. ’n Historikus mag ’n teoretiese raamwerk hê waardeur hy die verlede verduidelik en belig. Maar waar die bronne ’n ander verhaal vertel, moet die teoretiese raamwerk die knie buig.

En deurgaans hou historici mekaar verantwoordbaar. Ons werk word aan eweknie-beoordeling onderwerp, ons debatteer en ons daag mekaar uit. Ons skryf en herskryf. In dié smeltkroes word geskiedenis gevorm.

  • Dr. Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Geskiedenis  |  Skryf  |  Saterdag Brandpunt  |  Lindie Koorts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.