Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Behou kerkgeboue vir nageslag
Graaff-Reinet se NG Moedergemeente het ’n eiesoortige argitektoniese bydrae gelewer.

Doen ons genoeg om ons kerkgeboue te bewaar? Andries Bezuidenhout stel voor dat die Afrikaanssprekende burgerlike samelewing ’n fonds stig vir restourasiewerk en om kerke wat nie meer gebruik word nie, te bewaar. 

Baie van Suid-Afrika se pragtige kerkgeboue loop die gevaar om bouvallig te word en om gevolglik vir ewig vir die nageslag verlore te wees. Dis dalk deels die rede waarom daar deesdae soveel koffietafelboeke met kunsfoto’s van kerkgeboue gepubliseer word.

Benewens fotografie, doen ons genoeg om hierdie geboue te bewaar?

Kerkgeboue is immers ’n belangrike deel van ons landskap. Die eerste teken van ’n dorp op die horison is telkens ’n kerktoring, veral as ’n mens deur die Karoo ry.

Ek het onlangs by ’n Afrikaanssprekende Facebook-groep aangesluit waar mense foto’s van kerkgeboue publiseer, telkens met ’n bespreking van die gemeente se geskiedenis, of besonderhede oor die argitek van die gebou.

Tot my verbasing is daar bitter min teologiese of politieke debatte onder lede van die groep. Hulle deel eerder ’n belangstelling in kerkargitektuur. Daar is soms verskille oor of ’n gebou vir mense mooi of lelik is, veral as die modernistiese kerkgeboue van die 1960’s en 1970’s ter sprake kom.

Die Groote Kerk in Adderleystraat, Kaapstad. Dié kerk, gebou deur Herman Schutte in 1841, is Suid-Afrika se oudste aanbiddingsplek. Foto: Wikipedia

Waar, o waar, is die lidmate?

Wat my verder opval is die hoë vlakke van kommer wat oor die bewaring van baie van hierdie geboue uitgespreek word. Hierdie kommer hou veral verband met die drastiese afname in die aantal ingeskrewe lidmate van Afrikaans-gereformeerde kerke die afgelope twee dekades.

Die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) se lidmate het byvoorbeeld van 1,3 miljoen in 1990 tot net meer as ’n miljoen in 2010 verminder.

Die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) se lidmate het byvoorbeeld van 1,3 miljoen in 1990 tot net meer as ’n miljoen in 2010 verminder. Van 2011 tot 2013 het die NG Kerk ’n verdere 50 000 lidmate verloor. Die Gereformeerde Kerk het van 114 000 lidmate in 1990 tot 80 000 in 2010 gekrimp. Die Hervormde Kerk se lidmate het van 193 000 in 1990 tot 105 000 in 2010 verminder.

Daar is al baie navorsing oor die redes vir hierdie inkrimping van lidmaat-getalle gedoen. Verklarings hiervoor hou verband met sekularisering, emigrasie, die daling in wit Afrikaanssprekendes se fertiliteitskoers, kompetisie van charismatiese kerkgroeperinge, asook die feit dat die NG Kerk se invloed oor die toekenning van staatsdiensposte verdwyn het.

Die daling in die lidmaatgetalle van tradisioneel wit Afrikaanse kerke maak dat die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, met haar sowat 1,2 miljoen lidmate, nou die grootste oorwegend Afrikaanstalige kerk in die gereformeerde tradisie is.

Die feit dat daar min vordering op gemeenskapsvlak is om kerkeenheid te bewerkstellig maak dat gemeentes telkens te klein word om kerkgeboue in stand te hou en selfs om voltydse leraars te kan bekostig.

Die Hervormde kerk in Elim.

‘Dominee, ek voel skuldig’

Dis natuurlik nie net Afrikaans-gereformeerde kerke wat onder druk is nie. ’n Opname deur WIN-Gallup International het bevind dat die proporsie Suid-Afrikaners wat hulself as gelowig beskryf van 83% in 2005 tot 64% in 2012 afgeneem het.

Teoloë het natuurlik ander bronne gebruik om hierdie bevinding in twyfel te trek, maar die feit bly staan dat ’n hele aantal tradisionele kerke in Suid-Afrika onder druk is.

’n Jong diaken van Brandvlei se NG Kerk het tydens ’n navorsingsondersoek na die stand van plattelandse gemeentes die volgende gesê: “Dominee, ek voel die hele tyd skuldig. Ek voel skuldig dat ons kerk so leeg is en agteruitgaan en ek voel skuldig dat ek my geld gee vir die instandhouding van geboue as daar soveel ander nood om ons is. Ons het veel sinvoller kerk in ’n groot sitkamer.”

Dieselfde studie oor plattelandse NG gemeentes deur Jurgens Hendriks van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit teologie het getoon dat tipiese plattelandse kerkbanke slegs 10% beset word en dat slegs sowat 40% van kerkbanke vol sou wees as die hele gemeente ’n erediens sou bywoon.

Gemeentes word derhalwe te klein om groot, historiese kerkgeboue te onderhou.

Geestelike ruimte wat van mag gestroop is

Dis nie net Suid-Afrika wat met hierdie bewaringstameletjie sit nie. As gevolg van hoë vlakke van sekularisering in Europa is talle ou katedrale sonder aktiewe gemeentes.

Tydens my besoek aan die Notre Dame in Parys was dit vir my onthutsend dat daar meer toeriste in die katedraal was as die mense wat aan die mis deelgeneem het.

As ’n mens aan die gruwels dink wat deur die eens magtige kerk in Europa gepleeg is (oorlog, hekseverbranding, regverdiging van anti-Semitisme, ens.), maak die feit dat die kerk nou so magteloos is tog dat die gebou weer ’n tipe bekoring kry – ’n mens kan dit opnuut as geestelike ruimte wat van mag gestroop is waardeer.

’n Kombinasie van ’n inkomste uit toerisme (toegangsgeld en skenkings), asook die feit dat baie Europese lande nog kerkbelasting het, maak dat hierdie geboue nietemin bewaar word.

Van my Europese kollegas betaal steeds kerkbelasting, al is hulle nie gelowig nie, bloot omdat hulle voel dat die histories-kulturele erfenis van hul tradisie bewaar moet word. Christelike argitektuur en musiek kan tog deur enigiemand waardeer word – dink maar aan Bach se verruklike Mattheuspassie.

Toerisme as inkomstebron sou seker beter in die Suid-Afrikaanse konteks ontgin kon word.

Toerisme as inkomstebron sou seker beter in die Suid-Afrikaanse konteks ontgin kon word. Van Suid-Afrika se mooiste kerkgeboue is op plekke soos Elim, Wupperthal en Goedverwacht – die ou sendingstasies waarheen slawe kon vlug toe hulle in die 1800’s vrygestel is.

Baie van hierdie ouer geboue is nasionale gedenkwaardighede en daar is die potensiaal om ’n aanvullende inkomstebron uit toerisme te ontgin.

Daar is Suid-Afrikaanse kerkgeboue wat van minder historiese belang is, maar wat steeds argitektoniese waarde inhou en wat waarskynlik nooit ’n groot aantal toeriste sal lok nie.

Andries Bezuidenhout voor A.P.S Conradie se kerk by Op-die-Berg in die Koue Bokkeveld. Op-die-Berg is ’n besonderse elegante ontwerpsgesprek met die Amerikaanse modernistiese argitek Frank Lloyd Wright.Foto: Karien du Plessis

Ek dink nou aan die NG Kerkgebou by Op-die-Berg in die Koue Bokkeveld wat deur A.P.S Conradie ontwerp is. Conradie was ook vir kerkgeboue in Cradock en Malmesbury verantwoordelik, maar die kerk by Op-die-Berg is ’n besonderse elegante ontwerpsgesprek met die Amerikaanse modernistiese argitek Frank Lloyd Wright.

Die kerk is in die laat 1960’s gebou en die boerderygemeente het nie ’n tekort aan geld gehad nie. Conradie het materiale soos klip en hout gebruik om ’n warm gevoel aan die gebou te gee – dis ’n rare voorbeeld van modernistiese argitektuur wat met ’n landskap in gesprek tree. Die houtsneewerk getuig van besonderse vakmanskap.

Enigiemand met ’n basiese kennis en aanvoeling vir modernistiese argitektuur sal van die gebou hou – dis ’n stukkie kosmopolitiese sofistikasie in ’n landelike omgewing.

Hoe kan ons kerke bewaar?

Met my mees onlangse besoek was hierdie kerk in ’n redelike goeie toestand. ’n Mens kan nie help om nogtans bekommerd te wees nie, veral as jy lidmaat-getaltendense oor die langer duur in ag neem.

Wat kan ’n mens doen om hierdie bewaringsprobleem die hoof te bied?

Dis onwaarskynlik dat Suid-Afrika kerkbelasting sal instel, of dat die staat enige belangstelling sal toon in die bewaring van kerkgeboue uit die Afrikaans-gereformeerde tradisie. Van die ouer sendingkerke is dalk ’n uitsondering, maar ek voorsien nie noemenswaardige waardering vir hierdie geskiedenis onder die nuwe generasie swart nasionaliste nie.

Ons kan ook nie van kerkstrukture verwag om volle verantwoordelikheid vir erfenisbewaring te aanvaar nie – veral nie as ’n mens in ag neem dat baie gemeentes nie eers meer hul dominees kan bekostig nie.

Ek sou wou voorstel dat die Afrikaanssprekende burgerlike samelewing ’n tipe fonds stig om bystand te bied aan restourasiewerk en om kerke wat nie meer gebruik word nie, te bewaar.

Ek sou graag tot so ’n fonds wou bydra, veral omdat ek nie ’n ingeskrewe lid van ’n kerk is nie, maar steeds die argitektoniese erfenis van hierdie deel van my geskiedenis sou wou help koester.

Daar is Suid-Afrikaanse sakelui wat ongelooflike werk doen om ons historiese erfenis op te pas – ek dink nou aan die Ruperts se rol in plekke soos Graaff-Reinet en Stellenbosch. Daar sou dalk soortgelyke belangstelling uit sakegeledere wees om die argitektoniese erfenis van kerkgeboue ook te help bewaar.

Die kerkgebou in Goedverwacht, ’n ou sendingstasies waarheen slawe kon vlug toe hulle in die 1800’s vrygestel is.Foto: Andries Bezuidenhout
Cradock se NG Moedergemeente.Foto: Andries Bezuidenhout
Die kerk in Genadendal, die eerste sendingstasie in Suider-Afrika.

Eiesoortige argitektoniese bydrae

’n Mens sou ook aksies kon begin om kerke wat nie meer vir dienste gebruik word nie vir nuwe gebruike aan te pas en sodoende te bewaar.

Hiervoor is daar historiese voorbeelde wat ’n mens kan noem. Ná die 1950’s het baie van die Jode die platteland verlaat, deels omdat Afrikanernasionaliste Engels uit dubbelmediumskole verwyder het.

Van die sinagoges het in onbruik verval en het bouvallig geraak, maar daar is ook gevalle waar van hierdie geboue suksesvol in dorpsmuseums omskep is – Calvinia is ’n voorbeeld hiervan.

’n Mens sou ook die punt kon maak dat dit nie net Afrikaans-gereformeerde kerke is wat bewaar moet word nie. Ek skryf hier vanuit ’n subjektiewe posisie, deels oor my eie geskiedenis, maar ook omdat ek dink dat hierdie tradisie ’n eiesoortige argitektoniese bydrae gelewer het:

Die Groote Kerk in Kaapstad, die sendingkerke van Genadendal en Elim, die neo-klassieke tradisie van Cradock en Graaff-Reinet se NG Moedergemeentes, Moerdyk se Art Deco kerke, tot die modernisme van die 1960s en 1970s.

 * Dr. Andries Bezuidenhout is ’n sosioloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Kerke  |  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.