Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bekgeveg: Tim en Max pak mekaar oor studente
Max du Preez is ’n "oupa uit ’n vergane era" en kan nie vandag se studente voorskryf nie, het Tim du Plessis verlede week geskryf. Hier antwoord Du Preez en sê Du Plessis se reaksie herinner hom aan die retoriek van die 1980’s.

Tim: 'Ons omies en oupas moet spaarsaam wees met raad'

Spare a thought vir Afrikaanssprekende studente op Suid-Afrika se beleërde kampusse. Nie net is hulle aan die ontvangkant van onverdiende aggressie net omdat hulle Afrikaans is nie. Hulle word ook met onuitstaanbare hovaardigheid vermaan en berispe oor hul reaksie op dit wat om hulle gebeur.

Max du Preez het hulle dié week (in sy rubriek) aangeraai om wat hy genoem het die “omies van AfriForum” van die kampusse te verjaag wanneer dié opdaag om Afrikaanssprekende studente te ondersteun in plofbare situasies. Asof ’n oupa uit ’n vergane era die beste weet vir vandag se kinders.

Max se advies aan hulle is so reg uit sy en my era. “Gaan praat met die swart studente wat so ongelukkig is. Vra hulle om te verduidelik wat die wortel is van hul wilde woede. Verduidelik self hoekom julle so aanstoot neem en gesels oor wat gedoen kan word om harmonie te herstel.

“Ek glo dit sal die wind uit hul seile neem,” verklaar Max.

Mooi woorde, geneem uit die mond van ’n Nelson Mandela, Beyers Naudé en Desmond Tutu. Behalwe net, dis nie die taal wat vandag op kampusse gepraat word nie. Dis analoog. Vandag praat hulle digitaal.

Die oproermakers en hul EFF-aanhitsers wat die anargie op die kampusse veroorsaak, verwerp die skikking waarvan Mandela, Tutu en Naudé die vroedmeesters was.

Dis naïef om te glo dít sal die huidige anargie stuit.
Tim du Plessis

Hulle het daardie figure as verraaiers gebrandmerk. Dié nuwe garde van vredestydse revolusionêre sê hul missie is om wraak te neem namens hul eens verdrukte ouers wat saam met Mandela en Kie. en my en Max se generasie “uitverkoop” het.

Hoe voer jy ’n redelike gesprek met mense wat dit in hulle het om ’n hele administrasieblok af te brand?

Talle wit en Afrikaanssprekende studente voer al jare lank presies hierdie begripsoekende dialoë met swart medestudente. Die kampusse is nie sedert gister en eergister geïntegreer nie.

Dis egter naïef om te glo dít sal die huidige anargie stuit.

Ons omies en oupas sonder kinders op die kampusse moet maar spaarsaam wees met raad en kritiek.

Dié week sê ’n ma met ’n dogter op ’n ver kampus vir my: “Het jy enige idee hoe magteloos jy voel as jou kind histeries van vrees oor die telefoon vir jou sê sy is te bang om haar koshuiskamer te verlaat?”

As daardie ma moet luister na Max en ander wat so jag maak op AfriForum, moet sy vir die kind sê: “Ek is ver en kan jou nie nou help nie. Maar ongeag wat gebeur, jaag net vir Afri-Forum weg as hulle vir jou tydelike huisvesting buite die koshuis wil reël.”

Hoe dink hulle werk mense se kop?

AfriForum val nie in almal se smaak nie, ook nie in myne nie. Maar ek kan glad nie begryp waarom sekere mense so meedoënloos daarop uit is om Solidariteit en AfriForum te demoniseer nie. Pieter du Toit, nuushoof van Netwerk24, skryf dié week oor die kampusgeweld en bestempel AfriForum as “die ander kant van die geweldsmuntstuk”. Op dieselfde voet dus as mense wat ’n admingebou, ’n rektor se kantoor, talle motors en busse aan die brand gesteek het?

Sak, Sarel.

In Pretoria het ’n groepie obskure dosente – kwalik “senior akademici”, soos een berig hulle bewierook het – AfriForum die alleenskuld gegee vir die geweld op die Tukkie-kampus.

Ongeag oorvloedige bewyse van geweldpleging deur die anti-Afrikaanse protesmakers besluit dié selfaangestelde boendoehof – wat hulself die “University of Pretoria Academics for Change (Upac)” noem – AfriForum het die geweld “aangehits”.

Gelukkig hoef niemand hulle aan Upac te steur nie. Presies tien mense het die verklaring onderteken – die meeste wit. Hulle hoop seker maar hul poginkie sal onthou word die dag as die universiteite begin om op groot skaal wit dosente deur swart dosente te vervang, soos wat hul anargistiese studentevriende eis.

Woede oor die huidige wanorde op kampusse moet gerig word aan net twee adresse: Die ANC-regering, wie se versuime in die breë samelewing die ideale teelaarde vir gewelddadige protes geskep het. En aan die lamsakkige universiteitsbesture wat heel in die begin gedink het hulle sal dié ding stuit deur toe te gee en te paai.

Max: 'Afriforum versterk elke vooroordeel teen Afrikaners'

Ek is nie ’n lid van Solidariteit of AfriForum nie. Ek het nie vir hulle in ’n verkiesing gestem nie en nêrens vir hulle ’n mandaat gegee om namens my te praat of op te tree nie. My visie vir ’n ideale samelewing in Suid-Afrika is ligjare van hulle s’n verwyder.

En tog bevind ons ons vandag in die situasie waar Solidariteit en AfriForum namens Afrikaners praat. Die meeste Afrikaners stem in verkiesings vir die DA saam met baie anderstaliges, maar as ’n etniese groep is Solidariteit en AfriForum nou kwansuis ons outentieke spreekbuis. En ons kan hulle nie uitstem of ’n mosie van wantroue in hulle stel nie.

Dit is natuurlik die resultaat van Flip Buys, Dirk Hermann en Kallie Kriel se eie slim strategie en maneuvrering, maar dit word aangehelp deur openbare persoonlikhede soos die oudredakteur Tim du Plessis en ander wat ’n mens sou dink buite die AfriForum-dampkring hoort.

Onthou die destydse storie van Engelssprekendes wat Prog gestem het en die Liewe Vader vir die Nasionale Party bedank het? Dit smaak my sommige van ons vooraanstaande Afrikanerfigure praat deesdae DA, maar dank die Vader vir AfriForum, eintlik tog ’n VF+-stalmaat.

Tussen 19 en 23 Februarie vanjaar het studente van AfriForum Jeug herhaaldelik op twee kampusse by gewelddadige konfrontasies met swart betogers betrokke geraak. Baie van ons het asem opgehou terwyl ons na videobeelde van geweld tussen wit en swart gekyk het. Wat sou gebeur het as een van die betogers op Shimlapark gesterf het nadat van die wit studente hom herhaaldelik teen die kop geskop het? Ek sidder. Nóg ’n Hector Pieterson.

Die volgende oomblik sit Flip Buys en Kallie Kriel om ’n onderhandelingstafel met die regerende party en praat hulle namens Afrikaners. As hul studente nie gewelddadig opgetree het nie, sou dit nie gebeur het nie.

Dit was uiters gevaarlike, roekelose brinkmanship om politieke invloed te bekom.

Een video bly my by: Op ­ 22 Februarie het ’n groep wit manstudente bymekaar ingehaak en ’n muur gevorm om betogende EFF-studente te verplig om ’n ompad te volg – nee, hulle het niks “beskerm” nie.

AfriForum se adjunkhoof, Cornelius Jansen van Rensburg, al baie jare lank nie meer ’n student nie, het soos ’n sersant-majoor voor hulle op en af geloop en bevele uitgeblaf om in formasie vooruit te beweeg. (Terloops, Jansen van Rensburg is ’n ou regse, só regs dat die VF+ hom in 2009 as jeugleier geskors het.)

Ek het toe ’n stuk op Facebook geskryf waarin ek gepleit het dat wit studente hulle van fisieke konfrontasie moet weerhou, want dit kan net tot meer haat teenoor die klein wit Afrikaanse minderheid lei.

Letterlik honderde mense het my virtueel trompop geloop en ek was verras deur die kruheid, aggressie en erg lae vlak van redenering. Byna niemand het my beroep op vreedsame metodes aangeroer nie, net strooipoppe opgestel en afgeskiet en my persoonlik aangeval.

Natuurlik het nieprotesterende studente die reg om te studeer en veilig te voel.
Max du Preez

En toe lees ek Tim du Plessis se rubriek in verlede Sondag se Rapport en ek verstaan dit effens beter. As ons Afrikaanse meningsvormers op dié vlak redeneer, hoekom nie die gewone mense nie?

Ek is ’n “oupa”, skryf hy, wat kwalik vir studente kan raadgee of hulle soort taal kan praat (ek dink Du Plessis is drie jaar jonger as ek). Ek neem maar aan hy het nie geweet ek het self nog ’n kind op universiteit en noue bande met drie universiteite nie.
Soos internet-trolle graag doen, is ’n verdraaiing ook nie benede Du Plessis nie. Ek vra studente moet AfriForum-leiers wegwys wat hulle wil laat “teenstand bied”, maar Du Plessis lees iets anders. As hy my raad moes volg, skryf hy, moet hy nou vir ’n bekommerde ma van ’n student sê: “Jaag net vir AfriForum weg as hulle vir jou tydelike huisvesting wil reël.” Strooipop.

Ek vra die Afrikaanse studente moet eerder probeer om met kwaai swart studente te gesels en oplossings te vind.

Du Plessis se reaksie herinner my aan die retoriek van die 1980’s. “Hoe voer jy ’n redelike gesprek met mense wat dit in hulle het om ’n hele administrasieblok af te brand?” vra hy. (Ja, “mense wat dit in hulle het”.)

Maar die afbrand het nie op die Tuks-kampus nie, maar op die NWU se (byna heeltemal swart) Mahikeng-kampus gebeur waar ’n gans ander dinamika heers.

En Maandagaand sit die EFF-studenteleier op Tuks, Kabelo Mahlobogwane – Klein Satan homself wat dit net “in hom het” om af te brand – mooitjies in Waldimar Pelser se kykNET-ateljee en voer ’n redelike gesprek. Die EFF is net teen ’n kultuur op kampus wat hulle ontuis laat voel, sê hy.

Du Plessis se skrywe is net relevant omdat dit ’n groter tendens weerspieël. Ek het nooit en sou nooit anders gedoen het nie as om die rassisme, onverdraagsaamheid, geweld en anti-Afrikaanse agenda van elemente van die studentebeweging ten sterkste af te keur. Natuurlik het nieprotesterende studente die reg om te studeer en veilig te voel.

Maar ons durf nie alle swart ontevredenes summier oor dié kam skeer of die historiese en maatskaplike konteks van swart onvergenoegdheid ignoreer nie.

AfriForum se magsvertoon en kragdadigheid versterk elke vooroordeel wat teen Afrikaners (en Afrikaans) geld en wakker net meer antiwit sentiment aan.

Dit is dwaas om ons Afrikaners wéér as ’n afsonderlike groep buite die res van Suid-Afrika te laat definieer. Dít is wat ons doen as ons AfriForum toelaat of die mandaat gee om namens ons te praat. Ons moet die sentrum versterk, nie die middelpuntvliedende kragte nie.

 * Max du Preez is ’n vryskutjoernalis en politieke kommentator.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier