Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Belang om land se erfenis te bewaar

Erfenisterreine oor die land heen verskil in hul belangrikheid. Tog is dít van spesiale belang vir Suid-Afrikaners dat die nasionale bates beskerm moet word, skryf Raymond Willemse

Flo Bird, adjunkvoorsitter van die Johannesburgse Erfenisstigting, sê erfenis gaan nie oor ’n landmerk of gebou wat “oud” is nie, maar die betekenis wat dit vir mense het.

“Voor 1994 was ons dalk nie groot bewonderaars van die Uniegebou, voor oudpres. Nelson Mandela se inhuldiging, nie. Maar wie kan vandag die skouspel van sy inhuldiging vergeet en die betekenis daarvan vir ’n nuwe demokratiese Suid-Afrika?”

Rooksana Omar, hoof van die Iziko-museums van Suid-Afrika, sê elke erfenisterrein beteken iets anders – nie net vir die individu nie, maar ook die gemeenskap. “Elkeen het sy eie storie en hoe dit inpas in ons geskiedenis en ons hede.”

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument in Pretoria, sê daar moet baie meer gedoen word om mense bewus te maak van die rol wat erfenis speel.

“Dit voed op, dit stimuleer navorsing, dit bou ’n nasie se identiteit, dit leer ons van die verskillende kulture in ons land en om meer respek vir mekaar te hê.”

Die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) in die PaarlFoto: Christo la Grange

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) in die Paarl, sê hul visie is om Afrikaans te bevorder binne die konteks van ’n multikulturele samelewing.

“Voorts strewe ons na die welstand van Afrikaans en poog voortdurend om wedersydse re­spek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bevorder deur onder meer die invloed van die tale op mekaar te erken. Die museum en monument dien ook as ’n bymekaarkomplek vir Afrikaanssprekendes om opvoeding, musiek, literatuur, prettige taalwerksessies en mekaar se samesyn te waardeer en geniet.”

Dink vernuwend

Daar moet voortaan vernuwend gedink word oor hoe hierdie terreine bestuur moet word.

Bird sê erfenisbewaring moet ’n prioriteit wees en benadruk die Covid-19-pandemie bedreig die voortbestaan van talle erfenisterreine.

“Museums het geen inkomste gehad nie, dus is Lindfield House­ in Auckland Park, Johannesburg, in ’n ernstige nood. Ek is seker daar is baie meer in die land wat tans sukkel. In Parktown is ons ’n bietjie gelukkig dat baie van ons erfenisgeboue aangepas het vir nuwe gebruike en dit kan oorleef danksy kommersiële huurders.”

Prof. Andries Raath, visevoorsitter van die Nasionale Vrouemonumentkommissie in Bloemfontein, waarsku ’n fout wat sommige erfenisterreine begaan, is om alleenlik staat te maak op hekgeld.

“Moenie toeriste of jou besoekersgetalle as die grootste by­draende ekonomiese faktor beskou nie. Sommige van die strukture is in ’n omgewing waar daar nie ’n groot deurvloei van besoekers is nie. Jou hekgeld moet ’n bykomende neseier vir jou wees. Dit moenie jou hoofinkomste wees nie, veral nie as ’n pandemie jou tref nie.”

Almal moet inspring om die terreine te bewaar.

Jonas sê in ’n ideale wêreld sou die bewaring van erfenisterreine die verantwoordelikheid van die staat, erfenissektor, private inisiatiewe, private sektor en die publiek wees.

“Strategiese vennootskappe tussen die groepe is baie belangrik om die suksesvolle bewaring van erfenisterreine te verseker.”

Die Voortrekkermonument buite Pretoria.Foto: LISA HNATOWICZ

Volgens Raath kan die staat net soveel op homself neem.

“Nie al die strukture het presies dieselfde uitdagings nie en daarom moet die bestuur van erfenisterreine behoorlik hul koppe kraak om finansiële uitdagings trompop te loop.”

Een van die erfenisterreine wat vernuwend oor sy inkomste dink, is die Voortrekkermonument. Toe die monument se besoekerstalle vanjaar gedaal het weens die inperking, het hulle met die plan vorendag gekom om die monument “stukkie vir stukkie te verkoop”.

Kruger sê dié veldtog was baie suksesvol en hulle is vreeslik dankbaar vir Suid-Afrikaners – van oor die hele wêreld heen wat die monument ondersteun het.

“Ons het daarin geslaag om meer as R1,5 miljoen van die bykans R6 miljoen wat ons kort om te ‘oorleef’, bymekaar te maak. Vandeesmaand betree die veldtog ’n nuwe fase, waar die verskillende historiese figure op die bekende marmerfries ‘verkoop’ gaan word.”

Kruger sê verder beoog hulle ook om familiebonde en erfenisorganisasies te nader om hul “voorsate” of ’n stukkie kultuurgeskiedenis te koop.

Die “sake” van erfenis

Goeie bestuur speel ook ’n belangrike rol vir die voortbestaan van die terreine.

Bird sê soms laat die raad van trustees wat na die plekke moet omsien, die terreine in die steek.

Jonas sê by die ATM is die bestuur die laaste paar maande genoop om skeppende wyses te vind om kontak met hul kliënte te behou en onverpoos dienste te lewer.

Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein.Foto: Jens Friis

“In die afwesigheid van fisieke kontak en toegang tot ons terreine bied die ATM onder meer virtuele toere van die museum en monument aan. ’n Virtuele toer van die Groen Galery-uitstalling kan ook aanlyn besigtig word. As deel van ons kommunikasiestrategie is verskeie kompetisies ook gehou. Ons sit ons programme vir die publiek voort deur webinare en virtuele optredes aan te bied.”

Volgens Kruger is daar ’n sameloop van verskeie faktore wat daartoe lei dat sommige erfenisterreine sukkel.

“Ongelukkig is museums tradisioneel nie regtig ingestel op ‘sake’ nie en is erfenisbewaring ook nie juis ’n saak wat lewensnoodsaaklik is nie.

“Hoe slegter dit met die ekonomie gaan, hoe minder aftrek kry dié soort instellings.

“Vir staatsbeheerde museums en erfenisterreine wat subsidies ontvang, ongeag of daar besoekers is of nie, is dit nie altyd noodwendig ’n krisis nie.”

Kruger sê vir private mu­seums en erfenisinstellings, soos die Voortrekkermonument, is minder besoekers wel ’n groot krisis.

“Ons inkomste word hoofsaaklik deur plaaslike en oorsese besoekers, die restaurant en geskenkwinkels gegenereer. Nou moet ons aan ander maniere dink om voort te bestaan. Ongelukkig is daar soms ook korrupsie en wanbestuur wat by gesubsidieerde instellings ’n rol speel. ’n Ander groot faktor wat die instellings benadeel, is dat die opvoedkundige waarde van mu­seums en erfenisterreine nie genoeg beklemtoon word nie.”

Een terrein, baie funksies

“Om museums aantreklik vir besoekers te maak, beteken hulle moet hul uitstallings en ander produkte modern en interessant hou. Dis baie duur.”

Jonas sê ’n erfenisinstelling wat sukkel, pas dikwels nie aan by die eise van die tyd, die veranderde omgewing en die behoeftes van sy gebruikers nie.

“Wat gister relevant of aktueel was, hou nie noodwendig vandag dieselfde waarde of betekenis nie.

“Instellings moet voortdurend marknavorsing doen, hul herposisioneer en vernuwende strategieë bedink om te kan oorleef en nuwe gehore te kan lok.”

Omar beklemtoon ook die belang van innoverende denkwyse.

“Die terreine moet relevant gehou word. Ons kan nie meer die plekke gebruik vir een doel nie. Ons moet saamwerk met meer kreatiewe vennote en die plekke gebruik om die sake van die dag te belig – ­hetsy dit is om ’n menseregtelesing aan te bied of ’n groep digters of kunstenaars te onthaal en terselfdertyd die terrein só blootstelling te gee.”

Raymond Willemse
Raymond Willemse

Kruger sê buiten hul toegangstarief, verhuur hulle ook die Voortrekkermonument se geriewe vir konserte en geleenthede.

“Ons maandelikse nagtoere van die monument is baie gewild. Ons het opvoedkundige programme vir leerlinge wat die skoolkurrikulum aanvul en van tyd tot tyd bied ons spesiale natuurpraatjies aan.”

Dit is wys om burgerlike ondersteuningsgroepe te betrek, is Raath se raad.

“Om kaartjies te verkoop is nie die ideaal nie. Die ideaal is om ’n beroep op die burgerlike samelewing te doen dat hulle elkeen na hul vermoë ’n bydrae tot hul erfenis kan lewer.”

Raath sê die rol van weldoeners moenie geringskat word nie.

“Ons kry nie finansiering van die staat nie. Ons het ’n vriende-komponent – dis deurslaggewend. Jy kan nie erfenisstrukture in stand hou sonder dat jy die mense wat saam met die struktuur leef, op die een of ander manier betrek om met die instandhouding by te dra nie. Vriende-organisasies het baie belangrik geword, juis omdat daar nie meer op die staat se bystand gereken kan word nie.”

Kruger sê daar is landwyd nasionale museums wat 100% deur die departement van sport, kuns en kultuur gefinansier word.

“Daar is ook enkele provinsiale museums wat weer deur die provinsies gefinansier moet word en dan is daar in die meeste dorpe en stede ook plaaslike museums waarvoor die stadsrade aanspreeklikheid moet aanvaar.”

Kruger sê die Dagbreek-trust lewer ’n groot bydrae tot die Voortrekkermonument se basiese bedryfskoste.

“Die Rupert Historiese Huise-stigting help ons met spesifieke bewaringsprojekte.

“Die Vriende van die Monument betaal ook jaarliks hul ledegeld en het ‘gratis’ toegang tot die terrein. Hulle ontvang ook ’n nuusbrief en word na spesiale geleenthede genooi. Elke bietjie help ons om te oorleef. Ons fokus nou ook op besparingsprojekte, soos water, krag en veiligheid, wat van ons grootste uitgawes is.

“Ons is ook besig met ’n sonpaneel-projek, wat hopelik ook groot maandelikse besparings teweegbring.”

Jonas sê die ATM ontvang jaarliks ’n subsidie om agentskapsdienste namens die departement van sport, kuns en kultuur te lewer en is veronderstel om die nasionale mandaat te vervul.

“Die ATM genereer tussen 20% en 30% van sy eie geld deur skenkings, toegangsgeld, die aanbied van openbare programme soos slypkskole, musiekkonserte en die viering van spesiale geleenthede. Met die ekstra geld tot ons beskikking kan die ATM ons nasionale mandaat vervul en gee meer toegang aan gebruikers tot ons geriewe en dienste.”

Bird sê soms moet hulle ’n ophef maak sodat die publiek en die regering bewus kan wees van die bewaring van erfenisterreine en die belangrikheid daarvan.

“As ’n vrywillige organisasie kan ons nie altyd die kwessies in die howe beveg nie. Daarom kerm en kla ons sodat dit die nodige aandag geniet.”

Raath sluit af dat die pandemie twee belangrike dinge vir almal geleer het.

“Daar kan onvoorsiene gebeurtenisse opduik wat jou dag-tot-dag-inkomste kan afsny. Daar behoort voorsiening gemaak te word op ’n meer deurlopende basis van finansiering, ook uit ander bronne as net jou besoekersgetalle.”

* Willemse is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Bates  |  Beskerm  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.