Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beleggers spits hul ore vir andersoortige orgie

Staatskaping was ’n “orgie van bedrog en korrupsie”, het Jacques Pauw verlede week in Hermanus gesê. MC Botha vertel meer.

Die uitsig oor Hermanus se gholfbaan vanaf die berg bokant die dorp. Foto: MC Botha

Jaarliks nooi PSG Wealth in Hermanus al sy plaaslike kliënte uit na ’n soort deftige, maar tog informele geselligheid – die pas afgelope byeenkoms het plaasgevind in die klubhuis van die Hermanus Gholfklub.

Die uitgelese gehoor word elke jaar gewoonlik deur die een of ander grootkop toegespreek – Jannie Mouton, Ton Vosloo, Max du Preez. Verlede jaar se gasspreker was die politieke kommentator en skrywer Justice Malala, en vir eens was dit verfrissend om ’n swart gesig in die vertrek te sien, in vergelyking met al die wit olifante waaraan ons mettertyd gewoond geraak het.

Iets wat Malala toe gesê het in die hoop om aanwesiges te oortuig dat Suid-Afrika nie tot in sy kern verrot is nie, was: “In Turkye vandag is daar 204 Jacques Pauws in die tronk.”

Ons moet weer hoop vir ons land terugeis.

Nou ja, verlede Donderdag het die gaste hulle in Hermanus bevind en nie Istanbul nie, want dit was inderdaad Jacques Pauw wat die room van plaaslike witmonopoliekapitaal kom toespreek het.

Pauw se mees onlangse boek, The President’s Keepers, het ’n politieke tsoenami in die kleine veroorsaak danksy die blootlê van onreëlmatighede wat tot staatskaping gelei het. “ ’n Orgie van bedrog en korrupsie,” deel hy nou heel prettig die gehoor mee.

Sonder om te skroom noem hy figure soos Jacob Zuma, Tom Moyane en Shaun Abrahams “sotte” en “idiote”. Malusi Gigaba word egter vir ’n spesiale ampsnaam uitgesonder: The Wanker. Die gelag het skaars bedaar of Pauw voeg by dat almal dankbaar moet wees vir die verloop van gebeure – nie rakende Gigaba se speelgoed onder die belt nie – maar vir die feit dat hy verlede jaar dié tyd nog die minister van finansies was.

Hopelik sal die huidige minister van finansies, Tito Mboweni, sy privaat dele vir minstens ’n jaar privaat hou, sodat volgende jaar se gasspreker nie na hom ook in die verlede tyd hoef te verwys nie.

MC Botha

Verlede jaar het Malala nog gesê, “Ons het Zuma onderskat, hy is ’n wenner en bly steeds een,” nou sê Pauw egter met groot genoegdoening: “Zuma het hoegenaamd geen mag meer nie.”

Pauw sê hy was verbaas toe die vorige direkteur-generaal van staatsveiligheid en Zuma se lakei, Arthur Fraser – wat behoorlik in die boek ontbloot word – hom ’n ultimatum gegee het om binne vier dae van die boek se verskyning alle verkope te staak. In die derde industriële revolusie waarin ons ons nou bevind, is vier dae ’n baie lang tyd, genoeg om derduisende eksemplare van die rakke te laat vlieg.

Intussen het Moyane R1 miljoen van belastingbetalers se geld gebruik om SAID-regsadviseurs mee te betaal om getuienis in die boek te probeer vind om die skrywer vir laster te dagvaar.

“Fraser en Moyane was my ideale reklame-agente,” verkondig Pauw met ’n breë glimlag, net soos daardie man wat al die pad bank toe lag.

Soos die gesegde in mediakringe lui: “Die een se dood is die ander se brood.”

In vraetyd ná sy 90-minute toespraak sê Pauw hy is 100% seker (“absolutely sure”) dat die ANC nié produktiewe plase sal onteien nie.

Oor Ramaphosa: “Ek hou van hom, maar ek vertrou hom nie.”

Ter afsluiting op die allerlaaste vraag huldig Pauw hierdie mening: “Mense het hoop verloor – dis waarom die ANC steun verloor het. Ons moet weer hoop vir ons land terugeis.”

Agter die volmaak versorgde skoonvelde buite die klubhuis sak die son in al sy glorie, terwyl die gaste ooplê na tafels wat kreun onder net die beste spys en drank.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus bly. Dié rubriek het oorspronklik in Engels in Hermanus Times verskyn. 

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacques Pauw  |  Mc Botha  |  Malusi Gigaba  |  Tito Mboweni  |  Hermanus  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.