Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
België gee Afrikaans ’n kans

’n Groot deurbraak is vir Afrikaans aan die Universiteit van Gent in België gemaak, skryf Wannie Carstens en Yves T’Sjoen.

Prof. Hein Willemse, eerste bekleër van die Suid-Afrikaanse leerstoel aan die Universiteit van Gent.

Op Dinsdag 10 Oktober om 15:00 sal prof. Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria se departement Afrikaans die intreerede lewer om die leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij in die fakulteit lettere en wysbegeerte aan die Universiteit van Gent in België formeel te vestig.

Hiermee word hy die eerste bekleër van die nuwe leerstoel – in die geledere van die Universiteit van Gent word dit ’n “historische moment” genoem.

En dit is wat dit inderdaad is: die resultaat van samewerking deur rolspelers uit die Lae Lande en die Suid-Afrikaanse omgewing.

Want terwyl die druk op Afrikaans in Suid-Afrika self opbou, word in die buiteland ’n nuwe deur vir Afrikaans oopgemaak. Dít aan ’n universiteit wat onder die topuniversiteite in die wêreld tel, terwyl ons eie topuniversiteite die deur vir Afrikaans begin toemaak – die Universiteit van Pretoria, die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Johannesburg. Daar is ’n gesonde stuk ironie hieraan verbonde. In die buiteland word die behoefte groter as in die eie land!

Afgesien aan Gent word Afrikaans ook aan etlike ander universiteite in Europa en die VSA as vak aangebied.

Prof. Margriet van der Waal het prof. Ena Jansen as hoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam opgevolg en sy beklee vanaf September vanjaar hierdie pos (wat reeds sedert die 1930’s bestaan). In Antwerpen word kursusse in Afrikaanse taal en letterkunde al sedert 2006 op ’n vaste grondslag aangebied, in Leiden alreeds sedert die 1990’s, in Wene al sedert die vroeë 2000’s.

Kursusse in Afrikaans word ook aangebied aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles in Amerika, die Moskouse Staatsuniversiteit en die Universiteit van Poznan in Pole. En in Oktober vanjaar gaan prof. Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent in Tsjeggië ’n kursus in die Afrikaanse letterkunde aanbied.

Dit alles is voorafgegaan deur ’n jaarlikse seminaarreeks wat tot 2008 onder leiding van prof. Luc Renders in Hasselt, België, aangebied is – en belangstellendes het hierheen gestroom om te kom hoor wat Afrikaans bied.

Om ’n leerstoel tot stand te laat kom, is nie maklik nie.

Die leerstoel is die resultaat van ’n behoefte aan groter vastigheid in die studie van Afrikaans en Suid-Afrika aan die Universiteit van Gent. Die Afrikaanse taal- en letterkunde word reeds etlike jare as vak aan die universiteit gedoseer, maar om dit meer statuur te gee en ook die uitbreiding van die vak mee te bring, was ’n senior pos – soos ’n leerstoel – nodig, wat die betrokkenheid van Suid-Afrikaanse akademici verseker.

Om ’n leerstoel tot stand te laat kom, is nie maklik nie. Daarom moes die inisieerders van die leerstoelprojek (die Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika in samewerking met rolspelers in Suid-Afrika) deeglik huiswerk en voorbereiding doen.

Eers moes die behoefte verwoord word (nie net taal- en letterkunde nie, maar ook die geskiedenis en kultuur van Suid-Afrika, uitdagings rakende die meertalige konteks in die land), die aard van die pos moes uitgeklaar word (’n gasleerstoel waarvolgens ’n Suid-Afrikaanse akademikus jaarliks ’n tydperk van drie maande aan die Universiteit van Gent sal deurbring en kursusse sal doseer, by navorsing betrokke sal raak en dit ook sal inisieer).

Hier kom dus ’n geleentheid vir Afrikaans. Laat ons opgewonde hieroor wees!

Daarna moes via die strukture van die universiteit goedkeuring verkry word om die pos te kan instel, en toe dit eers geskied het, moes finansiering verkry word om volhoubaarheid te kan verseker.

Danksy welwillende finansiers in Suid-Afrika, Vlaandere en Nederland – soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse Taalraad, die Fonds Neerlandistiek, AfriForum, ’n welwillende private finansier in Suid-Afrika, asook die Vlaamse regering (ja! – in teenstelling met die Suid-Afrikaanse regering se houding teenoor Afrikaans), die Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland (Amsterdam), die Algemeen Nederlands Verbond en De Vlaams-Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting – kon die nodige finansiering verkry word om die pos vir minstens vyf jaar te kan bekostig.

En hiermee is Afrikaans nou amptelik in ’n leerstoel in Vlaandere, die eerste sodanige een buite Nederland, gevestig.

Die nuus oor die leerstoel aan die Universiteit van Gent word daarom met trots en vreugde versprei omdat dit die eerste leerstoel in aspekte van Afrikaans in Vlaandere is.

Die plegtige inhuldiging word die volgende dag opgevolg met die vierde jaarlikse “colloquium over het Afrikaans” wat bygewoon sal word deur verskeie akademici uit Suid-Afrika en elders in Europa.

Dit alles word voorafgegaan deur ’n simposium – gekoppel aan die week van die Afrikaanse roman – op 6 Oktober in Gent oor die Afrikaanse letterkunde. Vooraanstaande Suid-Afrikaanse letterkundiges sal deelneem.

Meer as 50 studente registreer jaarliks vir die akademiese kursusse in Afrikaans aan die universiteit en dit word deur personeellede verbonde aan die universiteit aangebied. Aangesien die leerstoel ook ander tale as Afrikaans betrek, word nuwe perspektiewe op meertaligheid in Suid-Afrika moontlik gemaak. En dit skep weer nuwe geleenthede vir navorsing oor onder meer tale, kultuur en geskiedenis in ’n meertalige konteks saam met akademici in die Lae Lande. Die kontakte met ander universiteite in die Lae Lande, soos Antwerpen, Leiden en Amsterdam, sal bydra tot die skep van ’n interuniversitêre netwerk gemik op die studie van Suid-Afrikaanse tale, literatuur, kultuur en geskiedenis vanuit ’n Europese perspektief. Dit dra reeds by tot ’n toename in studente wat hul skripsies oor onderwerpe uit die Afrikaanse leefwêreld onderneem en daarna verdere studie in Suid-Afrika self wil onderneem.

Hier kom dus ’n geleentheid vir Afrikaans. Laat ons opgewonde hieroor wees!

  • Prof. Wannie Carstens is van die Noordwes-Universiteit en prof. Yves T’Sjoen van die Universiteit van Gent.
Meer oor:  Afrikaans  |  Deurbraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.