Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Belhar wys wat gesonde moraliteit is

Vandeesweek is die Belydenis van Belhar amptelik 30 jaar oud.

Hierdie belydenis se aanhef, drie artikels en slot demonstreer watter soort godsdiens en moraliteit goeie nuus vir die samelewing is. Afrika is die mees godsdienstige kontinent ter wêreld. Juis op hierdie kontinent waar godsdiens gasvryheid in alle lewensverbande geniet, het ons die wonderlike geleentheid om heilsame godsdiens en moraliteit te beoefen. Heilsame godsdiens bevorder menswaardigheid en die waardigheid van die natuur.

In sy aanhef beklemtoon Belhar dat mense deur die Here geroep, versamel en beskerm word. Godsdienstige ruimtes is dus ruimtes van menswaardigheid in die gestaltes van doelgerigtheid, saamwees en geborgenheid.

Artikel 1 leer dat godsdienstige geloof te midde van verskeidenheid en ten spyte van geskeidenheid en vyandigheid momentum gee aan ’n menswaardige lewe van sosiale kohesie, sosiale solidariteit en die bou van sosiale kapitaal. Sosiale solidariteit laat ons sê dat as een lid ly, ly al die lede saam; as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Sosiale kapitaal verwys na ons verhoudinge, verbintenisse, akkoorde, sosiale kontrakte, vennootskappe, netwerke, wat ons saam toerus vir ’n lewe van menswaardigheid.

Artikel 2 leer dat mense nie van nature onversoenbaar is nie, maar dat veronregting en diskriminasie wat mense van mekaar vervreem, oorkom word. Dit leer dat vergifnis die weg baan vir ’n menswaardige lewe van belydenis, berou, boetvaardigheid, bekering, versoening, reparasie, restitusie en herstellende geregtigheid.

Artikel 3 leer dat God in ’n situasie van onreg op ’n besondere wyse die God is van die arme, die veronregte en die noodlydende. Uitgestotenes, onderdruktes, weerloses, broses, wese, weduwees, wewenaars en vreemdelinge geniet God se aandag op besonderse wyse. Die Peruaanse teoloog Gustavo Gutiérrez skryf oor ’n lewe van menswaardigheid en redeneer dat noodlydendes nie God se eksklusiewe aandag geniet nie, maar wel God se primêre aandag.

Die slot van Belhar beklemtoon dat ’n lewe van menswaardigheid bestaan in die geborgenheid en kalmte wat ons ervaar omdat ons weet die magte van hierdie wêreld het nie die laaste sê nie, maar wel die Here wat op die troon sit. En menswaardigheid bestaan in ’n lewe van absolute lojaliteit en vreugdevolle gehoorsaamheid aan die Here op die troon!

Godsdienstige geloof wat menswaardigheid in verskillende gestaltes bevorder, is broodnodig in Afrika en wêreldwyd. Belhar help ons om godsdienstige en morele oortuigings en praktyke te bestry wat nie die toets van menswaardigheid slaag nie.

Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.