Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beloftes maak skuld, President
Christo van der Rheede

Dis ’n jaar later, en weer tyd vir die president se staatsrede. Met die vorige een het hy heelwat ondernemings gegee en beloftes gemaak. Is dit intussen verwesenlik, of het dit soos mis voor die son verdwyn?

As ’n aartsoptimis klou ek verbete aan die belofte van ’n nuwe daeraad. Suid-Afrika het dit bitter nodig. Maar heelwat water het intussen in die see geloop en dis tyd vir ’n bestekopname.

In die vorige staatsrede het pres. Cyril Ramaphosa dié prioriteite uitgelig: ekonomiese transformasie en werkskepping; onderwys en vaardighede; gesondheidsorg; betroubare basiese dienslewering van gehalte; ruimtelike integrasie, menslike nedersettings en plaaslike regering; maatskaplike samehorigheid en veilige gemeenskappe; die opbou van ’n bekwame, etiese staat; en ’n beter Afrika en wêreld.

Hier fokus ek slegs op vier hiervan: ekonomiese transformasie; werkskepping; onderwys; en basiese dienslewering van goeie gehalte. Dit lê die grondslag vir die verwesenliking van die res van die ondernemings.

Wat ekonomiese transformasie betref, lyk die vooruitsigte nie goed nie.

Die Wêreldbank was die eerste sleutelinstelling wat sy ekonomiese groeivooruitsigte vir Suid-Afrika vir vanjaar tot onder 1% verlaag het. Die Wêreldbank sê ook die BBP-groei vir 2021-’22 sal sowat 1,4% wees. Dit is as Ramaphosa se administrasie nie strukturele hervorming prioritiseer en groter beleidsekerheid teweegbring nie en as die openbare en private sektor nie in die ekonomie belê nie.

Wat werkskepping betref, staan die werkloosheidskoers op 29%.

Wat werkskepping betref, staan die werkloosheidskoers op 29%. Volgens Statistieke Suid-Afrika het werkloosheid die afgelope jaar toegeneem. In ’n onlangse verslag, “Ten Million and Rising”, uitgereik deur die Centre for Development and Enterprise, het die getal mense wat wou werk, maar nie ’n werk kon kry nie óf wat opgehou het om werk te soek, van 6,5 miljoen in 2008 tot 10,3 miljoen in 2019 gestyg.

Daar word genoem dat 1 700 volwassenes elke dag by die arbeidsmark aansluit, maar dat minder as ’n derde, net 500, van hulle werk kry.

Die situasie vir jongmense van 15 tot 34 jaar is ’n groter krisis. Van 2008 tot 2019 het hul getalle met 2,2 miljoen toegeneem, maar dié wat ’n werk kon kry, het met meer as 500 000 gedaal. Beleid wat werkskepping ondermyn, is die probleem.

Wat onderwys betref, heers ook kommer oor vordering.

Wat onderwys betref, heers ook kommer oor vordering. Die leesbegrip-prestasie van Suid-Afrikaanse leerlinge is buitengewoon swak. Dit het ’n impak op hul skolastiese vertoning, asook die getal leerlinge wat matriek slaag en kritieke vakke soos rekeningkunde, ekonomie, wetenskap en wiskunde neem.

Volgens ’n verslag oor die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen het die getal matrikulante wat hul matriekeksamen geskryf het, van 644 536 in 2015 tot 504 303 in 2019 gedaal. Van die 972 255 kinders wat in 2009 in gr. 2 was, het slegs 409 906 matriek in 2019 geslaag. Volgens die syfers staan die ware slaagsyfer op 42,2%.

Wat dienslewering betref, het die finansiële toestand van munisipaliteite oor die land heen versleg. Volgens die ouditeur-generaal het die munisipaliteite met ’n skoon oudit van 14% tot 8% verlede jaar gedaal.

Dit het ’n wesenlike impak op dienslewering.

Wat die 2020-staatsrede gaan behels, dit weet ek nie. Maar die president skuld ons antwoorde oor waarom hy nie daarin kon slaag om sy ondernemings oor die ekonomie, werkloosheid, onderwys en basiese dienslewering kon gestand doen nie.

Ook wat die beloofde sneltrein en slim stad betref!

Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Staatsrede  |  Staatspresident  |  Skuld  |  Beloftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.