Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Belydenis van die liefde: ‘I kin ye, Bonnie Bee’
Wilhelm Jordaan

Die woord inflasie se gangbare betekenis is dat dit die waardevermindering van geld beduie. Ons is almal die slagoffers daarvan. Maar woorde self word inflasionêr gebruik en dit dui op die “waardevermindering” van die betekenis van woorde. En ons slagofferskap is subtiel maar werklik.

Iets hiervan word beskryf in Lina Spies se gedig “Belydenis” oor die taal van die liefde: “Hoe sal ek sê dat ek jou liefhet / sonder beeldspraak en retorika? / Die woorde tussen mense kom en gaan / met so min erns in die spel.”

Oupa Wales, die half-Indiaan in Forrest Carter se boek The Education of Little Tree gaan akkoord. Hy sê die wêreld ly aan te veel woorde. Daarom sê hy aan sy kleinseun, Little Tree, jy moet die klank – die hóé van iemand se woorde – begryp om betekenis te snap. Dis hoe oupa Wales en sy vrou, Bonnie Bee, met mekaar praat. As oupa Wales dan sê: “I kin ye, Bonnie Bee” het hy bedóél: “Ek het jou lief.” En dit was genoeg vir hom en haar.

Maar in besete inflasionêre taaldrif glo mense soms om in alle eenvoud te sê: “Ek het jou lief” is nie genoeg nie. Soos dit prettig gebeur in Edmond Rostand se versdrama Cyrano de Bergerac én in die fliekweergawes Roxanne en Cyrano.

Christian en Cyrano is verlief op die allermooie Roxane. Die aantreklike Christian is ietwat van ’n stommerik en is volledig onbeholpe met liefdestaal. “Ek het jou lief,” sê Christian vir Roxane. “Ja, praat met my oor die liefde,” sê Roxane gretig en blosend. En hy herhaal terstond: “Ek het jou lief.”

Jy het jou tema. Dis ék vir wie jy lief is! Improviseer! Rapsodieer!

Half vererg en teleurgesteld spoor sy hom aan: “Wees tog ’n bietjie welsprekend. Jy het jou tema. Dis ék vir wie jy lief is! Improviseer! Rapsodieer!” Waarop Christian sy hart volledig uitstort: “Ek het jou baie lief!”

Dié skameltaal geval Roxane nie. Later in haar kamer hoor sy hoe Christian buite met haar praat. “Is dit weer jy?” sê sy grimmig. Maar sonder dat sy dit weet, is dit die onaantreklike, maar taalbedrewe Cyrano wat saggies vir Christian voorsê:

“Ja, al daardie woorde. Soos bloeisels. Ek gooi hulle na jou, arms vol blomme, arms vol vreugde! My geliefde, ek het jou lief – verby die lewensadem, verby die rede, verby die krag van die liefde self! Jou naam is soos ’n klokkespel wat in my hart hang; en as ek aan jou dink, dan bewe ek. En dan weerklink jou naam: Roxane! Roxane!”

“Hou aan! Hou aan!” roep sy. Want dié oorvloed van woorde oortuig haar van Christian se groot liefde – terwyl dit eintlik Cyrano is vir wie sy lief behoort te hê.

Saai ek hiermee verdenking oor poëtiese seggings oor liefhê? Nee, stellig nie.Wat ek sê, is dat die gebruik van baie beeldryke woorde, maar sonder die bedoeling en opregtheid van oupa Wales se “I kin ye, Bonnie Bee”, dalk te min brandhout vir ’n durende liefdesvuur verskaf. Liefhê word dan net nog ’n vorm van verbruik, ’n inflasionêre weggooiding as die eens verklaarde liefde nie meer na jou smaak is nie.

  • Jordaan is ’n emeritusprofessor in sielkunde.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Smagting  |  Romanse  |  Liefde  |  Troetel  |  Liefwees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.