Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beoordeel die media eerder só
Leopold Scholtz

Vanuit verregse kringe hoor ’n mens gereeld aanklagte teen die “hoofstroommedia” wat só lieg en bedrieg dat jy byna niks van hulle kan glo nie. Dié aanklag is niks nuuts nie. Die Nazi’s in Duitsland en die Kommuniste in die ou tsaristiese Rusland het dit al lank voor die huidige regses verkondig.

Die doel is nie hier om die hoofstroommedia heilig te verklaar nie. Veral twee sake is hier relevant.

Eerstens: Ek is al sedert 1972 by die joernalistiek betrokke, en kon duidelik sien hoe die gehalte van die koerante die laaste dekade of twee gedaal het.

Dit kan hoofsaaklik aan uitgewers se oordrewe klem op wins (pleks van diens) as fundamentele vertrekpunt toegeskryf word.

Senior (duur) werknemers is dikwels deur goedkoper beginners vervang, en in die proses het die lewensnoodsaak­like oordrag van vaardighede na die juniors aansienlik skade gely.

Die tweede aspek is dat elke blad – of dit nou ’n papier- of digitale produk is – ’n bepaalde politieke filosofie het. Net soos elke enkele individu – ja, ook jý wat nou hier sit en lees – die werklikheid deur ’n bepaalde prinsipiële of ideologiese bril bekyk, is dit ook met die nuusmedia die geval.

Dis die geval met die hoofstroom­media, maar ook met die nuwe (regse én linkse) populistiese media wat die hoofstroom uitdaag. Dit was nog altyd so, en dit sal altyd so bly.

Wat eenvoudig beteken dat die leser verskillende media moet volg as hy die werklikheid wil verstaan en hom nie bloot in sy eie linkse of regse eggo­kamer wil toesluit nie.

Twee gebeurtenisse vandeesweek steun bogenoemde uiteensetting.

Die eerste is dat News24, Media24 se digitale nuusdiens, beweerde bedenklike samewerking tussen die Gupta-familie en MultiChoice onthul het.

Die eerste is dat News24, Media24 se digitale nuusdiens, beweerde bedenklike samewerking tussen die Gupta-familie en MultiChoice onthul het.

Wat dít des te gedenkwaardiger maak, is dat News24 en MultiChoice albei aan Naspers behoort.

Ek stem dikwels nie saam met die politieke rigting wat News24 voorstaan nie. Maar dié onthulling het morele moed en professionele integriteit geverg, en die News24-span verdien krediet daarvoor.

Die tweede gebeurtenis is ’n onthulling in The Washington Post.

Die agtergrond is dat die Republikeinse Party se ekstreem-regse kandidaat in die tussentydse verkiesing vir die senaat in Alabama, Roy Moore, deur verskeie vroue van seksuele teistering (die een was maar 14 toe dit na bewering gebeur het) aangekla is.

Moore ontken dit, en dus het die regs-populistiese Breitbart News verslaggewers na Alabama gestuur om enigiets uit te grawe wat die vroue se verhale ondermyn. Maar dit het nie daarby gebly nie.

Volgens The Washington Post is sy redaksie genader deur ’n vrou wat ook Moore van seksuele teistering beskuldig. Die bewerings is ondersoek en as onwaar bevind.

Dit blyk toe sy is deel van ’n regs-ekstremistiese organisasie bekend as Projek Veritas, ’n organisasie wat glo spesialiseer in die diskreditering van die “liberale” media en instansies. Dit was blykbaar ’n bedrog- spul om twyfel oor die aanklagte teen Moore te saai.

Dié koerant is een van die weinige in Amerika wat besluit het om nie op personeelkoste te besnoei nie. Jy kan van die koerant se liberale aanslag sê wat jy wil, maar hy is nog nie dikwels op flagrante leuens betrap nie.

Wat wys dat ’n mens nie sito-sito teen die hoofstroommedia te kere kan gaan nie. Ek is die laaste wat hulle tot elke prys sal verdedig, maar sónder hulle sou die Guptas se staatskaping in Suid-Afrika sonder slag of stoot geslaag het. Dink bietjie dáároor na.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Joernaliste  |  Naspers  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.