Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beroepspolitici, kuberboelies vernietig drome
Ivor Price

Hulle sê die skoolterrein is ’n spieëlbeeld van die samelewing en die onderwyser in wese bloot ’n weerligafleier in ’n land wat lank reeds mal geword het. Hier, in die gekkeparadys, is ons onderwysers deesdae soveel meer as net die skeepskapteine wat ’n nuwe geslag moet help om onbekende waters veilig binne te vaar.

Hulle is benewens opvoeders ook vredemakers, bemiddelaars en denkleiers – en van hulle verwag ons om kultureel sensitief en polities verhewe te wees. Dit is ’n ondankbare werk waar jy nie net elke dag ’n magdom papierwerk moet trotseer nie, maar ook holderstebolder klaskamers. Geweld en uittarting deur leerlinge is lank nie meer die uitsondering op die reël nie. Dit ís die reël.

Nou is ons onderwysers toenemend ook die teiken van sosialemedia-boelies en beroepspolitici; hulle wat nie juis veel tot die verbetering van ons land bydra nie, maar eerder dag ná dag op hul slimfone soek na die volgende teiken om te verskree en intimideer. Hulle jag in groepe. Gewetenloos, die hele blerrie spul, en rus nie totdat jy met jou binnegoed, loopbaan en selfbeeld in jou eie hande staan nie.

In die laaste paar jaar was daar soveel verskillende voorbeelde én lesse wat ons eenvoudig nooit geleer het nie.

In die laaste paar jaar was daar soveel verskillende voorbeelde én lesse wat ons eenvoudig nooit geleer het nie.

Dink maar aan die nimmereindigende stroom tienerkuberboelies wat dikwels nie rus totdat die ergste gebeur het nie.

Selfs onrusbarender is die grootmensboelies, wat in ’n voortdurende dodedans met rassehaat en politiekery gewikkel is. Hulle het die uitsonderlike vermoë ontwikkel om in net 280 Twitter-karakters en langer Facebook-plasings vreemdelinge se lewe en drome te vernietig. Vir hulle staan niks in die pad van ’n goeie storie nie – nie eens die feite nie.

Selfs onrusbarender is die grootmensboelies, wat in ’n voortdurende dodedans met rassehaat en politiekery gewikkel is.

Die grootmensboelies wat weer in die Laerskool Schweizer-Reneke-herrie hul tande gewys het, drink ’n toksiese mengsel van rassisme en politieke en ekonomiese marginalisering. Die ware feite oor die foto waarop wit en swart leerlinge apart in ’n gr. R- klas sit, sal sekerlik in die formele ondersoek uitkom. Maar intussen lê ’n waarskynlik onskuldige juffrou se drome aan skerwe, is die skool ’n politieke speelbal én staan die kleingoed wat andersins nasiebouers kon wees skielik verdag teenoor mekaar.

Toe ek self ’n kind was, het ek nooit regtig daaraan gedink nie. Nou besef ek eers die besonderse rol wat my eie onderwysers in die tyd van die 1994-oorgang na demokrasie gespeel het. Hulle het dit nooit aan die groot klok gehang nie, maar dit tog naatloos reggekry om kinders van uiteenlopende rasse- en ekonomiese agtergronde en denkraamwerke saam te snoer. Ja, daar is heelwat vrot appels in die onderwys, soos met enige beroep, maar die meeste is roepingsgedrewe en nogal lojaal.

Dalk word ek later deur die feite verkeerd bewys, maar ek glo in my hart die onderwyseres wou werklik net die beste vir elke leerling in haar sorg hê. Dit is nie ’n maklike taak om kinders in hul vormingsjare te onderrig nie en beslis ook nie om kinders saam te snoer wat waarskynlik vir die eerste keer in hul lewe die rassebrug oorgesteek het nie.

Price is ’n TV-aanbieder, skrywer en sosiale entrepreneur.

Meer oor:  Ivor Price  |  Klaskamer  |  Politici  |  Rassisme  |  Rasseherrie  |  Leerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.