Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Besef opnuut die waarde van waardes

Waar ’n kultuur van korrupsie, morele verwarring en etiese verdwaaldheid bestaan, is dit belangrik om die waarde van waardes opnuut te verstaan.

Waardes verrig verskillende funksies: Dit sê wat voorrang behoort te geniet, asook iets oor ons identiteit, oor dít waarmee ons graag identifiseer, oor wie ons ten diepste wil wees. Dis ’n weerspieëling van ons drome en ideale, van die soort lewe en samelewing wat ons begeer.

Waardes wil beliggaam word. Dan praat ons van persoonlike deugde, openbare deugde, burgerlike deugde.

Deugde beteken waardes word gewoontes, intuïsies, neigings, tendense, predisposisies. Deugde, as beliggaamde waardes, beteken ons doen die goeie sonder om daaroor te besin. Dit kom intuïtief.

Waardes het ook met karakter te make – dit beteken waardes is by ons ingegraveer. Waardes rig ons besluite en gedrag, ons beleide en praktyke. Dis soos die pilare van ’n brug. Reëls is soos die reëlings van die brug wat ons help om op die pilare te bly en ons goeie oogmerke veilig te bereik.

In die Bybel word van koninkrykswaardes gepraat soos geregtigheid, vrede en vreugde (Romeine 14:17). Die Grondwet omarm waardes soos menswaardigheid, heling, geregtigheid, vryheid en gelykheid.

Dit kan uiteindelik die gelaat van ons samelewing verander as individue en instellings saamwerk om ’n waardegedrewe samelewing te bou.

Verskillende instellings stel waardes op – by die Universiteit Stellenbosch omarm ons waardes soos uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid. Dit kan uiteindelik die gelaat van ons samelewing verander as individue en instellings saamwerk om ’n waardegedrewe samelewing te bou.

Hoe hunker ons nie almal na ’n land, vasteland en wêreld waar almal na uitnemendheid streef en waar middelmatigheid wat tot euwels soos power dienslewering lei, eenvoudig nie geduld word nie.

Ons hunker na ’n samelewing waar deernis beliggaming vind; waar daar ’n einde kom aan geweld en wreedheid; waar ons op deernisvolle wyse geregtigheid soek; waar ons nie op die hande trap van hulle wat onder ons op die leer klim nie; en waar ons weet op elke mens is geskryf: “Breekbaar. Hanteer versigtig.”

Ons dors na ’n samelewing van verantwoordbaarheid, openheid, deursigtigheid en verantwoordelikheid wat meebring dat ons almal mekaar help om ons onderskeie mandate in belang van veral die mees brose in die samele-wing na te kom.

Ons smag na ’n samelewing waar daar re­spek is vir lewe, waarheid, mens en natuur.

Ons hunker na ’n kultuur van respek, weer dink, weer besin, weer aandag skenk en met eerbied optree. En ons soek na ’n samelewing waar daar billikheid, ewewig en ekwilibrium is, waar almal regverdige geleenthede kry en waar party nie te veel en ander te min het nie.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.