Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Besin oor die opening van skole vir 2021

Ons staan aan die vooraand van ’n baie uitdagende skooljaar.

Ons het almal geweet dat ’n tweede golf van infeksies op pad is. Met die ver­worwe kennis van die impak wat die virus het op die skoolomgewing, kon onderwysowerhede vroegtydig beplan vir 2021. Niemand het egter voorsien dat die tweede golf so omvangryk en dodelik sou wees nie.

Daar bestaan groot kommer oor die stygende getal infeksies en sterftes onder onderwysers. Net in Gauteng is 32 onderwysers in een week dood. Volgens die Son het die Wes-Kaap die afgelope twee weke 78 onderwysers verloor en nog 573 veg tans om hul lewe. Landwyd is 1 659 onderwysers reeds aan die virus dood. Vrese bestaan dat daar ’n tekort aan onderwysers sal wees as die skooljaar begin.

Gister het 45 000 onderwysers begin met die nasien van miljoene matriekvraestelle. Uit ondervinding weet ek dat die nasiensentrums dig bevolk is. As nasieners skielik siek word en sommige nasieners uit vrees vir Covid-19 nie opdaag nie, is nog ’n krisis op hande.

Tydens die piek van die eerste golf is skole in Julie en Augustus ’n maand lank gesluit toe infeksies met 140 000 toegeneem het. Die afgelope maand is ’n nuwe piek bereik. Toe die president op 5 Desember verskerpte inperkings­regulasies ingestel het, was daar 44 084 infeksies. Daar is nou byna 170 00 aktiewe gevalle in die land. Veral KwaZulu-Natal (60 355), die Wes-Kaap (40 943) en Gauteng (32 235) se infeksies is kommerwekkend. Kan skole in hierdie drie provinsies op 25 Januarie heropen?

Een vakbond het reeds aangedui dat hulle nie die nuwe jaar met dieselfde gevegte van 2020 wil begin nie.

Vanjaar sal die meeste skole steeds die beginsel moet volg waar leerlinge op alternatiewe dae skool sal bywoon. Een vakbond het reeds aangedui dat hulle nie die nuwe jaar met dieselfde gevegte van 2020 wil begin nie.

Is alle skole gereed vir die tweede golf? Het alle leerlinge (minstens twee) maskers? Beskik alle skole oor lopende water en voldoende sanitasiegeriewe indien leerlinge en onderwysers siek raak?

Is daar vordering gemaak om meer skole, veral op die platteland en in die townships, toegang te gee tot aanlyn klasse? Is die minister nog opgewasse vir haar taak?

Kinders moet in die skool wees, maar kan ons met vrymoedigheid sê dat alle leerlinge en onderwysers veilig sal wees as skole heropen?

Kinders moet in die skool wees, maar kan ons met vrymoedigheid sê dat alle leerlinge en onderwysers veilig sal wees as skole heropen? Dit blyk nou dat kinders ook siek word en selfs sterf in die tweede golf.

As nog onderwysers siek word of sterf, kan ons ’n uittog van onderwysers sien wat die onderwysstelsel kan lamlê. Daarom moet besin word oor die heropening van skole op 25 Januarie.

Onderwysers en gesondheidswerkers was die helde van 2020. Daarvoor eer en bedank ons hulle. Ongelukkig sal onderwysers se taak in 2021 nie minder uitdagend wees nie. Mag die lesse wat verlede jaar geleer is, oplossings bied vir vanjaar se uitdagings. Sterkte!

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die US se departement kurrikulumstudie.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Onderwys  |  Covid-19  |  Skole  |  Gesondheid  |  Vakbonde  |  Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.