Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beskawing op spel oor geweld
Prof. Anton van Niekerk

Geweld en moord is buite beheer in Suid-Afrika. In 2018 is Hannah Cornelius – ’n skrander student wat in my klasse gesit het – op ’n onvoorstelbaar wreedaardige manier verkrag en vermoor.

Onlangs is Tool Wessels in ’n oomblik op sy plaas te Bonnievale gefusilleer. Sy vrou, Liezel, het die aanval oorleef, maar is gemartel deurdat kookwater oor haar lyf gegooi is.

Naby Stellenbosch is Stefan Smit die jongste slagoffer. Hy het ’n lang, skynbaar vrugtelose stryd gevoer om onwettige plakkers van sy grond verwyder te kry; grond wat reeds in 1896 deur sy voorsate gekóóp en nie gevat is nie.

In Kaapstad is 180 treinwaens die afgelope vyf jaar weens brandstigting vernietig, teen ’n koste van R500 miljoen. Daar is ook ’n vlaag van aanvalle op groot vragmotors wat uitgebrand word. Christopher Kgomo is in so ’n aanval dood.

Wat is hier aan die gang? Om te praat van ’n volskaalse “volksmoord op wit mense” is kennelik hiperboliese onsin. Volksmoorde het plaasgevind onder die Nazi’s, in Biafra en in Rwanda en Burundi – ervarings wat baie ver verwyderd is van ons s’n. En wit mense is lank nie die enigste slagoffers van wat tans gebeur nie. Oderick Lucas, Stacey-Lee Adams en Courtney Peters is al drie jong kinders wat wreed op die Kaapse Vlakte verkrag en vermoor is.

Maar te veel van wat hier gebeur, wek die indruk van sinlose, onverklaarbare geweld.

Maar as dit gesê is, verander dit niks aan die feit dat ons op die oomblik ’n orgie van obsene geweld beleef nie. Dis een ding om te wil steel weens jou eie armoede, en soms speel roof ’n rol in hierdie dade. Maar te veel van wat hier gebeur, wek die indruk van sinlose, onverklaarbare geweld.

Die moord op Winnie Rust van Wellington is ’n voorbeeld. Hier is ’n vrou wat presies gedoen het wat goedgesindes sê bevoorregte mense in die nuwe Suid-Afrika behoort te doen: Neem ’n jongmens met potensiaal onder jou vlerk, skep vir hom geleenthede in die lewe. Tog het hy en sy oom omgedraai en haar binne ’n oogwink vermoor.

Is ’n irrasionele, roekelose vernietigingsug hier werksaam? Wat ons wel behoort te vrees, is ’n skrikwekkende brutalisering van ons samelewing – vorme van veragtelike geweld waarin die boodskap al hoe duideliker word: Die lewe van ’n mens het sy waarde verloor. Die ergste is die afstomping van hierdie gewaarwording onder baie van ons.

Wat sit hieragter? Ek wens ek weet. Is wat ons sien die sigbare gevolge van die radeloosheid van werkloosheid? Maar waarom is die oorgrote meerderheid van werkloses dan nie so gewelddadig nie? Sien ons die finale uitwerking van geweldstigtende dwelms in die samelewing? Tog: Nie alle geweldenaars gebruik tik of heroïen nie.

Sien ons miskien die uiteindelike gevolge van ’n maatskaplike stelsel van radikale ongelykheid? Veroorsaak armoede en ongelykheid geweld? Moontlik. Maar wat ons sien, is veral die verlies van respek vir en verantwoordelikheid teenoor die samelewing se vernaamste waardes: menswaardigheid en menslike lewe.

Dis ten diepste ’n waardekrisis. Dit sal verander moet word. So nie kan hierdie geweldsorgie die begin wees van ’n afbreek van die reste van ’n burgerlike bewussyn, ’n terugkeer na Thomas Hobbes se “oorlog van almal teen almal”, waarin mense dreig om vir ander mense soos wolwe te word.

Gelukkig het ons nog media en ’n doeltreffende regstelsel wat gebeure blootlê en teen oortreders optree. Daar móét dringender as ooit saamgewerk word om hierdie kanker aan bande te lê. Vir Alfred North Whitehead is beskawing “the victory of persuasion over force”. Daar lê enorme uitdagings ten opsigte van sodanige oorreding vir ons voor. Ons beskawing is immers op die spel.

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Misdaad  |  Rooftog  |  Geweld  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.