Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beskerm jou erflating, Cyril

Daar heers ’n ernstige wanopvatting oor die demokrasie en die beginsels van ons grondwetlike regstaat wat adj.pres. Cyril Ramaphosa vanuit sy nuutverworwe magsposisie in Luthuli-huis sal moet regstel.

Ter sprake is die idee dat die hof nie aan die regerende party of die regering kan voorskryf nie. Die gonswoord wat in dié geledere baie gewild geraak het om ’n hofbeslissing te beskryf waarmee ’n bepaalde faksie nie sou saamstem nie, is “judicial overreach”.

In dié logika (en Dawie gebruik die term baie losweg) is die howe en regters byvoorbeeld bloot lastige lawaaimakers omdat hulle aangestel word – en nie deur die meerderheid van die mense in die land verkies is nie. Hierteenoor is die ANC-regering wel deur die meerderheid verkies.

Hoe kan ’n onverkose regter dan aan Zuma en sy regering voorskryf?

Maar uiteraard het die demokratiese ideaal nie net te make met die vraag wie moet regeer nie, maar ook hóé geregeer word. Onder watter wigte en teenwigte moet geregeer word? Hoe word die burgery teen arbitrêre magsuitoefening beskerm?

Sulke komplekse vrae, waaroor die Grondwet rigting gee en wat ten diepste met die gehalte van die demokrasie te make het, is vir Zuma en sy binnekring van min belang.

Dit is ook opmerklik dat Zuma se weersin in die onafhanklikheid van die howe groei namate die howe toenemend sy en sy kornuite se brouwerk moet regmaak. En terwyl mense soos Zuma dikwels in antidemokratiese taal oor die howe praat, is ’n verskeidenheid van regstruuks ironies genoeg juis een van die instrumente wat hy graag aanwend om te verhinder dat hy sy veelbesproke dag in die hof kry.

Sy weersin in die onafhanklikheid van die howe en sy gepaardgaande bereidwilligheid om die regstelsel vir selfbehoud te misbruik, word aangevul deur die aanblaas van ’n populistiese sentiment teen die Grondwet.

Zuma het byvoorbeeld al self verklaar dat hy ’n hersiening van die oppergesag van die Grondwet wil hê omdat die regters wat in die konstitusionele hof sit, foute kan maak.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet is deel van Ramaphosa se politieke erflating. Mag hy alles in sy vermoë doen om dit te beskerm.

Feit is: Die Zuptas raak al hoe meer verbete om beheer op alle vlakke te kry, en hierdie doelwit bring hulle al hoe meer in konflik met die gees van ons grondwetlike bestel, wat eerder ten doel het om mag sinvol te beperk.

Soos Ramaphosa, as die ANC se hoofonderhandelaar oor die Grondwet, baie goed weet, is hard vir ons Grondwet baklei. Die perke op mag daarin is maklik om prys te gee, maar moeilik om te herwin. Die instellings waaraan die Grondwet beslag gee, is maklik om skade te berokken, en moeilik om te herbou.

Die Grondwet, met al sy demokratiese beginsels, regte en vryhede, hou nie daarvan om in ’n lugleegte te verkeer nie. Dit moet juis inhoud kry in die toepassing daarvan; dit moet krag put uit die wyse waarop burgers dié dokument as ’n skans teen magsmisbruik vir hulself opeis.

Laat Dawie Ramaphosa dus aan sy eie woorde herinner: “Ons kan nie kies watter dele van die Grondwet ons op ’n gegewe dag of jaar respekteer nie.”

Wat álle Suid-Afrikaners in die Grondwet geërf het, is die stigtings­dokument van ons politieke skikking, ’n anker vir ons diversiteit wat terselfdertyd ook die visie en spelreëls van ’n nuwe, demokratiese samelewing vervat. Dis die rigtingwyser wat ons moet koers gee sodat die manier waarop ons ons identiteit in ons alledaagse lewens omarm en beoefen, nie met die grondwetlike waardes in stryd is nie.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet is deel van Ramaphosa se politieke erflating. Mag hy alles in sy vermoë doen om dit te beskerm.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Luthuli-Huis  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.