Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Uit my politieke pen
Beskerm jou erflating, Cyril

In die huidige debat oor die onteiening van grond en die ANC se voorneme om die Grondwet te verander, is daar aansienlike vrese oor die skade wat dit die ekonomie en voedselsekerheid kan aanrig.

Dis geregverdigde vrese, maar dit is nietemin verbasend dat daar nie veel meer besware kom oor die skade wat aangerig kan word aan die status van ons regstaat nie.

Laat Dawie nogmaals sê: Die herverdeling van grond is noodsaaklik, en dít is nie die kwessie wat hier ter sprake is nie. Die kommer is eerder oor die feit dat pres. Cyril Ramaphosa reken dis nodig om die Grondwet te verander om groter duidelikheid te bring oor onder watter omstandighede grond sonder vergoeding onteien kan word.

Dawie verskil hieroor ten diepste met Ramaphosa. Die Grondwet is daar om sekere regte te vestig en die beginsels uit te stippel waarop ons regstaat berus. Dit is nie die rol van die Grondwet om in groot besonderhede te handel met ’n saak soos onteiening nie.

Synde dat die Grondwet in artikel 25 rééds voorsiening maak vir die beginsel van onteiening sonder vergoeding in openbare belang, kan die besonderhede waaronder dit toelaatbaar sal wees veel eerder en veel makliker by wyse van gewone wetgewing uitgestippel word. Die wetsontwerp op onteiening wat tans in die wetgewende proses is, bied die ideale geleentheid.

Ter sprake is onder meer sy geklike opvatting dat die hof nie aan die regerende party of die regering kan voorskryf nie.

Benewens potensiële regsonsekerheid (eerder as groter sekerheid) wat die beoogde veranderings aan die Grondwet kan bring, stel Ramaphosa en kie die status van die regstaat in belangrike opsigte op risiko.

Die eerste is die feit dat sy voorganger, Jacob Zuma, reeds die aansien van ons Grondwet doelbewus en deurlopend aangetas het.

Ter sprake is onder meer sy geklike opvatting dat die hof nie aan die regerende party of die regering kan voorskryf nie. Die gonswoord wat in dié geledere baie gewild geraak het om ’n hofbeslissing te beskryf waarmee ’n bepaalde faksie nie sou saamstem nie, is “judicial overreach”.

Hoe kan ’n onverkose regter dan aan Zuma en sy regering voorskryf?

In dié logika (en Dawie gebruik die term baie losweg) is die howe en regters byvoorbeeld bloot lastige lawaaimakers omdat hulle aangestel word – en nie deur die meerderheid van die mense in die land verkies is nie. Hierteenoor is die ANC-regering wel deur die meerderheid verkies.

Hoe kan ’n onverkose regter dan aan Zuma en sy regering voorskryf?

Sy weersin in die onafhanklikheid van die howe is deur die aanblaas van ’n populistiese sentiment teen die Grondwet aangevul. Só het hy byvoorbeeld verklaar dat hy ’n hersiening van die oppergesag van die Grondwet wil hê omdat die regters wat in die konstitu­sionele hof sit, foute kan maak.

Ramaphosa het met sy ampsaanvaarding laat blyk ’n terugkeer na Grondwetlike waardes is noodsaaklik, en in dié opsig het hy ’n groot taak om die skade wat sy voorganger aangerig het, te herstel.

’n Onnodige en onbesonne verandering aan die Grondwet oor onteiening is nie die regte plek om te begin nie.

Soos Ramaphosa, as die ANC se hoofonderhandelaar oor die Grondwet, baie goed weet, is hard vir ons Grondwet baklei.

Die perke op mag daarin is maklik om prys te gee, maar moeilik om te herwin. Die instellings waaraan die Grondwet beslag gee, is maklik om skade te berokken, en moeilik om te herbou.

Laat Dawie Ramaphosa dus aan sy eie woorde herinner: “Ons kan nie kies watter dele van die Grondwet ons op ’n gegewe dag of jaar respekteer nie.”

Ja, die Suid-Afrikaanse Grondwet is deel van Ramaphosa se politieke erflating. Mag hy alles in sy vermoë doen om dit te beskerm.

Meer oor:  Politieke Pen  |  Regter  |  Dawie  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.