Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beskerm mekaar tydens inperking
Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

In die eerste week van die inperking is meer as 2 200 gevalle van gesinsgeweld aangemeld. Baie meer nog is intussen aangemeld. Voor die inperking het Suid-Afrika van die hoogste statistiek ter wêreld vir gesinsgeweld gehad, ten spyte van baie streng wetgewing. Nou word vroue en kinders ingehok met geweldenaars, sonder dat hulle vir ’n ruk die geweld kan ontsnap.

Mans wat geneig is tot geweld, het nou ook die frustrasies van ’n gebrek aan sigarette en alkohol, die gereelde kuier saam met die vriende, en ander vorms van ontlading. Frustrasies gaan oor in geweld, wat uitgehaal word op die meer weerloses – vroue en kinders.

Die inperking wys dat vroue se sosiale reproduksie nie genoeg aandag kry nie. Dit is die onsigbare, onbetaalde versorgingswerk wat die samelewing laat funksioneer – die versorging van huisgesinne, kosmaak, die onsigbare emosionele werk wat aandag gee aan mense se psigiese behoeftes, en die skep van gemeenskappe wat die samelewing reproduseer.

In die tyd van Covid-19 sien ons dat die bronne beperk word waarmee vroue sosiale reproduksie doen, wat bydra tot geweld teen hulle. Dit is ’n wêreldwye krisis, maar in Suid-Afrika nog meer so omdat soveel mense arm is.

Baie skuilings weier om slagoffers in te neem as hulle nie kan bewys dat hulle negatief getoets is vir Covid-19 nie. In arm gemeenskappe kan vroue nie die toetse bekostig nie.

So erg is die probleem dat die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris vir menseregte dit nodig gevind het om ’n Covid-19-handleiding oor geslagsgeweld uit te vaardig.

Hierin word gesê vroue en kinders word nou meer blootgestel aan geweld, met min toegang tot hulp, en dienste aan slagoffers behoort geprioritiseer te word. Baie skuilings weier om slagoffers in te neem as hulle nie kan bewys dat hulle negatief getoets is vir Covid-19 nie. In arm gemeenskappe kan vroue nie die toetse bekostig nie.

Dit word aangeprys dat dienste soos skuilings vir gesinsgeweld geprioritiseer word: In Italië is ou geboue omskep in skuilings wat meer vroue kan inneem. In Frankryk het die regering 20 000 hotelnagte vir slagoffers geborg.

Toeganklike en gediversifiseerde dienste vir vroue, met ’n proaktiewe waarskuwingstelsel soos in Spanje, word ook aanbeveel. Daar is ’n “chat”- stelsel met geo-ligging ingestel sodat owerhede dadelik van probleme kan weet. In Argentinië kan vroue rooi maskers by apteke koop wat aandui dat hulle in die moeilikheid is, en in Ierland bel die owerhede elke vrou wat voorheen vir gesinsgeweld behandel is.

Die VN gee onder meer die volgende riglyne:

  • Dienste vir geslagsgeweld moet as noodsaaklik verklaar word;
  • Skep ’n gekodeerde boodskapdiens vir slagoffers (sodat mans nie uitvind hulle soek hulp nie);
  • Regstappe teen oortreders moet dit moontlik maak om hulle uit wonings te verwyder;
  • Vroue wat inperkingsmaatreëls oortree om aan geweldenaars te ontsnap, moet nie vervolg word nie.

Voor die inperking het Suid-Afrika al nie genoeg toegeruste skuilings gehad nie – en die inperking plaas nou die vergrootglas op hierdie probleem.

Die nieregeringsorganisasie, Sonke Gender Justice, het die #Speakout-veldtog op sosiale media begin waar slagoffers hulle probleme kan aanmeld. Dit plaas veral ’n verantwoordelikheid op bure om uit te praat as hulle hoor daar vind geweld plaas.

  • In die verlede was daar ’n ander inisiatief waar vroue panne en potte teen mekaar slaan as hulle hoor iemand word aangerand. Dit het ’n positiewe uitwerking gehad. Ons behoort mekaar te beskerm in die staat van inperking. Die gesinsgeweld-noodnommer (tolvry) is 0800 428 428.
  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.