Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beskerm vierde stand teen sulke aanvalle

Jessie Duarte, ANC-adjunk-sekretaris-generaal, het ná nóg ’n vingerswaaiende aanval op ’n joernalis die etiket “die Donald Trump van Suid-Afrika” om die nek.

 Ilse Bigalke
Ilse Bigalke

Duarte se onsmaaklike aanval op eNCA se Samkele Maseko op ’n mediakonferensie vandeesweek is een van etlike onlangse voorvalle waarin politici joernaliste met aggressie probeer intimideer.

Dié toename in aanvalle getuig ongetwyfeld van die druk wat die media die laaste paar jaar – en ook in die aanloop tot vanjaar se verkiesing – op politici uitgeoefen het.

Van die Nkandla-skandaal, die Gupta-e-pos, die Bosasa-vergrype tot die huidige Magashule-gate het die media die openbare agenda onverbiddelik bepaal.

Dit is veral die regerende ANC en staatskaping onder leiding van oudpres. Jacob Zuma en die Gupta-broers wat in die visier was en is, maar ander partye voel ook die hitte in die kombuis. Daarvan getuig die dreigemente van onder meer verkragting teen Karima Brown, geselsprogramaanbieder, nadat die EFF se Julius Malema haar telefoonnommer getwiet en haar ’n ANC-spioen genoem het.

Ook Pieter-Louis Myburgh het deurgeloop nadat sy boek oor Ace Magashule, Gangster State, op die rakke verskyn het. Maga­shule reken Myburgh is ’n “blatante leuenaar” en hy beplan regstappe. Mediaberigte oor die boek is as “fopnuus, propaganda en ’n goed beplande Stratcom-aanval” gediskrediteer.

Maar terug by Duarte en Ma­seko. Sy het ’n ad hominem-aanval op hom gedoen nadat hy op ’n mediakonferensie ’n vraag oor die ANC-kandidatelyste gevra het wat volgens Duarte nie op die agenda was nie.

“Jy is net ’n joernalis,” het sy hom beledig en bygevoeg hy het nie om mediavryheid geveg nie en kan dit dus nie verdedig nie.

Die ervare Duarte moet darem seker teen dié tyd weet dis ’n oeroue gebruik onder joernaliste om keiharde vrae op mediakonferensies in te glip, juis omdat dit aan hulle ’n platform bied om agter die kap van die byl te kom oor inligting wat deur politici weerhou of verdoesel word.

Dis veral die geval in die hedendaagse Suid-Afrika, waar die vergrype, leuens en waninligting van die Zuma-jare nou by die ANC-blik uitpeul ondanks verbete pogings om dit verseël te hou.

Die vierde stand het die afgelope dekade ’n reuserol gespeel om openbare ampsdraers én witboordjiemisdadigers tot verantwoording te roep. Die Grondwet verskans mediavryheid, asook die publiek se reg op toegang tot inligting. Deur die media se mond te probeer snoer, word die publiek se regte dus ook vertrap.

Die aanvalle op die media in die aanloop tot 8 Mei wek groot kommer. Hul waardevolle rol in die instandhouding van die demokrasie moet tot elke prys beskerm word.

  • Bigalke is Beeld se meningsredakteur.
Meer oor:  Pieter-Louis Myburgh  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.