Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beskuldigde nr. 1 kry uiteindelik sy dag in hof

Zapiro was in 2008 in omstre­denheid gedompel toe hy Jacob Zuma uitgebeeld het waar hy gereed maak om Suid-Afrika se regstelsel te verkrag.

Ilse Bigalke

Verlede jaar het hy op dié tema voortborduur in ’n spotprent waarin Zuma sy gulp optrek en ’n Gupta-broer regmaak om Suid-Afrika te verkrag.

Dié beelde het onwillekeurig by ’n mens opgedoem by die aanhoor van die nuus dat die geregtigheidswiel gister uiteindelik vir Zuma begin draai het nadat adv. Shaun Abrahams, baas van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), aangekondig het Zuma gaan “beskuldigde nr. 1” wees in ’n saak waarin hy op 18 aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery tereg gaan staan.

Die voormalige president het telkens in sy ampstermyn volgehou hy kan nie vir sy “dag in die hof” wág nie, maar onder die oppervlak het hy gepaddle dat dit bars om te probeer verseker dié dag breek nooit aan nie.

Sy gesig het op 18 Desember boekdele gespreek toe Cyril Ramaphosa dr. Nkosazana Dlamini-Zuma met ’n kortkop in die wedloop om die ANC-presidentskap geklop het. Agter sy eks se rokspante sou hy kon skuil, maar Ramaphosa is ’n perd van ’n ander kleur.

Zuma se “nalatenskap” aan Suid-Afrika sluit in grootskaalse plundering en korrupsie, Nkan­dlagate, rassespanning, asook die Zumafisering van staats- en waghondinstellings. Talle ervare aanklaers het die pad gevat weens sy politieke inmenging in en ontmagtiging van die NVG en ander instellings.

Die NVG gaan derhalwe nie die saak teen Zuma (of oor staatskaping) wen deur bloot by die hof op te daag nie. Dít is bewys deur die opstopper wat ’n onbekwame regspan verlede week in die hof gekry het in die eerste ronde van die saak teen die Guptas (oor die Estina-suiwelprojek).

Kom ons hou styf duim vas dat geregtigheid wel sal seëvier nadat die Zupta-wegholbrand die land van talle bates gestroop het.

Om die uitgeslape Zuptas in die hof te troef, sal Ramaphosa sy voorganger se aanstellings in kernposte ongedaan moet maak. Voor in dié koor is Abrahams self, ’n Zuma-man in murg en been.

Vir gewone Suid-Afrikaners was dit gister van deurslaggewende belang om te sien dat nie eens die president bo die reg verhewe is nie. Maar sy hofsaak gaan in dié opsig ’n toets vir ons regstaat wees – Zuma sal sonder vrees, bevoorregting of vooroordeel verhoor moet word.

Die reële gevaar bestaan natuurlik dat Zuma se regspan die saak jare lank kan uitrek en, soos die spreekwoord lui, word geregtigheid misken as dit uitgestel word. Voorts is daar uiteindelik ’n moontlikheid van ’n politieke amnestie.

Kom ons hou styf duim vas dat geregtigheid wel sal seëvier nadat die Zupta-wegholbrand die land van talle bates gestroop het.

En dat Zapiro se gifpen dié slag in die laai sal kan rus.

Meer oor:  Zuma  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.