Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beslis pakke, ja, maar die beste vis en tjips?

Soutrivier vir vis en tjips? As pres. Cyril Ramaphosa die ware Jakob wou proe, moes hy dit by Stikland Fisheries in Bellville gaan doen het, of Oceana Fisheries in die Strand, albei ook bedryf deur Portugese. Ek ry nie by een van die twee verby nie.

Laat ons dit nou maar aan mekaar erken: Die boere weet van vleis en vleiswerk, maar as dit by vis kom, is die Portugese koning.

Johan van Wyk

Soos my vriend Antonio Abrantes graag sê: “ ’n Boer maak dalk ’n plan, maar ’n Portugees hét klaar ’n plan!”

Sy jongste plan is om ná meer as 60 jaar Suid-Afrika se stof van sy voete te skud en na sy moederland terug te keer. Ek sou ook as ek hy was. Nie net kan jy goedkoper vakansie hou in Portugal as in Suid-Afrika nie, maar ook die lewenskoste is laer as hier.

Ek is lief vir vis, veral Portugese sardiens. Die probleem is dat terwyl die see gestroop en besoedel word, skaars vis en seekos in Suid-Afrika rykmanskos geword het.

Wat Ramaphosa vir sy parcel in Soutrivier betaal het, was inderdaad wat arbeiders in die dae van die ou Suid-Afrikaanse Spoorweë se eens reusewerkplaas in Soutrivier in ’n maand verdien het. Met ’n skandalige pensioentjie kan die Spoorwegwerkers wat nou van die hand tot die tand leef, kwalik ’n biertjie in die Junction Hotel in Soutrivier se kroeg gaan drink.

Laat staan ’n snyerspak koop gemaak in Soutrivier, soos die een waarin die president sy droomverlore staatsrede gelewer het.

Geïnspireer daardeur het ek die swart Monatic Embassy Dair-pak met ’n dun pinstripe, waarin ek in 1956 in die Paarl aangeneem en voorgestel is, uit my kas gehaal, afgestof en die wit naftalien-balletjies uit die sakke geskud.

Dit het nie heeltemal soos ’n handskoen gepas nie en ek het effens duiselig geword toe ek my asem minute lank moes ophou om die boonste gulpknoop vas te kry, maar ek het ingekom.

Ja, jou gulp (’n mooi Afrikaanse woord, nè) is 60 jaar gelede nie met ’n zip toegetrek nie, maar met knope toegeknoop. Ses, as ek reg onthou.

Die boere weet dalk van vleis en vleiswerk, maar as dit by vis kom, is die Portugese koning.

G’n wonder nie die ou boere se raad aan hulle vryerige seuns was: “Wat jy ook al doen, hou jou gulp toe!”

My aannemingspak was gemaak in ’n fabriek in Soutrivier, kortby die Oblowitz-Jode se destydse klerewinkel in Soutrivier.

Die Chinese is tóé nog nie, met die steun en goedkeuring van die regering, toegelaat om hul goedkoop produkte, wat die eens welvarende Kaapse klerebedryf met gepaardgaande werkverliese onder veral bruin mense feitlik vernietig het, plaaslik te stort nie.

Toe ek uit die aanpashokkie kom, het die Jode handevrywend van genoegdoening gesê: “Ter­rific, my boy!”

My pa het sy tjekboek uitgehaal en ná ’n paar goeie grappe, wat hom ’n vet afslag besorg het, die tjek geteken. Miskien moet ek my pak nou maar vir die kerk gee.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Soutrivier  |  Vis En Tjips  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.