Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Besoek aan ’n monument vir die Nuwe SA
Vryheidspark in Pretoria. Foto: Getty Images

En dan ry jy van die Voortrekkermonument af na die Vryheidspark, skaars ’n kilometer daarvandaan op Salvokop. Doer onder lê Pretoria in die hitte en bewe.

Die wag by die hek is vriendelik en waarsku jou: Maak tog seker jou bakkie is gesluit. ’n Mens weet nooit.

Dis net ná 11:00 in die oggend en jy is die enigste besoeker hier. ’n Ander wag begelei jou na die kantoor, waar jy ’n toegangskaartjie koop.

Die gebou is nie so oorweldigend soos die Voortrekkermonument nie.

Jy probeer woorde vind vir wat jy sien. Dit is iets nuut, ’n herinneringsplek wat ná 1994 opgerig is. Jy het ’n nuwe emosionele alfabet nodig om te verwoord wat jy voel. Hier is jy nie net ’n Afrikaner nie.

Jy is ’n Suid-Afrikaner.

Jy wil eers ’n draai loop. Die toilette is marmeragtig en modern, maar jy kan byna niks sien nie. Slegs een van die vier gloeilampe teen die dak brand en die toiletpapier is op. Tipies, dink jy, sonder dat jy dit wil dink. Tipies. Die gang van die nuwe Suid-Afrika.

Jy stap by die museum se hoë deure in.

Binne jou raak dit stil. Jy word teruggeneem na hoe Afrika oor duisende jare ontwikkel het. Die migrasies. Die slawehandel. Kolonialisme. Dis nodig om te sien.

Dana Snyman

Jy weet ook wat kom, in die verte hoor jy die magtige dreuning; en dan is jy in ’n groot vertrek. Op ’n skerm is dr. Verwoerd besig om ’n toespraak te maak, in dieselfde plat Engels wat jy steeds praat.

In ’n vangnet wat van die dak hang, is ’n klomp “Slegs blankes”-bordjies, NP-verkiesingsplakkate, ’n ou Suid-Afrikaanse vlag . . .

Jy soek iemand om voor te sê ja, ja, ja, maar wat van alles wat ons in die land tot stand help bring het? Die teerpaaie en damme en fabrieke en hospitale. ’n Eskom waar nie gesteel en gegupta is nie. ’n SAL wat ’n wins maak. Treine wat op tyd loop. Maar daar is niemand om dit voor te sê nie, jy is alleen in die vertrek.

Naby die uitgang is foto’s van die lang rye mense op stemdag in ’94. Op ’n ander skerm verklaar Madiba: “Never again . . .” Dan, bokant nóg ’n skerm, staan daar: SOCIAL COHESION. Maar op die skerm is niks nie. Jy druk die knoppie langsaan. Niks. Die skerm is afgeskakel of stukkend.

Waar dinge skuins draai, gedy ironie.

Jy stap weer uit in die moerige son.

Mpho beduie na die eilandjie in die dam waar die ewigdurende vlam van vryheid behoort te brand. “The eternal flame is off."

Op ’n gedenkmuur – daar is meer as een – is die name van mense wat in die vryheidstryd dood is. Duisende name. Ook die name van dié wat in die Anglo-Boereoorlog dood is.

’n Wag kom nader. Mpho Makubela. Julle begin gesels. “It’s sad, all this blood,” sê hy.

“It’s sad,” sê jy.

Die grasperke is gesny. Die dam, groot en vlak, is vol water. “Eisj.” Mpho beduie na die eilandjie in die dam waar die ewigdurende vlam van vryheid behoort te brand. “The eternal flame is off.”

“What’s wrong?” sê jy.

“I think the gas is finished,” sê hy.

Julle kyk na mekaar, jy en hierdie Mpho Makubela, en julle lag, julle lag saam. Julle lag.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Pretoria  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.