Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geestesake
Beste is as jy regte ding doen oor jy ómgee
Jaco Strydom

’n Maatskaplike organisasie het my gevra om met die bestuurders van hul kinderhuise te praat oor “hoe kweek ’n mens verantwoordelikheid by ’n tiener” – ek wou eers terug-e-pos en vra of ek nie eerder oor wêreldvrede kon praat nie.

Onverantwoordelikheid ken ek beter. Onverantwoordelikheid is om nie om te gee nie. Iemand wat onverantwoordelik optree, gee nie om vir hulself, ander of die wêreld nie.

Jaco Strydom

Deur die jare sien ons dit dikwels by van die wildste tieners in ons eie Echo-huise: ’n soort afgestomptheid. Hulle het hard geword in ’n poging om hulself te beskerm teen seerkry.

“I have become comfortably numb,” sing Pink Floyd.

Numbness is soos ’n geestelike eelt op ’n mens se hart. Dit verdoof jou vermoë om empatie en ’n klomp ander emosies te ervaar.

Dissipline, roetine en al daai tipiese dinge het sekerlik ’n belangrike rol te speel in die aankweek van verantwoordelikheid by tieners. Maar die eerste prys is wanneer ’n jong mens by die punt kom waar hy “die regte ding doen”, nie omdat hy moet nie, nie uit vrees vir straf of mislukking nie, maar omdat hy of sy begin ómgee.

Dalk is die vraag waarmee ons eintlik besig moet wees: Hoe leer ek ’n kind wat afgestomp geraak het om weer om te gee?

Mense wat wreed optree, het dikwels self wreedheid ervaar. Ons word maklik wat ons haat.

Grootmense natuurlik ook; hulle maak in die algemeen baie meer droog as kinders.

Mense wat wreed optree, het dikwels self wreedheid ervaar. Ons word maklik wat ons haat.

Van die mees bose verskynsels groei uit frustrasie. Jy sien of beleef iets boos, dit frustreer die wit hel uit jou uit, jy voel magteloos en dan vorm jy jou eie monster wat jy dink jy kan beheer en voor jy jou kan kry, beheer dit jou en kort voor lank sit daai monster in jou spieël.

Die meeste bose goed was aanvanklik nie boos nie – totdat ons mense daaraan begin vat het. Die lewe is broos: Gooi te veel ego oor ’n goeie ding en hy word boos, skeep hom af en hy word boos. Skop ’n onskuldige ding genoeg en hy begin self skop.

Boosheid is aansteeklik, van mens na mens, geslag na geslag, van dooie goed na lewende goed en andersom. Enigiets, hoe mooi of skoon ook al, kan besoedel word, selfs ’n onskuldige kind.

Die groeiende hardheid in mense se harte in hierdie land voorspel niks goeds nie. Maar ’n kultuur van omgee word nie gekweek deur kritiek rond te gooi en te blameer nie. Eerder die teendeel.

Die metafoor van ’n kliphart kom uit die Bybel. In Esegiël 36:26 sê die Here aan die volk: “Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee.”

Miskien moet ons elkeen by onsself begin en bid dat dit ook in ons tyd met ons gebeur.

  • Strydom is die leier van Echo Jeugontwikkeling.
Meer oor:  Jaco Strydom  |  Verantwoordelikheid  |  Omgee  |  Menswees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.