Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beste sêding van 2016 is . . .
Gert Coetzee

Ek gaan ’n groot, groot muur op ons suidelike grens bou, en ek gaan Mexiko maak betaal vir dáárdie muur. Onthou my woorde.

Wat sêgoed in 2016 betref, is dié gevleuelde woorde van Donald Trump ’n sterk kandidaat vir aanhaling van die jaar. Trump het dié wilde uitspraak in sy veldtog as Republikeinse kandidaat vir die Amerikaanse presidentskap geuiter. Nou word hy die president. En sy muurpraatjies?

Toegegee, enige ander van Trump se baie praatjies, oor enigiets en -iemand van die Chinese en aardverhitting tot Moslems en vroue (Arianna Huffington en Bette Midler inkluis) ding mee.

Die jaar se baie nuuswoorde spreek van imbesiliteit en ware leierskap; oorlogsug en hoop; tragedie en triomf, en skelmagtigheid en ’n sug na reg.

“Alle politieke lewens eindig in mislukking,” het die Britse oudpremier David Cameron volgens sy biograaf gesê toe hy verneem hy het die Britse referendum oor deelname aan die Europese Unie verloor. “Ek sal moet gaan. Ek wil nie ’n regering lei met wie se beleid ek nie saamstem nie.”

Cameron het dus sy Brexit-belofte gestand gedoen. Wou ander leiers, ook in Afrika, maar sy voorbeeld volg.

Selfmoordbom- en ander terreur-aanvalle (ook met moord-vragmotors) en sluipmoorde was deel van die tragiese nuusjaar. Die woorde van Mevlut Mert Altintas (22) voordat hy vandeesweek die Russiese ambassadeur in Ankara, Turkye, van agter doodgeskiet het, spreek van maniese gedrewenheid: “Allahu akbar! Moenie van Aleppo vergeet nie. Moenie van Sirië vergeet nie!”

2016 was ook (weer) die jaar van die Europese vlugtelinge-krisis met meer as 4 000 asielsoekers wat ter see gesink het. Premier Angela Merkel, Time se nuuspersoon van 2015, in ’n verklaring vanjaar: “Die uitskakeling van die moontlikheid om die Europese kus te bereik kan migrante oortuig om nie die lewensgevaarlike en duur vaart in die eerste plek aan te pak nie.”

In 2015 het sy gesê: “As Europa misluk met die vraag oor vlugtelinge, dan sal dit nie die Europa wees waarvoor ons wens nie.”

Aan kunsfront was die sanger Bob Dylan se reaksie oor die nuus dat hy die Nobelprys vir literatuur gewen het, merkwaardig. G’n woord rep Bob daaroor nie. Dalk die (nie-)aanhaling van die jaar?

Ons liewe Suid-Afrika van die jaar se uitsprake van die jaar word, – sug – seker maar deur gesplete politieke woorde oorheers.

Die EFF (weer vroeg vanjaar): “Betaal terug die geld!”

Jacob Zuma (uiteindelik, ná OB-optrede en ’n grondwethof-uitspraak oor Nkandla): “Oukei, oukei, ek betaal die geld! Ontspan.” (Effe geborduur.)

Mmusi Maimane, DA-leier, se woorde aan Zuma in die parlement, staan sterk: “Ons het ’n president nodig wat die land eerste stel, en homself laaste. U is nie daardie president nie, Meneer.”

JZ: “Hê-hê-hê.” (My borduurwerk.)

Of dalk behoort die Suid-Afrikaans-verwante aanhaling van die jaar aan Michael Johnson van die VSA, vorige wêreldrekordhouer in die 400 m-wedloop vir mans. “Vanuit baan agt, ’n wêreldrekord! Hy het dit so vinnig gevat. Ek’t nog nooit so iets van die 200 m- tot die 400 m-merk gesien nie.”

Natuurlik oor Wayde van Niekerk van Suid-Afrika se Olimpiese blitslopie vir ’n rekord oor dié afstand.

Duane Vermeulen, uitgeweke rugbyspeler, oor rommelstatus vir die Springbokke: “Ons het ingryping nodig, en ek kan nie meer stilsit op die kant en niks sê nie.” Franco Smith, afrigter van die Cheetahs se Curriebeker-kampioenspan: “Dit gaan oor omgee!”

En die wenner as die kampioen van (wan)geluide in 2016? Hê-hê-hê.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.