Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beter jaar voor, al skop JZ vas

Dis so maklik om neerslagtig oor die politiek en politici oor die algemeen te wees, maar myns insiens begin Suid-Afrika die jaar op ’n optimistiese noot. Ja, daar sal gevegte, spanning en kommer oor werkgeleenthede en die ekonomie wees, maar ek meen ons is nou beter daaraan toe as byvoorbeeld in November verlede jaar.

Die verwydering van Jacob Zuma as leier van die regerende ANC het ’n betekenisvolle simboliese sege verteenwoordig vir Suid-Afrikaners wat sat vir korrupsie en swak regering is. Zuma is natuurlik steeds die land se president, maar myns insiens sal dit nie meer lank die geval wees nie. Selfs al sou hy nog ’n paar maande president bly, sal die ANC hom oor enige afwykende gedrag tot orde kan roep.

Dit is dus geen wonder dat hy op sy laaste dag as ANC-president inderhaas opdrag vir gratis tersiêre onderwys vir armes en dié uit middelklasgesinne gegee het nie. Hy het geweet die ANC sou hom nie toelaat om dit tans sommerso te doen sonder om rekenskap aan die partyleier te gee nie.

Met dié opdrag het hy die bevinding uitgedaag van ’n kommissie onder leiding van oudregter Jonathan Heher dat gratis tersiêre onderrig nie tans haalbaar is nie. Maar Zuma was desperaat om ’n nalatenskapprojek te skep en gretig om sy bona fides te toon as die man wat aan radikale ekonomiese transformasie geglo het en bereid was om namens arm Suid-Afrikaners op te tree.

Die angel in die stert is dat hy met sy aankondiging ’n las geplaas het op sy opvolger, Cyril Ramaphosa, wat die plan op die een op ander wyse moet laat werk ondanks die tekort aan geld om dit in werking te stel.

Zuma gaan uitvind dat sommige mense wat hy verwag het hom sou verdedig nou by Ramaphosa witvoetjie soek.

Maar dit is te betwyfel of Zuma voort­aan ’n groot aankondiging soos dié sal doen sonder om behoorlik verantwoording daarvan te doen. Hy word fyn dopgehou en volgens my inligting is Rama-phosa en sy bondgenote voornemens om hom binne die volgende twee weke as president te verwyder.

Volgens my bron in die Ramaphosa-kamp sou die eerste prys egter wees om Zuma te oorreed om te bedank eerder as dat hulle gedwing word om hom uit te stoot. Sodoende sal die ANC ’n potensieel verdelende gesprek kan vermy wanneer die nasionale uitvoerende komitee (NUK) volgende week vergader.

Die nuwe NUK sluit ’n aansienlike getal Zuma-ondersteuners in wat weerstand sal bied as die kwessie daar ge­opper word.

Bathabile Dlamini, ’n sleutel-ondersteuner van Zuma en leier van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se mislukte veldtog om ANC-president te word, het trouens gister in ’n onderhoud met The New Age gewaarsku die party sal skeur as Zuma verwyder sou word. Ek reken Dlamini is deur die Zuma-kamp ontplooi om die openbare waarskuwing aan Ramaphosa en kie te rig dat hy nie sonder slag of stoot sal oorgee nie.

Maar ’n mens hoef nie geskiedenisboeke te lees om te weet dat politici meestal uit eiebelang en gemaksugtig optree nie. Zuma gaan uitvind dat sommige mense wat hy verwag het hom sou verdedig nou by Ramaphosa witvoetjie soek. Hy kan gouer uitgedwing word as wat ’n dreigende Dlamini te kenne wil gee. Heelwat minder ministers en amptenare as voorheen het juis sy jaarlikse Kersviering op Nka­ndla bygewoon.

Ramaphosa het reeds sy eerste dividende vir Suid-Afrika opgelewer in die vorm van ’n daling in die petrolprys, danksy die versterking van die rand sedert sy verkiesing in Desember.

Omdat die politiek altyd die ene teenstellings is, is ek nie so naïef om vanjaar ’n gladde rit te verwag nie, maar wel een wat veel beter gaan wees as waaraan ons die afgelope tien jaar of wat gewoond was.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Toekoms  |  Hoop  |  Nuwe President  |  Politiek  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.