SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
‘Betereinders’ maak plek vir die taxi’s

In die ontwikkelende fase waarin ons land verkeer, is daar ’n beduidende tekort aan goeie en doeltreffende openbare vervoer.

Stefan Botha

Ons het wel die gesogte Gautrein, maar die ligging van die stasies maak dit slegs toeganklik vir die welvarendes. Die enigste alternatiewe openbare vervoermiddel vir lede van die werkersklas wat nie hul eie motors kan bekostig nie, word beskou as die jakkalse van die pad: taxi’s.

Hierdie taxidrywers se onverskillige bestuurstyl is waarskynlik die hoofrede vir padwoede en -frustrasie en elkeen van hulle loop daagliks deur onder toeteraanvalle van woedende motoriste wat hulle nie kan verdra nie.

Maar kom ons vergeet ’n oomblik van die man agter die stuurwiel en dink aan die ander 15 wat hulle óók in die taxi bevind en hul bestemmings veilig en betyds wil bereik. Hulle is mense, net soos ek en jy, wat soggens in die donker hul tog werk toe vir ’n klein salarissie aanpak en eers laat in die aand na hul blyplekke terugkeer.

Hulle is gewoonlik die mense wat ons huise en tuine skoon hou, agter die kasregister werk, ons motors vol petrol gooi en ons in die restaurante bedien. Hierdie kosbare individue het ook hul daaglikse uitdagings en elkeen van hulle het hul eie unieke storie om te vertel.

Hulle speel ’n baie groot rol daarin om ons ondernemings en ekonomie aan die gang te hou, maar kry nie altyd die nodige erkenning nie.

Hulle is werklik die onbesonge helde van ons samelewing. Maar tóg, wanneer ’n taxidrywer plek soek om sy passasiers by hul bestemmings te besorg, is ons eerste instink om laer te trek.

Daar word op die toeter gelê om die omliggende motors aan jou kant te kry en alle ruimte is eensklaps opgeneem – want “die d***erse taxi gaan beslis nie vandag voor mý indruk nie!”

Is dit nie dalk tyd vir ’n alternatiewe benadering nie?

Betereinders kla nie, hulle dóén positiewe en opbouende dinge en werk saam met almal, vir almal.

Verloor ’n paar sekondes in jou dag, haal rustig asem, hou jou voet op die rempedaal, glimlag en maak plek vir die taxi en al sy passasiers. Dit klink dalk na ’n vreemde oefening, maar dit sal onmiddellik wys dat die pad eintlik nie ’n slagveld is waar slagordes opgestel moet word nie. Dis eerder ’n plek waar almal mekaar in ag neem en saamwerk sodat elke pendelaar veilig en betyds sy of haar bestemming bereik, insluitend die passasiers in die taxi’s.

Dit is ’n waarborg dat die taxidrywer met sy flikkerligte vir jou sal beduie dat hy dankbaar is of sy hand sal uitsteek in ’n vriendelike gebaar. Gevolglik sal ook figuurlik plek gemaak word vir ons naaste in die taxi, aangesien hulle ook hul waardigheid gegun sal word.

As daar gesê word maak plek vir taxi’s, beteken dit nie dat roekelose bestuur en wetsoortreding goedgekeur of aangemoedig word nie. Ons kan wel probeer om buigsaam, inskiklik en geduldig te wees. Kom ons laat vaar die laertrek-mentaliteit en wees in solidariteit met ál ons landsburgers. Daar is ’n eenvoudige keuse: Wees sinies en kla oor alles, of wees ’n betereinder.

Betereinders kla nie, hulle dóén positiewe en opbouende dinge en werk saam met almal, vir almal. Wees ’n betereinder en maak plek vir taxi’s – op die pad én in jou hart.

  • Botha is ’n student in politieke wetenskappe en internasionale betrekkinge aan die Universiteit van Pretoria. 
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.