Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sê eerder dankie vir die betogende studente

Charles Smith deel sy misnoeë met die gebeure aan universiteite oor die afgelope tyd in sy skrywe “Revolusie teen Afrikaans en wittes ontplof”.

Hy verf met ’n breë kwas. In minder as 400 woorde reageer hy op die protes teen die taalbeleid by Kovsies, Maties en Tuks, asook die gebeure by die Universiteit van Kaapstad. Die styl is een wat vele Afrikaanssprekendes sal herken – mens ruik sommer die braaivleisvuur waar soortgelyke pittighede gewoonlik deur die manne gebesig word terwyl die vroue die slaai maak in die kombuis of die kinders in die bed sit.

As vrou vind ek die oënskynlike sorg in Smith se stuk oor die verbranding van portrette van vroue heel onoortuigend.

Bevraagtekening, kritiek en ’n openlike uitdaging van die status quo is aktief ontmoedig en selfs verbied.

Aan die Universiteit van Pretoria (UP) het ons ook gedurende Oktober studenteprotes beleef. Van die UP-akademici het die protesoptrede verwelkom. Ons het dit verwelkom omdat ons glo dis van pas dat studente aan protes deelneem, omdat dit deel is van dít wat van hulle verantwoordelike burgers gaan maak. Maar ons het dit ook verwelkom omdat dit substantief verband hou met die akademiese oogmerk van ’n universiteit.

Die UP, soos van die ander histories Afrikaanse universiteite, het nie tydens apartheid ’n sterk navorsingskultuur gehad nie. Veral in die menswetenskappe (insluitend my eie dissipline naamlik regte) was die hoofoogmerk om staatsamptenare op te voed wat die apartheidsregering getrou sou ondersteun.

Bevraagtekening, kritiek en ’n openlike uitdaging van die status quo is aktief ontmoedig en selfs verbied.

Die UP, soos vele ander universiteite, het oor die afgelope 20 jaar probeer om hierdie tekort aan ’n sterk navorsingskultuur aan te pak deur “navorsingsaktief” te word.

Dit het egter nie gewerk nie, want die plan was gefokus op getalle, tabelle en grafieke – ’n manier om akademici te bestuur om ’n vaste aantal uitsette per jaar te lewer. Ongelukkig het dit niks aan die kern van die probleem gedoen nie: die afwesigheid van kritiese denke in navorsing en onderrig.

Ek is verstom oor die “dawerende stilte” onder Afrikaanssprekendes.

Akademici en bestuurders wat werklik besorgd is oor die bestaan van kritiese denke, behoort dus die studente te bedank dat hulle die moontlikheid van protes in ons tyd oopgemaak en op die tafel geplaas het.

Daar is ’n siening dat akademici wat nie tans besig is om ander werk te soek of ander moontlikhede te oorweeg nie, vasgevang is in ’n sekere romantiek.

Die nastreef van denke, die vermoë om krities met idees en met die wêreld om te gaan, is tradisioneel as die hoofoogmerk van ’n universiteit beskou. Nou word dit as naïewe, idealistiese drome gesien.

Die afgelope tyd het ek vele kere die uitdrukking “die gegewe realiteit” gehoor. Ek is telkens verbaas hoe die term “stark reality” met oortuiging gebruik word sonder om die voortduring van sistemiese ongelykheid, ook aan universiteite, op die voorgrond te plaas. (Ek kom so pas van nog ’n lesing terug waar ek vir ’n handjievol Afrikaanssprekende studente klas gegee het. Later vandag, wanneer ek vir een van twee Engelse groepe klas gaan gee, sal studente op die vloer en trappe sit.)

Smith se reaksie is nie uniek nie, hy deel sy siening met baie ander mense wat die taalkwessie gewoon as ’n aanslag teen “Afrikaans en wittes” beskou sonder om vir een oomblik stil te staan en na te dink oor strukturele en sistemiese ongelykheid.

Ek is verstom oor die “dawerende stilte” onder Afrikaanssprekendes. Ek is verstom dat Afrikaanssprekendes hulle nie uitspreek teen die standpunt van mense soos Smith nie.

Ek is terselfdertyd bly oor die wyse waarop die meeste studente aan die UP tot dusver geprotesteer het.

Studente het gewys hulle is dapper, nadenkend en gaan nie net nog ’n generasie wees wat gewoon saam met die stroom swem nie.

Hoor jy die magtige dreuning, Charles?

  • Prof. Karin van Marle is die hoof van die departement regsfilosofie aan die Universiteit van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.