Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Betree die strand dié somer liefs nie braloos nie

Met die somer om die draai sal dit almal baat om kennis te neem van die Kaapstad-metro se konsepkusverordening wat beoog om lewe – en skynbaar die dood ook – dié seisoen te orden, skryf MC Botha.

Die veiligste opsie op Grotto waar dié foto geneem is: Ten volle geklee. Foto: MC Botha

Ná verlede somer se fiasko toe ’n skaap op Clifton se Vierde Strand geslag is om die voorvaders gelukkig te hou, kan ’n mens raai waarom die stadsvaders en -moeders nou strenger wil optree teen wat hulle as oortreders beskou. En die vangnet strek ver – al die pad net noord van Melkbosstrand tot suid van Gordonsbaai.

Die probleem met wetgewing in die algemeen is dat dit gewoonlik uitgedink word wanneer die koeël reeds deur die kerk is, maar dit daar gelaat.

Eerstens lui die konsepverordening dat niemand in die kusgebied enige sand, klippies, rotse, skulpe, gruis of seebamboes mag deponeer, skuif, versamel of verwyder nie. Gelukkig is “die “grawe van gate deur kinders of strandgangers in die gewone gebruik of genieting van die strandgebied” nie ’n verbode handeling nie.

Hoe is dit te begrype dat ’n dooie dier leed aangedoen, geteister of gejag kan word?

Op die oog af wil dit dus voorkom dat jy skotvry daarvan sal afkom indien ’n beampte jou en jou kind sien sandkastele bou.

Net onder hierdie afdeling staan niemand mag ’n lewende of dooie dier beseer, versamel, oes, leed aandoen, teister, jag, inperk of mee inmeng nie.

Hoe is dit te begrype dat ’n dooie dier leed aangedoen, geteister of gejag kan word? Tensy die dier ter sprake dalk ’n dooie skaap is wat aan die voorvaders geoffer word.

Een eienskap wat ’n wetmaker duskant die graf nie van beskuldig wil word nie is kortsigtigheid.

Almal wil in die somer strand toe gaan, maar pasop vir die reëls. Foto: MC Botha

Meer vermanings lê voor in die afdeling “REGULERING VAN AKTIWITEITE”. Onder die hofie “Ongewensde gedrag” mag geen persoon in die strandgebied vloek of enige vuil taal gebruik nie.

Dis ’n gatslag wil ek sê sonder om vuil taal te gebruik. As jou kind of jou wederhelf per ongeluk of doelbewus ’n grafie sand op jou kop omkeer, is jy dus veronderstel om te sê, “Liefste, jy steur my,” in plaas van “F&%$F!”

Daarbenewens mag geen persoon “hul liggaam onwelvoeglik ontbloot of ’n onwelvoeglike daad uitvoer nie.”

’n Mens het ’n vae idee wat ’n onwelvoeglike daad behels, maar onwelvoeglike ontbloting is moeiliker om te peil.

As jy dié somer wil gaan afkoel, is dit dalk veiliger om die rug geheel op die strand te draai.

In hierdie post-feministiese era waarin ons ons nolens volens begeef, sal ’n vroulike bostuklose baaier beslis in sekere geledere as “onwelvoeglik ontbloot” beskou word, eweneens ’n Xhosa- of Zoeloemaagd in tradisionele drag.

Aan die einde van die vorige eeu is ’n kabaal opgeskop toe iemand eendag ontdek dat twee vroue bostukloos agter duine op Grottostrand by Hermanus in die son lê en baai. Die destydse burgemeester, Jimmy Bishop, het aan die einde van die daaropvolgende raadsvergadering verklaar dat bostuklose baaiery vervolgens verbied word aan Walkerbaai se voorheen onbesoedelde kus.

Kaapstad se stadsraad het twee dekades geneem om die voorbeeld te volg, en in dié tyd het Big Brother groter geword. Die stad se wetstoepassers mag nou ’n foto neem of ’n oudiovisuele opname maak van enige persoon wat geag word aldus onwelvoeglik geklee te wees. Erger nog is dat die verdagte sonder ’n lasbrief in hegtenis geneem kan word.

As jy dié somer wil gaan afkoel, is dit dalk veiliger om die rug geheel op die strand te draai en eerder onder die tuinslang te gaan staan in die privaatheid van jou tuin, poedelnakend indien nodig.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Engels in Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mc Botha  |  Jimmy Bishop  |  Kaapstad  |  Hermanus  |  Clifton  |  Vuil Taal  |  Strande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.