Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Betree ons op 1 Januarie 2020 nuwe dekade?

Die jaar loop uit. Ons berei voor vir Kersfees. Oor ’n bietjie meer as ’n week wag ons in die holste van Oujaarsnag op Nuwejaar en dan dans of strompel of slaap ons die ou jaar uit, die nuwe in.

Jana Luther

“Nuwejaar”. Een woord, vas, ja, met ’n hoofletter en meestal sonder ’n lidwoord, as die skrywer Nuwejaarsdag, 1 Januarie, bedoel. Twee woorde, los van mekaar, met kleinletters, “die nuwe jaar”, verwys na die volgende 365 dae, of, as dit ’n skrikkeljaar is, 366.

As ’n angsgevoel ’n mens skielik oorval en jou lyf onwillekeurig ruk, skrik jy. Dis dalk die gevoel wat dié nuwe jaar by baie van ons wek. 1 000 jaar gelede, in Middelnederlands, het “skrik” beteken “om aan te stryk, om met lang treë te stap”. Nog vroeër was “skrik” “spring”.

’n Prima voorbeeld van hoe die betekenis van ’n woord oor eeue heen verander.

Uit Middelnederlands se “scrikken” het die herhalingswerkwoord (iteratief) “skrikkel” ontstaan. ’n Iteratief dui aan dat ’n handeling keer op keer herhaal word. Iteratiewe word aan die ou uitgange “-el” of “-er” herken. In hedendaagse Afrikaans is dié uitgange nie meer produktief nie, maar ons sien hulle nog in ou werkwoorde, soos “hakkel”, “klapper”, “stotter”. “Druppel” het oorspronklik beteken “om in druppels te val”. “Huppel” “om weer en weer te hop”, “krabbel” “om te krap”, “skrikkel” “om te spring”. Aan 29 Februarie, skrikkeldag, kan ’n mens dus dink as ’n dag wat in die kalender spring om die tydrekening in orde te bring.

2020 is ’n skrikkeljaar. Dit is ook die begin van ’n nuwe dekade. Of is dit?

Laat ons op dié tydvak ’n glasie klink: Op dinge en mense wat was en wie weet wat kom.

Elke Op de Beeck, van die horlosiemuseum in Mechelen, België, verduidelik dit so: Die wisseling van 19 na 20, met die nul agter die jaartal, laat dit voel asof een hoofstuk afgesluit is en ’n nuwe begin. Maar dit klop nie. In ons Grego­riaanse kalender begin die jaartelling by 1. ’n Nuwe eeu, sê maar die 19de, begin dus in 1801 en loop in 1900 ten einde. As ons dié logika volg, moet ons op 2021 wag voordat ons ’n nuwe dekade kan vier. Maar, sê Elke, hoe raar dit ook mag klink, waar jy begin tel, hang eintlik maar van jou af. ’n Nul in ’n jaartal is ’n sielkundige drumpel. Baie mense wil dan ’n nuwe blaadjie omslaan. En in ons rekenaartyd word die jaar 0 bygetel. Die nuwe dekade kan dus ewe goed op 1 Januarie 2020 begin.

Onnadenkende napraters van Engels, wat na “the turn of the decade”, “the turn of the century” verwys, praat maklik van “die eeuwending”, “die draai van die dekade”. Hulle snap nie dat “turn” naas “draai” ook “verander” beteken en dat dit hier om laasgenoemde betekenis gaan nie.

In Afrikaans hou ek maar by “eeuwisseling” en “dekadewisseling”. “Wissel” beteken om iets vir iets anders te ruil: briewe, gedagtes, ratte, tande, woorde. Ons ruil die oue vir die nuwe.

Laat ons op dié tydvak ’n glasie klink: Op dinge en mense wat was en wie weet wat kom.

  • Luther is redakteur van HAT6.
Meer oor:  Jana Luther  |  2020  |  Woordwisseling  |  Nuwe Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.