Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beveg korrupsie van binne ANC
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Die Korrupsie-persepsie-indeks (KPI) van 2019 het op ’n skaal van 0 tot 100 (waar 100 ’n baie skoon regering is), bevind dat uit 180 lande twee derdes minder as 50 uit 100 punte behaal.

Afrika suid van die Sahara behaal net 32 uit 100. Ons is deel van dié streek. Van die belangrikste oorsake van korrupsie volgens die KPI is wanneer geld sonder verantwoordbaarheid in verkiesingsveldtogte invloei en waar politici bande het met mense wat bevoordeel word. In Afrika suid van die Sahara is patronaatnetwerke waardeur familie en vriende bevoordeel word die norm.

Shamila Batohi, die hoof van die nasionale vervolgingsgesag, het verlede Vrydag gesê dat as die meganismes om die risiko’s verbonde aan tenderprosesse te bekamp in plek was, ons nie nou met die grootskaalse korrupsie wat verband hou met die Covid-19-pandemie sou gesit het nie.

Om korrupsie te beheer nadat dit reeds plaasgevind het, is baie moeiliker. Die belastinggaarder moet reeds 307 sake wat R300 miljoen beloop, laat ondersoek, terwyl 658 twyfelagtige Covid-19-tenders R5,08 miljard beloop.

Ace Magashule se uitspraak dat daar niks verkeerd is as die kinders van ANC-lede voordeel trek uit tenderprosesse nie, het nie op dowe ore geval nie.

Dit het sekerlik bygedra tot die bevindinge van onlangse meningsopnames dat vertroue in die regering baie gedaal het as gevolg van hoe die pandemie vanaf vlak 3 van die inperking hanteer is, maar ook as gevolg van korrupsie.

Maar wat ek nie besef het nie is dat as jy eers op die databasis geregistreer is, enigiets moontlik is.

Om te illustreer hoe moeilik dit is om ’n verskaffer vir die regering te word, sal ek uit my eie ervaring praat.

In 2019 is ek gevra om ’n dag lange werkswinkel vir die provinsiale regering te fasiliteer. Om dit te kon doen, moes ek eers as ’n diensverskaffer op die algemene databasis geplaas word. Ek moes die een les ná die ander opsê en die aanlyn registrasie het my byna twee dae geneem. Ek moes ook ’n vorm onderteken om aan te dui dat niemand van my familie vir die regering werk en sal voordeel trek uit my dienste nie. Ek het gedink die toesig oor my doen en late was streng en goed.

Maar wat ek nie besef het nie is dat as jy eers op die databasis geregistreer is, enigiets moontlik is. Ek kry ten minste twee versoeke per week om te tender vir een of ander dienslewering – ek is al gevra om toilette te verskaf, of watertenke, en onlangs was dit sanitasiemasjiene (wat dit ook al is).

Die versoeke om te tender word uitgestuur ongeag watter tipe diens die persone of ondernemings op die databasis kan verskaf. Ek sou dink dit maak die deur wyd oop vir korrupsie as ’n mens (en jou vriende) kreatief genoeg is.

Korrupsie kan nie van buite die regerende party bekamp word nie, maar slegs van binne. Die ministeriële komitee onder leiding van die minister van justisie, Ronald Lamola, het aangekondig dat alle inligting oor tenderbedrog op die webtuiste van die tesourie bekend gemaak sal word om deursigtigheid te verseker. Dit word ook oorweeg om howe vir handelsmisdaad toe te wy om die ondersoek van tenderbedrog te bespoedig. ’n Mens behoort dit seker as goeie nuus te beskou.

Korrupsie kan egter nie ontwortel word as die mense wat betrokke is hulself moet ondersoek nie.

Ace Magashule is aangewys om toesig te hou oor alle verslae van korrupsie teen lede van die ANC. Dit is ’n man wat nie die konsep van “konflik van belange” verstaan nie.

Ek stel voor dat politieke wetenskap 101 verpligtend gemaak word vir alle politici. Dan sal ons aan hulle sulke basiese konsepte soos konflik van belange, verdeling van mag en patronaatskap verduidelik.

Gouws is ’n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Korrupsie  |  Anc  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.