Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beveg negatiewe kommentaar met feite

Die onlangse kritiek op Lesetja Kganyago nadat hy met ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit Stellenbosch vereer is, het hom vir ’n wyle stil gelaat, skryf Leslie van Rooi.

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank, is deur Universiteit Stellenbosch met ’n eredoktorsgraad vereer. Foto: Argief

Soos die meeste ander Suid-Afrikaanse universiteite het die Universiteit Stellenbosch (US) vroeër hierdie maand sy Desember-gradeplegtigheid afgehandel.

Dit bly inspirerend om te sien hoe studente ná jare se harde werk, dikwels onder uiters moeilike omstandighede, hul akademiese reis suksesvol voltooi.

By die US se onlangse gradeplegtigheid was daar weer nie ’n tekort aan inspirasie nie – duisende studente het een vir een oor die verhoog gestap, ouers en familie (direk en indirek) het hul kinders omhels, grootouers het van die trots geswel en die universiteitsgemeenskap het saam gevier.

Twee ervaringe het my egter weer laat stilstaan by hoe ons dink oor die sukses van ander. Dít aan die een kant en, aan die ander kant, of hierdie sukses ’n verskil in ons land (kan) maak.

Die gevolg sal kwansuis wees dat die Reserwebank nou nooit weer aan die land sal behoort nie, dat die Stellenbossers nou werklik die bank sal bestuur.

Die US was bevoorreg om ’n eredoktorsgraad aan die huidige president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, toe te ken. Die graad bevestig ons land se erkenning aan ’n persoon wat oor baie jare, deur sy amp, direk ’n verskil in elkeen se lewens maak. Hy stuur die Reserwebank bestendig en help, deur sy bestuursvernuf, om inflasie so laag moontlik te hou – onder uitdagende omstandighede.

Dit doen hy en sy span juis ook om die lewens van die armstes onder ons beter te maak.

Maar Kganyago se doktorsgraad aan die US het nie sonder kritiek gekom nie. Tussen die gelukwensinge op Twitter was dit duidelik, aldus kommentare op hierdie sosialemediaplatform, dat hy deur hierdie graad van die US te ontvang nou werklik in die kloue van witmonopoliekapitaal is.

Die gevolg sal kwansuis wees dat die Reserwebank nou nooit weer aan die land sal behoort nie, dat die Stellenbossers nou werklik die bank sal bestuur en dat arm Suid-Afrikaners nou ’n nog meer verlore stryd stry.

Dus verraai hy glo die meeste Suid-Afrikaners deur hierdie graad van die US te ontvang.

Vaardighede wat verlore gaan

So erg is die belaglikheid dat dit ’n mens, al is dit dan net vir ’n tydjie, stil laat. Toegegee, dit is Twitter. Maar hierdie terme en verstane en verdwaaldheid voed ’n verstaan van die werklikheid wat alles behalwe gegrond is op feite.

Leslie van Rooi

Hier is ’n man wat ondanks aanslae van links en regs die Reserwebank lei ten bate van die land. En ons waag dit om sy rol te verskraal tot lakeiskap – iets wat ons al hoe meer sien, en soms self doen.

Aan die ander kant van die gradespektrum kom sien ’n gegradueerde my ’n dag ná sy plegtigheid. Hy wil graag ’n verwysingsbrief hê om sy studies voort te sit in die Verenigde Koninkryk. Dit op sigself is fantasties – ek dink alle studente moet ’n kans kry om in ’n konteks anders as dié van Suid-Afrika te studeer. Maar in hierdie geval word dit gou duidelik dat die student nie noodwendig beplan om weer terug na Suid-Afrika te kom nie.

Dit is natuurlik sy reg om te kies en om te bepaal waar hy homself die beste kan bekwaam en sal kan uitleef.

Maar ná vier jaar se studies en ’n direkte investering van die belastingbetaler gaan die student dalk nou sy vaardighede aanwend in ’n konteks anders as dié van Suid-Afrika.

Toegegee, dit beteken nie dat hy nie weer terug sal kom nie en dat hy, waar ook al hy is, op ’n manier nie ’n positiewe invloed op Suid-Afrika kan hê nie. Maar dit is tog jammer dat dié jong ingenieur in die afsienbare toekoms geen direkte invloed op ons samelewing sal hê nie. Ons het beslis sy vaardighede hier nodig.

Ons sal moet aanhou dink oor die rol wat ons graduandi kan en moet speel. Ons sal ook moet dink aan die plek wat Suid-Afrika bied, en dalk nie bied nie, vir hierdie hoogs vaardige en talentvolle gegradueerdes om hier ’n invloed te hê.

Dalk is een van die oplossings daarvoor dat ons die feiteloosheid van persoonlike aanvalle via sosiale media moet teenwerk met ’n hardwerkendheid wat negatiewe kommentaar sal beperk. Dalk is dit die grootste erkenning wat ons die dr. Kganyago’s van die wêreld kan bied.

* Dr. Leslie van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.