Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bevoegdes in kabinet nou dringend nodig

Dit is ’n president wat goed vaar, al is hy spreekwoordelik met een voet in yswater en die ander in kookwater.

Barnard Beukman

Dit is min of meer die opsomming van diegene wat pres. Cyril­ Ramaphosa steeds die voordeel van die twyfel gee (soos News24 se 7/10 vir hom einde verlede jaar).

Die twyfelaars wys daarop dat daar rakende kernkwessies net niks gebeur nie. Hy oorleef polities, ja, maar is dit ’n steriele oorlewing deurdat hy hom uit enige sinvolle inwerkingstelling moet balanseer?

In Oktober gaan hy halfpad deur sy eerste termyn (as president van die land) wees. Teen daardie tyd gaan ons regtig die jurie vir eens en altyd moet uitjaag om te beslis of hy toe die sukses is waarop gehoop is of nie.

So lank kan die jurie ook nie beraadslaag nie, want dan gaan die ontleders, wat reeds hul mening in ink gefinaliseer het dat hy nog ’n “flou makou” of selfs ’n “eentermynpresident” is, reg wees. Om hulle (hopelik) verkeerd te bewys, is daar ’n hele klompie struikelblokke wat hy moet oorkom.

Dit sluit in dat hy sy toenemende politieke konsolidering in die ANC finaal moet deurvoer tot die vlak van aktief beheer neem. Sy ongekende brief aan die party verlede jaar is so ’n daad van beheer neem. Die kwessie van skorsing van misdaadverdagtes en aangeklaagdes uit kernposte kan nog ’n teken wees dat dit wel gebeur.

Die dood van Jackson Mthembu, een van sy mees getroue en doeltreffendste handlangers en minister in die presidensie, is ’n groot terugslag vir Ramaphosa in ’n fyn gebalanseerde omgewing.

Dit kan hom dwing tot ’n punt waar hy die waarde van sy politieke kapitaal kan bewys met ’n deeglike kabinetskommeling.

Nog ’n kwessie is die neem van openbare rekenskap vir die mislukking van etlike ministers – wat veral deur die drukkoker van Covid-19 blootgelê is.

Die algehele onvermoë van die regeringsmasjinerie om enigiets reg te doen – van die vlak van die nodige strategiese maneuvrering (lees entstof-onderhandelinge) tot basiese dienslewering word ’n tragedie. Die land kort dringend meer bevoegde mense in die kabinet.

Hulle moet ’n omgewing skep dat Suid-Afrikaners met inisiatief kan doen wat nodig is en waar die staat die nodige raamwerk doeltreffend verskaf.

  • Op die ANC se 49ste nasionale konferensie in Desember 1994 in Bloemfontein het een party­amptenaar, Febe Potgieter-Gqubule (toe nog net Potgieter), deesdae die party se hoofbestuurder, met joernaliste gepraat oor aspekte van die konferensie.

As politieke verslaggewer van Die Burger het ek toevallig langs Mthembu – wat ook met die media gewerk het – gestaan.

Ek het nie geweet wat Potgieter se van is nie en wou ná afloop van haar opmerkings by hom weet wat dit is. Hy het iets gesê wat vir my geklink het na “Pog-hie-ta”.

“Hoe spel ’n mens dit?” wou ek in Engels weet.

Waarop hy verbaas geantwoord het: “You are a Boer and you don’t know how to spell Pog-hie-ta?”

En toe tref “Potgieter” my.

Mthembu is een van dié Suid-Afrikaners wat wel gepas gedenk kan word met die woorde van Amanda Gorman, die digter wat vandeesweek opgetree het by pres. Joe Biden van Amerika se inhuldiging.

Sy het onder meer gesê: “And so we lift our gazes not to what stands between us, but what stands before us.”

  • Beukman is Beeld se redakteur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.