Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bewaar goed in Pandoradae in ’n lodderyntjie
Jana Luther

Sê die karakter Forrest Gump, in die boek, rolprent van 1986, ’94: “Die lewe is soos ’n boks tjoklits. ’n Mens weet nooit wat jy kry nie.” Net so. Maar in 2020 is dit dalk eerder ’n kis van Pandora.

Die WAT sê “doos”. Maar van “doos”, waarvan daar in 1955 nog vyf betekenisse in gebruik was, het nommer vyf sedertdien die eerste vier verdring om plek te maak vir “boks”. Eers in die spreektaal, toe in die woordeboek.

In die eerste 14 dele van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal kom “boks” altesame 117 keer voor. Maar tot 1996 en die letter M slegs in die betekenis “om met die vuiste te veg”.

Eers van O af, wat saam met N in 2000 verskyn, word “doos” geleidelik deur “boks” vervang.

Dié “boks” word die eerste keer in die WAT opgeneem in ’n sin wat die gebruik van die trefwoord “onvleiend” illustreer.

Aangehaal uit Beeld van 22 Januarie 1998: “ ‘Daar ry ’n Volvo . . . in die boks waarin hy gekoop is,’ lui een van die onvleiende grappies oor Volvo’s.”

(“Pienk”, wat eens “ligroos” of “rooskleurig” was, omdat “pienk” ook as te Engels beskou is, het ’n soortgelyke pad geloop. In die WAT maak “pienk” sy intrede eers by “jupiterblom”.)

Want só verander taal. En dis die gebruikers wat voorloop; die woordeboek kom altyd agterna.

Oor Pandora vermeld die WAT dus dat Zeus haar met ’n “doos” vertrou het, wat sy nuuskierig oopmaak en daardeur ellende oor die aarde laat uitstort.

Oor Pandora vermeld die WAT dus dat Zeus haar met ’n “doos” vertrou het, wat sy nuuskierig oopmaak en daardeur ellende oor die aarde laat uitstort. Vandaar ook die uitdrukking, hier in die Kaap in: Moenie so Pandora wees nie. Moenie so nuuskierig wees nie.

Maar hoe sou dit gekom het dat Zeus – aan die begin van menseheugenis – vir Pandora, die mitologiese pendant van Eva in die Bybelse verhaal van die mens se sondeval, ’n kartonboks gee?

Dit blyk dat die Nederlandse geleerde Desiderius Erasmus, toe hy in die 16de eeu dié verhaal uit die Ou Grieks in Latyn vertaal, per abuis die Griekse woord “pithos” (’n kruik of vat) met die Latynse woord “pyxis” (’n kis) verwar het. Met die gevolg dat Afrikaans, nes Nederlands en Engels, vandag na ’n potensiële bron van ellende nie as ’n Pandora-kruik nie, maar as ’n -kis verwys.

En so, tussen die kis en die boks, dool ek dié week tussen hol goed, skepgoed, hougoed. Want die WAT is ’n hutspot. ’n Mens weet nooit wat jy kry nie. Hoeveel soorte houers? Koppies, bekers, bakke. Potte, panne. Blikke, kanne. Emmers, balies, kuipe, kalbasse . . . Aan bevatters van elke denkbare soort word kolomme en kolomme gewy.

Hier is net nog plek vir ’n paar minder bekendes: “fiool”, ’n botteltjie met ’n lang hals en ronde buikie; “ghrietel” of “tiema”, ’n blikemmertjie vir water; “moesiesdoos”, ’n ronde blikkie, gewoonlik van silwer, vir vanmelewe se aanplak-“skoonheidspleistertjies” (beauty spots); “lodderyntjie”, ’n flessie van glas, porselein, silwer of albaster vir reukwater of parfuum; “nap”, ’n beker of kommetjie van hout; “nef”, ’n skippie vir sout of speserye; en “droomlaaitjie”, enige soort houer wat jy bewaar: ’n droomboks waaruit jy op muwwe-tjoklit- en Pandoradae jou eie droomgoed haal.

  • Jana Luther werk mee aan die WAT.
Meer oor:  Jana Luther  |  Pandoradae  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.