Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beweging in lug oor inperking
Barnard Beukman

Dit gons reeds voor die afgelope naweek in politieke en sakekringe dat die regering, waarskynlik onder hewige druk, gaan beweeg oor die land se inperkingsvlak. En meer belangrik nog, die meegaande regulasies.

Min Suid-Afrikaners glo dat – met ons land se sosio-ekonomiese werklikhede – die Sweedse model van “verantwoordelike gesonde afstand sonder inperking” ooit as ’n wegspring hier sou kon werk.

Maar die inkoop in die inperking het vinnig begin versuur met die uitreiking van die vreemdste en selfs teenstrydige regulasies. Dit en die veiligheidsmagte se onnodig wrede optrede het verdere geduld met selfs moontlik noodsaaklike inperking erg ondermyn.

Dat die ekonomie houe sou vat, is wêreldwyd onvermydelik. Pleks daarvan om enkele noodsaaklike lugpype vir die ekonomie oop te hou, het die ervaring ontstaan dat daar sommer op elke moontlike lugpyp getrap word.

Nog nooit is ’n president, wat so vinnig politieke wins en goedgesindheid kon opbou met sy hantering van ’n situasie, so vinnig ondermyn deur ’n spulletjie lomp kaders nie. Politici moes deur die geskiedenis meermale in moeilike situasies bloot op instink beweeg en ook só hul ware karakter onthul.

Maar dis asof daar ’n middernagklok gaan slaan as hy nie betyds ’n greep op bepaalde goed kry nie.

En watter prentjie het dit nie van talle ministers onthul nie? Al is sommige daarvan wanindrukke op grond van lomp kommunikasie, word indrukke meermale blywend en kon selfs die CR-vernislaag nie wyd genoeg strek om die blink kant bo te hou nie.

Die president is ’n bietjie in die situasie van Aspoestertjie, wat met die goue koets en mooi uitrusting die middelpunt van die bal is en die prins (kiesers) betower het. Maar dis asof daar ’n middernagklok gaan slaan as hy nie betyds ’n greep op bepaalde goed kry nie. Die slaan van die klok is al hoeveel keer aangekondig, maar dis asof die horlosie steeds bly tik. En dan wag die nare stiefma en -susters ook nog . . .

Tog is die verwarring van die ongedurige stand van inperking die laaste tyd verkeerdelik verwar met magstryde in die ANC. En is magskuiwe na opposisie-alliansies van Cyril Ramaphosa in die ANC, wat nie werklik soos voorgestel bestaan nie, ’n sameflansing van twee jaar gelede se intriges en onlangse gerugte. Ramaphosa is stewiger in die saal as wat voorgestel word.

Die ANC het wel staatskaping toegelaat en heelwat kanse om sake te begin regruk, verspeel weens ideologiese verstarring. Dit het die organisasie nou ingehaal en die land betaal die prys midde ’n bestaanskrisis.

Ramaphosa se jongste nuusbrief, saamgelees met ander uitlatings en terugvoering­ aan sakelui, insluitend die tabakbedryf, dui wel op beweging.

Ook die kabinet se moontlike aanpassing van sy magsverhouding met die veelbesproke bevelsraad. Duidelik ’n tree terug na aanleiding van regsdreigemente. Wat wys die krag van die teenwoordigheid van ons Grondwet geld tog. (Nadere besonderhede was by die skryf hiervan nog onbekend.)

Oor die verslapping van die inperking wissel sprake van beweeg na vlak 3, selfs met sommige eienskappe van vlak 2. Of as vlak 4 behou word, met elemente van vlak 3 en 2. Die hoop beskaam nie dat Ramaphosa, ná ’n amper ongemaklike tydsverloop sedert sy vorige direkte toespraak, gouer as later met ’n oortuigende comeback sal kom nie. En daarmee kettings van die ekonomie, hulp­organisasies en die psige van sy nasie sal begin lossny – ten minste tot op die vlak van rasionaliteit.

Daarna gaan elke mens toenemend sy lot in sy eie hande neem. Maar as die pandemie dan op onverwagse plekke uitslaan, gaan dieselfde klomp uitbrekers wat nou so kerm, maar net weer opnuut vingers wys en kla.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Cyril Rama­Phosa  |  Koronavirus  |  Ministers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.