Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bewysstuk én ooggetuie van die geskiedenis

Dit moet eensaam en koud wees wanneer die wind om jou hoeke sny en jy roerloos in die nag wag op die oggenddou om op jou skouers klaar te huil.

Esté Gross.

En in die dag, wanneer die son jou warm bak, kom die duiwe sommer vrypostig op jou arms sit sonder dat jy eens ’n oog daaroor kan knip.

En al kla jy steen en been, sal niemand jou hoor as jy ’n bietjie koelte vra nie.

Jy staan daar, bloot as ’n getuie van die geskiedenis – en vasgevang in ’n versteende blik.

Enkele aardbewoners sal miskien vir ’n oomblik by jou stilstaan en vir jou kyk, maar die meeste skuur bloot verby om met hul vlietende lewe aan te stryk.

Daar staan jy – dag in en dag uit – een mens se held en ’n ander se skurk, met geen verweer as iemand aan jou lyf kom pluk of graffiti-woorde in jou stom mond kom neersit nie.

Nee, een ding is seker: Al sou ek eendag watter hoogtes ook al bereik wat vir ander in die verre toekoms dálk belangrik kan lyk, het ek geen begeerte om as ’n standbeeld onsterflik op die aarde aan te bly nie.

Dit lyk eenvoudig nie na ’n gelukkige en vreedsame verblyf nie.

Veral deesdae, as mense jou sommer herwaarts en derwaarts wil verskuif omdat jy kwansuis vir hulle ’n steen des aanstoots is.

Dit lyk asof daar geen steen onaangeroer gaan bly totdat jy uiteindelik gaan aankom op ’n plek waar jy met rus jou staan kan kry nie.

Jy word daagliks uitgelewer aan eensydige beoordelaars­ se wisselende drempels van verdraagsaamheid, al het hulle die voordeel om – anders as jy – nog elke dag asem te haal en tot ander besluite en gevolgtrekkings te kan kom.

Jou verhaal word soms verdraai en verfomfaai, soos klippe wat na jou kant toe gegooi word.

Ek het tog waardering vir die rol wat ’n uit­gebeitelde stuk klip op ’n plein in ons lewe speel.

Ek het tog waardering vir die rol wat ’n uit­gebeitelde stuk klip op ’n plein in ons lewe speel.

Dit dien as ’n gewete en konfronteer selfs ons besluite en ideologieë – dít waarin ons glo en wat ons daaglikse lewe, wetend of onwetend, rig.

Dit lok ook ’n waardering vir iemand se handewerk en is ’n toets vir elkeen wat verbyloop se begrip van die verlede en hede.

En dit stel ’n belangrike vraag aan ’n verbyganger oor hoe hy die toekoms verder wil inloop.

Die invloedryke staatsman Perikles (495 v.C.-429 v.C.), wat Athene se status as opvoedkundige en kulturele sentrum in die antieke Griekse wêreld gevestig het, het geweet erfenis is uiteindelik veel meer as ’n standbeeld.

Hy het gesê: “Wat ons vir ander agterlaat, is nie gegraveer in monumente van klip nie, maar dit wat geweef is in die lewe van ander.”

Of jy dus hou (of nie) van ’n beeld wat ’n barshou kan kyk, is dit juis daarom goed om soms ’n gegote klip in die oë te kyk en te vra: Hoe sal my nalatenskap eendag vir iemand anders lyk?

  • Gross is ’n omroeper, nuusleser en joernalis.
Meer oor:  Esté Gross  |  Getuienis  |  Eensaamheid  |  Standbeelde  |  Geskiedenis  |  Ooggetuie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.