Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bfn is lekkerste stad, maar . . .
Gert Coetzee

Wat noem ’n mens ’n stad wat weens swak diens water- en kragloos en vervalle is, en die burgemeester gaan sit in ’n restaurant met ’n teenparty om volgeprop oor “oplossings” te praat. En slaan haar hande verwese saam as dit tot niks lei?

Mangaung, natuurlik.

Soos talle Volksblad-lesers seker stik ek toe ek lees die nimlike Olly Mlamleli, handeldrywend as ANC-burgemeester, sê sy en haar span het met die voorsitter van Bloemwater in ’n restaurant op Naval Hill (nogal) gaan “sit” om oor hul waterdispuut te praat. Tot die nimlike Olly se verbasing het die blink plan nie Mangaung se waterskuld van R419 miljoen soos kits laat krimp nie.

Terwyl by die burgemeester – daar is glo nou selfs in die Mangaungse ANC ’n faksie wat van haar ontslae wil raak.

Hoera! As selfs die ANC met jou ontevrede is . . . Hoewel ’n vrot CV jou in dié party juis tot ’n hoër salarisvlak kan aandu. Ingevolge die matematiese formule dat hoe laer die dienspeil hoe hoër die salaris is. Dit werk ’n bietjie soos Einstein se omgekeerde relatiwiteitsteorie.

Voorverlede week is die oranje vlug van Kaapstad na Bloemfontein vol met hokkiespelers van die Rynse skool van Stellenbosch en hul ouers wat hul eweknieë hier (ek wou sê die Rosestad, maar bedink myself) kom aandurf.

Siestog, dink ek, ek wonder of hulle besef wat hier op hulle wag. Al wag ’n groot reklamebord met die gesig van die einste burgemeester besoekers in, net daar waar ’n mens van die lughawe-pad regs in die N8-doodspad indraai.

Sonder ’n waarskuwing oor hoe vuil, verwese en flenters die onkruidbesaaide stad is en dat hulle gelukkig sou wees as hulle daagliks kon stort.

Welkom, heet sy besoekers hier.

Sonder ’n waarskuwing oor hoe vuil, verwese en flenters die onkruidbesaaide stad is en dat hulle gelukkig sou wees as hulle daagliks kon stort. Om ander redes as die droogte in Kaapstad waaroor besoekers gevra word om nie langer as 60 sekondes te stort nie.

Of ’n vermaning om snags op die uitkyk te wees vir die jaagdemone wat die bietjie van die stad wat nog heel is verder aan flarde te ry. Soos berig is oor Dan Pienaar wat in die nagtelike ure in ’n renbaan ontaard. Toegegee, hul jaaglustige vernielsug is seker nie Mangaung se skuld nie, maar wettelose anargie is aansteeklik.

Bloemfontein is ’n lekker plek. In Kaapstad spog ek graag dat ek soggens gouer by die werk is, as wat dit kollegas neem om van die grondvlak per hysbak tot hoër op te vorder.

As dit kom by leefgehalte, is ons geliefde stad ’n onontdekte juweel. Die tyd wat jy in ander stede in die verkeer deurbring, voeg jy hier by jou dag.

Bloemfontein bied eintlik alles. Dit is groot genoeg vir anonimiteit en klein genoeg om soms te kan verdwyn.

Dit maak dit trippel hartseer dat die Mangaung-metro-munisipaliteit onder die ANC die afgrond in bestuur word. Een voorbeeldjie: Soos baie ander strate gaan Nelson Mandela-rylaan (vroeër Voortrekkerstraat, en vóór dit St. John-straat) binne ’n jaar of twee ’n gruispad wees. Dis maar so.

Maar dit skeel Ace, Olly en Sisi nie.

Nes Moody’s se afgradering van die MMM met drie kerwe onbenullig is. Vir seker is dit nie Mxolisi Siyonzana, ANC-speaker van die MMM, se skuld nie. Toe by hom hieroor navraag gedoen is, het hy nie van dit geweet nie.

Die groot slagoffers is diegene wat die ANC voorgee hy die meeste help. Vandat ek politieke beriggewing meer as twee dekades gelede begin doen het, beloof ANC-politici die trein van Botshabelo na Bloemfontein gaan heringestel word. Maar niks nie.

Nou’t ek nog nie eens oor die R100 000 aan ’n EFF-begrafnis of ’n verdwene miljoen of wat aan die Miss Glamorous Free State-kompetisie gehekel nie.

Die MMM se reaksie (geen) oor die Moody’s-afgradering sê alles: Vrot.

Uitgevang. Skuldig. Skoert.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Gert Coetzee  |  Korrupsie  |  Stad  |  Vuil  |  Moody's Afgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.