Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bied slegte nuus konstruktief aan
Jeanelle Greyling

Ons word daagliks met negatiewe nuus gebombardeer.

In ’n demokrasie soos Suid-Afrika is dit dikwels noodsaaklik dat die media die wanpraktyke van die regering, maatskappye en individue onthul en hulle daarvoor verantwoordbaar hou.

Ander nuus lewer oënskynlik ’n geringe bydrae tot die samelewing. Jy lees te gereeld die gruwelike nuusstories, soos oor pa’s wat na bewering hul seuns verkrag, jong mans wat glo hul meisies vermoor en kinders wat hul familielede vir geld vermoor.

Die deurlopende blootstelling aan dié grusame nuus kan veroorsaak dat nuuslesers ’n negatiewe wêreldbeskouing ontwikkel. Ander mense raak bloot gevoelloos oor dié voorvalle.

Sommiges vertel prontuit hulle het – ter wille van hul geestesgesondheid – besluit om die nuus te vermy.

’n Mens vra jouself af waarom die media die slegte nuus dek as dit oënskynlik geen bydrae tot die samelewing lewer nie.

Die antwoord is eenvoudig: Goeie nuus verkoop nie.

Die antwoord is eenvoudig: Goeie nuus verkoop nie.

Dit is ’n bewese feit dat minder mense nuuspublikasies koop as die voorblaaie goeie nuus dra. Dit is baie beter vir ’n koerant se verkope om slegte nuus op die voorblad te dra.

Hoewel mense gewoonlik sê hulle wil meer positiewe nuus hê, het die meeste vrywilligers in ’n onlangse studie gekies om die negatiewe aanlyn nuus te lees. Ten spyte van dié groep se voorkeur vir goeie nuus, het hulle in ’n natuurlike omgewing op die slegte nuusstories geklik.

Stuart Soroka, ’n professor in kommunikasiestudies en politieke wetenskappe aan die Universiteit van Michigan, Amerika, meen ons verkies slegte nuus bo goeie nuus omdat die potensiële koste van negatiewe inligting baie meer weeg as die potensiële voordele van positiewe inligting.

Sielkundestudies bewys dat negatiewe pleks van positiewe ervarings ’n baie sterker impak op ’n mens het.

Sielkundestudies bewys dat negatiewe pleks van positiewe ervarings ’n baie sterker impak op ’n mens het. Daar is ook studies wat aan die hand doen dat negatiewe inligting oor iemand meer weeg as die positiewe inligting wat jy oor hulle ontvang. Boonop dui navorsing daarop dat mense meer energie gebruik om aan slegte dinge te dink as aan goeie dinge.

Soroka en Stephen McAdams het ’n groep vrywilligers se fisiologiese aanduiders, soos hul hartklop en sweetvlakke, getoets. Sweetvlakke dui aan hoe gestimuleer jy is en ’n stadiger hartklop hoe aandagtig jy oplet.

“Ons bevindinge dui aan dat negatiewe nuusinhoud jou stimulering en oplettendheid verhoog,” skryf Soroka in ’n blog oor dié studie. Daarteenoor het die positiewe nuusinhoud geen merkbare impak op die vrywilligers gehad nie.

Dié soort studies moet die media egter nie ontmoedig om goeie nuus te dek nie. Dit kan ons eerder insig gee en help om nuus met ’n positiewe aanslag te bied wat die lesers betrek.

Dit is reeds bemoedigend om ’n toename in konstruktiewe nuus te sien. Die ontstellende nuusstories soos dié oor besoedeling, verkragting of massamoord word dikwels met wenke vergesel om te voorkom dat dié probleme weer kop uitsteek. Nie net maak dit die lesers minder negatief nie, maar só bly ons ingelig, optimisties en betrokke.

Greyling is die redakteur van Metro-Beeld-Suid.

Meer oor:  Jeanelle Greyling  |  Tydskrifte  |  Koerante  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.