Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bitter pil wag vir taksbetalers
Willie Spies

Verlede week het die waarskuwings van twee vooraanstaande meningsvormers, Johann Rupert en R.W. Johnson, die openbare diskoers op hol gehad.

Albei het gewaarsku dat Suid-Afrika op die drumpel staan van ’n toestand waarin die regering geen ander keuse gaan hê nie as om die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) om hulp te nader om die ekonomiese skip vlot te hou.

Tussen 2000 en 2008 het die gemiddelde rand-dollar-wisselkoers gewissel tussen R6,72 in 2000 en R7,56 in 2008. Selfs in die Zuma-era het die rand verbeter tot R6,77 per dollar in 2011, maar sedert 2012 gaandeweg verswak tot die vlakke waar dit nou staan. Nadat die rand aan die begin van die jaar begin verstewig het in reaksie op die optimisme onder sakelui en ekonome dat die einde van die Zuma-era goeie nuus vir die ekonomie sou wees, het ons geldeenheid intussen weer geval en kos ’n Amerikaanse dollar nou meer as R15.

Die gangbare toets onder ekonome om te bepaal wanneer die rooi ligte begin flikker op pad na die noodsaak vir ’n IMF-reddingsboei, is ’n verhouding van staatskuld teenoor die bruto binnelandse produk (BBP). Wanneer staat­skuld soveel as 60% van die land se totale BBP oorskry, lui die alarms dat IMF-hulp nodig is. Suid-Afrika se huidige verhouding van staatskuld teenoor die BBP is egter reeds meer as 68%.

Dit wil voorkom of die mate van roekeloosheid en irrasionaliteit waarmee die land bestuur word, geen einde het nie.

Die rasionele, verantwoordelike ding vir enige regering in sulke omstandighede sou wees om oral briek aan te draai en beleidsrigtings wat verdere besteding tot gevolg gaan hê of wat vertroue in die ekonomie in gevaar stel, vir eers op ys te plaas en ten minste te luister na die vele oproepe om mislukte staatsondernemings te privatiseer.

Maar nie hier nie.

Drie weke gelede het die parlement die proses om die Grondwet te wysig sodat onteiening sonder vergoeding moontlik raak, weer op dreef gekry en ’n ad hoc-komitee benoem om die proses te dryf.

Die prosesse om eiendomsreg onseker te maak, lei onmiddellik tot ’n afname in sakevertroue, maar ANC-politici blameer die wit minderheid vir internasionale skeptisisme oor die onsekerheid wat deur die beoogde grondwetwysiging veroorsaak word.

Verlede week het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ter tafel gelê ten spyte van hewige teenstand uit die sakesektor en die mediese professie.

Hoewel die wetsontwerp reeds gepubliseer is, het die nasionale tesourie nog nie ’n behoorlike kosteraming gedoen van wat die NGV die belastingbetaler gaan kos nie. Daar is in die 2019-begrotingswetsontwerp ook reeds R2,1 miljard begroot vir die instelling van die wet. Ramings oor wat die stelsel belastingbetalers gaan kos, wissel tussen die gesondheidsdepartement se R256 miljard en die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se R450 miljard per jaar.

Indien die departement van gesondheid reg is, gaan die stelsel elke geregistreerde belastingbetaler sowat R35 000 per jaar kos. Indien die IRV reg is kan die syfer styg tot nagenoeg R60 000 per geregistreerde belastingbetaler.

Eergister het pres. Cyril Ramaphosa op ’n saamtrek van die ANC-vroueliga in Soweto breëbors aangekondig dat die NGV hier is om te bly – of mense daarvan hou of nie.

Dit wil voorkom of die mate van roekeloosheid en irrasionaliteit waarmee die land bestuur word, geen einde het nie.

Die reeds leeg gemelkte 7 miljoen geregistreerde belastingbetalers, uit ’n bevolking van byna 60 miljoen, sal die bitter pil van NGV moet sluk – of dalk nie.

* Spies is ’n prokureur by Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.

Meer oor:  Willie Spies  |  Taksbetalers  |  Ekonomie  |  Landsbestuur  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.