Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blaas Zuma met F-of weg is selfmedikasie
Charles Smith

Daar is vir my veel groter nuus as nóg ’n Britse bloubloed-pienkvoet wat ons emosioneel verder gaan kolonialiseer, óf Karlientjie wat haar liefde aan nog ’n man op Instagram uitblaker.

Dit is die eersdaagse uitreiking van die Afrikaanse gatskop-punkrockers Fokofpolisiekar se eerste album in 10 jaar, Selfmedikasie. Dit sal daai ongebore Ingilse prinsie by voorbaat laat kriewel. Want hy laat my al kriewel oor al die strooi wat ons nog oor hom gaan lees.

Daar is net een manier om Britse koninklikes, Zumas, Guptas, Bell Pottingers en Donald Trumps van die wêreld uit jou kop te kry – en dit is om hulle met musiek met die krag van die orkaan Irma weg te blaas.

En dit in Die Taal.

Jy draai die song Tevrede? oop dat die rowwe klank alle politieke besmetlikheid, taalgalkoors, giftige popdeuntjies en ingelse bevooroordeeldheid uit jou lewer, hart en niere blaas.

Vatso, Slim Wim de Villiers! Voertsek, Bel Pottinger! Hamba, Zuma, hamba! Pantsi, ANC, pantsi!

Niemand buite die F-of-kring het al ’n song van die nuwe CD gehoor nie, maar die titel Selfmedikasie dui waarheen Afrikaans mik: Die album is met R1 miljoen gemaak wat deur skarefinansiering ingesamel is. Al die ondersteuners wat geld gegee het, kry spesiale erkenning, soos om die album te kry ’n maand voordat dit op die rakke is.

Koos Kombuis het sy jongste CD Langpad na Lekkersing ook só gemaak. As jy nog nie die song Ek wil net huis toe gaan saam met David Kramer geluister het nie, luister jy waarskynlik nie oorspronklike Afrikaanse musiek nie. Kry daai toksiese popgif uit jou lyf, skaf vir jou ’n Bachus Nel, Valiant Swart, Piet Botha, Koos Kombuis, Jan Blohm en F-of aan, en dans!

Die laaitie ken F-of en Valiant-songs van langpaaie in ’n plaasbakkie.

Terwyl ons na F-of op Die ooms se band op die Via-kanaal kyk, noem ek aan my 11-jarige laaitie dat die rockers eersdaags in Die Mystic Boer in Bloem is.

“Ek wil saam!” skrou hy. Hy ken F-of en Valiant-songs van langpaaie in ’n plaasbakkie. Ons sing hardop saam met Juluka of Valiant se Nagrit (hoewel sy juffrou dit nie moet hoor nie).

“Nee, jy is hopeloos te jonk,” moet ek sy vuur blus. Maar toe besef ek dat as hy te jonk is, is ek dalk te oud vir tieners wat op en af spring. Ek beleef net F-of se 1 000 Volt-klank; om in die skare te duik is dalk nie vir iemand bó 50 se lyf bedoel nie.

Nietemin kon ek, hy en die blondie hardop saam sing toe Die Kalahari Orkes se Staan my by speel. Ek het die laaitie vroeër na DKO se opskop in Die Aasvoëlklub geneem.

En daar sing ons: “Staan my by, my bra. Staan my by. . .!” Soos almal F-of bygestaan het. Of boere in nood bystaan en om Bell Pot se jis te skop. En gaan saamstaan om Zuma uit te skop. Dis mos selfmedikasie, man!

Meer oor:  Menings  |  Politiek  |  Rubrieke  |  Fokofpolisiekar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.