SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
BLF by ’n tweede Bloedrivier

Toe die aktualiteitsprogram Unfiltered die joernalis Jo Prins saam met die Black First Land First-leier Andile Mngxitama uitnooi, was die gort gaar. Prins vertel hier hoekom hy Mngxitama “swart en arrogant” genoem het.

Andile Mngxitama verduidelik by ’n perskonferensie hoekom hy by ’n saamtrek in Potchefstroom gedreig het om vyf wit mense dood te maak vir elke swart mens wat doodgemaak word. Foto: Felix Dlangamandla

Andile Mngxitama haat twee goed: rassiste en witmense.

Dis nou die kêrel van die verlinkse groepering Black First Land First (BLF).

In ’n sameloop van omstandighede bevind ek myself in ’n stoel langs Mngxitama in die ateljee van die aktualiteitsprogram Unfiltered wat Maandagaande op SABC3 uitgesaai word.

Kenosi Khwene, een van die regisseurs, het my gekontak vir ’n vooraf-opname wat hulle vir Versoeningsdag beplan.

... en hel, dit gaan oor versoening: Ek’s in!

Hulle wil skynbaar kyk na die “algehele stand van versoening” en of Suid-Afrikaners daartoe in staat is om saam te staan.

Op die oog af stel Khwene spesifiek belang in die Ubudlelwano-gesprekke tussen verskillende kulture wat ek en Melusi Tshabalala die laaste sowat twee jaar in Johannesburg aanbied.

Wat nie Khwene of haar aanbieder, Desiree Chauke, my vooraf laat weet het nie, is wie die ander gaste in die ateljee sou wees. Natuurlik kon ek gevra het, maar ek het gereken dis blootstelling vir Ubudlelwano en hel, dit gaan oor versoening: Ek’s in!

Bloedrivier

Jo Prins

Ná ’n heel vriendelike uitnodiging van dié bastion van die elektroniese uitsaaiwese, daag ek by TV Park in Auckland Park op.

En wie teken by ontvangs saam met my in? ’n Heel aangename Andile Mngxitama. Ons groet mekaar met die hand, en dis ook die eerste en laaste keer wat ons hoegenaamd vriendelik met mekaar praat.

In haar inleiding tot die gesprek val Chauke met die deur in die huis. Bloedrivier en die feit dat Afrikaners lank dié dag vir hulself opgeëis het, word behendig ingewerk tussen ander besonderhede oor dié dag.

Uit die Kaapse ateljee, op ’n groot skerm, kyk die derde gas, Stanley Henkeman van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, vaderlik toe.

En dis hier waar dinge ontspoor – sommer net so.

Mngxitama trek los met revolusie-retoriek en ek voel half jammer vir die ou, want die vreedsame skikking en Mandela het dié revolusie reg onder sy gat uitge-onderhandel.

Ek hoor hoe die “means of production” nog in wit hande is; hoe die howe waartoe mense hulle moet wend vir geregtigheid nog in wit hande is; en dan comrade Mngxitama se coup de grâce – dat witmense natuurlik in 1652 hier aangekom het en gewoon voor die voet begin grond vat het.

Dis moontlik die feit dat ek my oë vir hom gerol het, of dat ek hom aan die skouer gevat het, maar die comrade is nie beïndruk nie.

Grondonteiening sonder vergoeding is net kort van ’n gebalde vuis op sy lippe.

Dis moontlik die feit dat ek my oë vir hom gerol het, of dat ek hom aan die skouer gevat het, maar die comrade is nie beïndruk nie. Soos ’n skoolseun vol hormone begin sy een voet op-en-af begin wip, en toe sê hy: “I don’t like to be touched!”

Ek wil nog vra of dit iets met sy “studio” te doen het, maar helaas is dit tyd vir ’n advertensiepouse.

’n Sigbaar tevrede Chauke met voetjies lekker aan’t krul onder haar stoel, kon nie vir lewendiger interaksie gevra het tussen wit en swart nie – mos nou vir hulle “Versoeningsdag”-program.

‘Wit en arrogant’

Lede van die BLF bestorm die hoofkantoor van ABSA in die middestad van Johannesburg. Foto: Wikus de Wet

Tydens die pouse kom vloerpersoneel vinnig by die ateljee in en skuif Mngxitama se stoel verder weg van myne. Ek koggel hom so ’n bietjie (ja, ek weet, dis kinderagtig van my): “Ag nee, waarheen gaan jy?”

Dan sê hy vir my ek is wit en arrogant – en ek sê vir hom hy is swart en arrogant. Nie my helderste oomblik op TV nie, maar die man is – hoe stel ’n mens dit nou diplomaties – ’n nersderm. En dit het niks met sy ras of kleur te doen nie.

Laat my dink aan ’n swart vriend van my wat met sy honde sonder leiband in die botaniese tuin geloop het, toe ’n wit omie vir hom sê: “You people!” Menende mense wat met hul honde sonder leiband loop – dit het niks met ras te make gehad nie.

Wanneer ek my oë toemaak kan hierdie kêrel netsowel daai gewilde Afrikaanse sanger wees.

Maar hier is ons nou, en ná ons heen-en-weer maak Chauke die opmerking dat dit nie lyk asof versoening enigsins op hande is nie – so asof Mngxitama namens alle swartmense in die land praat.

Wanneer ek my oë toemaak kan hierdie kêrel netsowel daai gewilde Afrikaanse sanger wees . . . natuurlik net met ’n swart vel en finansieel heelwat beter daaraan toe, met hoër mure om sy leunstoel-revolusie aan te blaas. Selle WhatsApp-groep; selle sotlikhede.

Dan vra Chauke vir comrade Mngxitama oor sy groot helde, die beleërde Jacob Zuma en Robert Mugabe – ek meen staats-kleptokrate par excellence (en laat ons nie die Zimbabwiese “suksesverhaal” buite rekening laat nie).

“So it goes,” is een van die Amerikaanse skrywer Kurt Vonnegut se gewilde frases . . . “so it goes indeed”.

Beloftes maak skuld

Niq Mhlongo was die spreker by Ubudlelwano se byeenkoms in Oktober vanjaar.

Is daar enigiets waarmee ek saamstem met dié knaap van BLF?

Ja.

Dat heelwat swart mense in Suid-Afrika gefrustreerd is met die spoed van regstellende aksie en dat grond steeds ’n reuse-knelpunt is en in die afsienbare toekoms selfs ’n groter knelpunt gaan word.

Die Vryheidsmanifes het after all heelwat vir mense belowe, soos dat die deure van die onderwys vir almal oop sou wees (kyk maar na die stand van ons onderwysstelsel) en dat die land/grond onder die mense verdeel sou word.

Ons sal eers bymekaar moet uitkom om die andersheid af te breek.

En beloftes maak skuld. Dis meer as 25 jaar later en waar trek ons?

En dan sê Mngxitama witmense se houding, oftewel attitude, is glad nie versoenend nie: “Ons” het steeds ’n beter deal as “hulle” in ’n stelsel wat veronderstel is om gelykheid mee te bring. ’n Stelsel wat veronderstel is om na “hulle” om te sien.

Ons kan nie net “daaroor kom en aanbeweeg nie”. Ons sal eers bymekaar moet uitkom om die andersheid af te breek.

Maar revolusie is nie die antwoord nie, gesprek is.

’n Seepkissie vir Mngxitama

Jo Prins: “Wanneer ek my oë toemaak kan hierdie kêrel net sowel daai gewilde Afrikaanse sanger wees . . . natuurlik net met ’n swart vel en finansieel heelwat beter daaraan toe, met hoër mure om sy leunstoel-revolusie aan te blaas.” Foto: Felix Dlangamandla

So aan die stertkant van die onderhoud vra Chauke so ’n wollerige vraag oor “gender” en raai, die onverskrokke joernalis daag nie vir Mngxitama uit oor sy en die BLF se behandeling van die joernalis Ferial Haffajee so ’n jaar of wat gelede nie.

Nee, botter kan nie in Mngxitama óf Chauke se mond smelt nie – dalk was die tyd te min.

My raad aan die regisseurs van Unfiltered: Met die samestelling van ’n paneel wat ’n sinvolle gesprek oor versoening moet voer, kan jy nie op lastminute.com staatmaak nie.

En om Mngxitama nog eens ’n seepkissie te gee, wys maar net waar jul onderrok wapper.

*Dié episode van die program Unfiltered word Maandag 16 Desember om 20:30 op SABC3 uitgesaai.

*Jo Prins is ’n vryskutjoernalis en mede-fasiliteerder van Ubudlelwano. Die volgende Ubudlelwano is op Saterdag 1 Februarie 2020 in Melville, Johannesburg. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.