Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Blitzkrieg’-plan vir 2019 val vas in dryfsand

Wat met Eskom gebeur, sou gebeur het, al was wie ook al nou president. Tog moet Ramaphosa verantwoordelikheid aanvaar vir sy slakke­pas-konsultasie in kringe.

Barnard Beukman

“Wag net totdat Cyril Ramaphosa ingehuldig is ná die verkiesing. Dan sal hy sy eie mandaat hê. Die plan is om dan met ’n blitzkrieg weg te spring en al die nodige en ongewilde goed in 2019 te doen sodat hy weer op sy voete kan land vir die ANC se interne kongresse.”

Aan die woord, einde 2018, enkele lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en sterk Cyril-manne. Daar is toe ook in dié rubriek oor die beplande blitzkrieg geskryf.

“Het iemand die president ooit van die plan vertel?” vra ’n ander ANC-hooggeplaaste en ook ’n geswore Cyril-man toe hy onlangs daaroor gepols word. “Want nou is dit stadige verlamming deur konsultasie en nogmaals konsultasie en weer eens konsultasie. Van een NUK-subkomitee na ’n ander kabinetskomitee en dit word die leefwyse in kringe.”

Die beeld wat begin ontstaan van ’n lomp, reaktiewe president wat net niks kan regkry nie, word nou sterker as ooit geprojekteer. Presies wat sy teenstanders wou gehad het – die draaiboek wat Ace Magashule en kie geskryf het.

Die eerste tekens dat daar probleme is, het begin toe die Ace-faksie eenvoudig die ANC-kandidatelyste kort voor indiening verander het. Pro-Cyril-kandidate is eenvoudig uitgelaat en afgeskuif. En vervang met meelopers uit die ou Zuma-kamp. Van die misdadigers is ook later as komiteevoorsitters in die parlement aangestel.

In elke algemene verkiesing reik partye rieme vol manifeste en beloftes uit. Maar elke leier het dan soort van sy eie voorkeurvoorstel wat hy of sy gereeld as prioriteit uitlig. Rama-phosa s’n was die drastiese vermindering van staatsdeparte-mente en die verkleining van die kabinet. Selfs dít is hy nie toegelaat om behoorlik uit te voer nie. Daar is nou wel minder ministers, maar ’n hele spul trogvreters is as adjunkministers bygebring. En die departemente, elk met ’n eie direkteur-generaal, stoom voort. Al verskil is dat meer departemente nou ’n minister deel.

Die gereelde voorbeeld van swak regering wat Suid-Afrikaners vanjaar beleef het, is meestal die nagevolg van die Zuma-era se staatskaping wat nou tot ineenstorting lei. En met kantoorblokke vol onbevoegdes is die kundigheid net nie daar om sake vinnig te beredder nie.

Pres. Cyril Ramaphosa saam met Faf de Klerk, Springbok-skrumskakel.

Wat met Eskom gebeur, sou gebeur het, al was wie ook al nou president.

Tog moet Ramaphosa verantwoordelikheid aanvaar vir sy slakkepas-konsultasie in kringe.

Jan Oberholzer, Eskom-bedryfshoof, gebruik in ’n ongekende stap die media om openlik te vra dat die regering meer moet doen om alternatiewe energiebronne in die nasionale kragnetwerk los te laat. Maar die daagliks al hoe ellendiger Gwede (Tierkat) Mantashe (hy is sopas as ons politieke hekelrubriek, Lood se praatjies, se Nat Vadoek van 2019 aangewys) kan nie sy g*t in rat kry om dit te doen nie.

Die rede? Kom ons ontleed: gebrekkige kundigheid, sosialistiese ideologie wat glo die regering kan nog alles bestuur en moontlik omdat kamerade nie ’n greep van selfverryking het op kontrakte wat toegeken moet word nie. Dit is maar net een gevallestudie wat van staatsondernemings tot stadsrade voorkom.

Hier sou leierskap mos beteken dat Ramaphosa pleks van sy verwarrende ek-is-sopas-terug-uit-Egipte-en-dis-mos-sabotasie-en-ons-belowe-alweer-beurtkrag-sal-minder-word-toesprakie, eerder ’n aksieplan van 90 dae aangekondig het om die alternatiewe energiestrome in die stelsel te kry. Nou vergader en konsulteer die klomp alweer. Selfs gister ’n kabinetsvergadering op die Vrydag en al.

“Dis steeds die heilige vrees vir die vakbonde,” sê nou die dag se NUK-man. En daarom word die slagtings wat by openbare ondernemings nodig is nou aan sakeredders en buitengewone administrateurs gegee.

“Die president bevind homself dalk sonder ’n werk as hy self ingryp en in vakbondlede se diensvoorwaardes en werksekuriteit inmeng.”

Ekonome, ontleders en agter die skerms ook regeringslui is erg gefrustreerd met die Reserwebank se besluit om nie rentekoerse te verlaag nie. Genoegsame uitleenkoersverlagings kan immers die ekonomie deur verhoogde verbruikersbesteding in ’n positiewe groeifase begin plaas. Maar die land se sentrale bankiers glo duidelik dat dit geld in die water sal wees voordat daar duidelike en doeltreffende inwerkingstelling van regeringsdoelwitte is, dieselfde bladmusiek wat die graderingsagentskappe gebruik. Vandaar die tesourie se byna desperate stap om sy ekonomiese groeiplan eensydig uit te reik. (Van die min daadwerklike vordering wat wel gemaak is.)

Vir nou steun Beeld nog Ramaphosa se pogings om die land se wedstrydplan op te gradeer na die Springbokke se wentaktiek waar dit hoort. Selfs die beste ontleders het nie ’n idee van die felheid van die interne aanslag deur die oorgeblewe staatska-pers nie. Hulle daal selfs tot op die vlak om die president se boodskap aan die nasie in die SAUK se uitsaai-ateljee met die verkeerde een om te ruil.

En hou maar dop. Hoe nouer die vervolgingstrop (nog vordering wat gemaak word) om hulle begin trek, hoe desperater en gevaarliker gaan hulle word.

Ramaphosa se visie van ’n robuuste beleggingsekonomie met ’n kleiner en doeltreffender regering en meer geleenthede kan steeds werk. En daar is tekens dat beter kundigheid al hoe meer daarvoor betrek word.

Maar die groot probleem is sy opposisie in sy eie organisasie. En hy sal dit moet oorkom om te wen.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Skep 'N President  |  2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.