Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
BLM beslis nie anti-wit veldtog

Dit is verstommend dat die wêreldwye veldtog Black Lives Matter (BLM) so baie negatiewe aftrek in Suid-Afrika kry, en veral onder sommige vooraanstaande wit sportlui.

Henry Jeffreys

Rapport het Sondag berig oor ’n “bitter twis” in die geledere van die Springbokspan van 1995, glo omdat die destydse kaptein, Francois Pienaar, deelgeneem het aan ’n BLM-knieval-protes by ’n onlangse kriekettoernooi. Dit het glo gelei tot ’n “hewige bekgeveg” op die span se WhatsApp-groep – soveel so dat Pienaar die groep verlaat het.

Die BLM-inisiatief het sy oorsprong in Amerika, waar dit opnuut opgevlam het in reaksie op die swart Amerikaner George Floyd wat in Minneapolis dood is in ’n struweling met die polisie.

Dié voorval het gelei tot uitbarstings van geweld in talle Amerikaanse stede en wêreldwye protesveldtogte in verskeie stede.

Sportlui oor die wêreld het hul ondersteuning vir die BLM-veldtog begin wys deur “Black Lives Matter” op hul uitrustings aan te bring en die knieval te doen voor die aanvang van wedstryde.

Daar was geen manier dat Suid-Afrika met sy geskiedenis die veldtog sou vryspring nie. Die kwessie het hier opgevlam nadat die Protea-krieketspeler Lungi Ngidi gesê het dat hy die BLM-veldtog in gesprekke met sy spanmaats en krieketbase sou opper.

Twee oudspelers, Boeta Dippenaar en Pat Symcox, het skerp gereageer en gevra waarom Ngidi hom nie liefs uitlaat oor plaasmoorde nie. Dit was ’n netjiese dog onbeholpe manier van die onderwerp verander. Dit is wat gebeur as jy nie weet hoe om te reageer op ’n blatant ongemaklike kwessie nie – plaas die soeklig op ’n onverwante kwessie.

Ngidi se plan om oor die BLM-kwessie te praat, is natuurlik geen aanduiding dat hy reken plaasmoorde is van minder belang nie. Dippenaar en Symcox het hom dus ’n groot onguns aangedoen.

Swart lewens in Suid-Afrika word vir eeue al as van mindere belang geskat. Nes Amerika het ons ’n geskiedenis van slawerny, en dekades van apartheid of geïnstitusionaliseerde rassisme.

Ná die val van apartheid het Suid-Afrika deur die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) probeer vrede maak met sy verlede.

Ná die val van apartheid het Suid-Afrika deur die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) probeer vrede maak met sy verlede. Dit was egter nie ’n perfekte proses nie. Trouens, dit het baie vrae onbeantwoord gelaat, met die gevolg dat ons vandag, meer as 25 jaar ná die koms van demokrasie, nog steeds met die verlede worstel.

Plaasmoorde is ontsettend belangrik. Die lewens van boere en hul werkers (wie se lyding dikwels verlore raak in die debat) maak saak en is integraal tot die land se sukses.

Die media-narratief oor plaasmoorde is meestal gefokus op die lot van wit boere en hul gesinne as slagoffers. Dit is dus geen wonder nie dat dit deur die res van die land ervaar word as iets wat doer ver in die wit gemeenskap gebeur.

Ja, die regering kan en moet baie meer en baie beter doen om plaasmoorde hok te slaan. Tog kan dit nie ontken word dat selfs in die demokratiese Suid-Afrika swart lewens nie altyd na waarde geskat word nie.

Die meeste misdade word teen swart gemeenskappe gepleeg, ja, dikwels deur swart oortreders. Misdadigers, moet dit gesê word, sien nie velkleur nie, net eiendom of goedere om te gryp. Die verminking van of verlies aan lewens is klaarblyklik van sekondêre belang.

BLM beteken nie dat wit of ander lewens nie saak maak nie. Dit beklemtoon bloot dat die gevolge van die vergrype van die verlede nog met ons is en, in die meeste gevalle, dieselfde mense nog die prys betaal.

Deur klem te lê op die belangrikheid van swart lewens beteken nie dat wit lewens waardeloos is nie. Die BLM-veldtog is nou ’n gevestigde internasionale beweging. Dit het meriete en is verdienstelik.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.