Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bloed is goed, water loop ook
Elmarie Dercksen

Bloed is dikker as water.

Diegene wat met mense werk, moet dit die hele tyd verreken: die gesin van oorsprong, die konteks. Terapeutiese modelle wentel daarom. Dit is waar ons mens word, selfvertroue vind, ’n wêreldbeeld vorm, leer verhou-dings vestig. Ons lojaliteit teenoor ons gesin van oorsprong is in ons DNS.

In ’n land met ’n meerderheid huishoudings sonder pa’s is ons mos bewus van die belang van die kern-gesin. Tog verbaas hardnekkige vooropgestelde idees: Die ideale gesin is Mamma, Pappa, en twee of vier kinders; In die ideale gesin is goeie verhoudings maklik; Wat wou! – die ideale gesin bestaan.

Dit is nié waar nie, en lankal deur goeie navorsing uit die bus geskop.

Elke gesin het botsings: van belange, van persoonlikhede, van verwagtinge.

So, as jy familie het en julle kan gesels, is jy deel van ’n funksionerende eenheid én deel van die minderheid.

Ek haal my hoed af vir elke gesin – enkelouer, tradisioneel, saamgestel, hoe ook al – wat hul bes doen.

Grootmense werk, en kinders gaan skool. En tussendeur probeer ons mekaar leer, en dien, en help, en liefhê.

Grootmense werk, en kinders gaan skool. En tussendeur probeer ons mekaar leer, en dien, en help, en liefhê.

Baie grootmense het letsels, sorteer nie hul seer uit nie, en dra dit ’n volgende generasie in. En dan het die kinders ook weer seer en letsels.

Ek is dikwels verbaas oor hoe onbewus mense is van hul eie behoeftes. Ek sien dit in hul oë, hoor dit in hul stemme, en hul gedrag is soms so openlik dat dit op hul voorkoppe geskryf kon staan: Ek voel verwerp, is kwaad, is eensaam, wil deelneem. Maar ons leef voort en dink ons behoeftes is betaalde paaiemente, ’n beter baas, of ’n ononderbroke aand met Netflix.

In die land en tyd waarin ons leef, het ons mekaar nodiger as ooit. Ons beleef ekonomiese en leierskapskrisisse. Ons is bekommerd oor misdaad en verval. Mense is stukkend en behoeftig. Maar, kla by die braaivuur of teetafel is dikwels die naaste wat ons kom aan betekenisvolle konneksie.

In die gemeente waar ek bedien, beleef ek dikwels dat God mense help en genees en liefhet. Maar, ek beleef ook daagliks dat mense dit vir mekaar doen. Mense se kinders emigreer, dan is dit die Bybelstudiegroep wat oorbly. Jong mense trek stad toe en Tinder is ’n oerwoud, dan help die stapgroepie.

Net gewoon erediens hou, bymekaar wees in ’n veilige ruimte, fasiliteer betekenisvolle konneksie. En dit is die begin van groot dinge. Dikwels word mense vinniger gesond van hul seer deur deel te word en deel te neem, as om ure in my spreekkamer te sit.

So hier is my smekinge:

  • Geniet jou gesin van oorsprong, en hou konneksies soveel jy kan. Daar is baie mense wat dit nie het nie;
  • Hou op om so baie van jou gesin van oorsprong te verwag. Hulle kan nie in al jou behoeftes voldoen nie. Soek betekenisvolle konneksies – dit verryk ons lewe ver meer as geld of goed;
  • Erken jou behoeftes! Jy is nie ’n eiland nie en leef nie net van brood nie; en
  • Soek iemand wat jou nodig het. Moenie daarvoor wag nie.

Ons luister Sondagaand na die getuienis van Heinrich Gabler, ’n jong onderwyser en Mnr. Suid-Afrika 2019. Dis ’n wonderlike verhaal, maar wat my bybly, is hoe nie net God nie, maar gewone mense hom as kinderhuiskind van mylpaal tot mylpaal gehelp het. ’n Sondagskooljuffrou, rugbyafrigter, ’n sakeman met ’n hart en plan – almal bring ’n unieke bydrae. Bloed is goed, maar water loop ook.

Onthou Spreuke 27:10: “Moenie by ’n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: ’n buurman wat naby is, is meer werd as ’n broer wat ver is.”

Meer oor:  Water  |  Kinders  |  Mense  |  Bloed  |  Omgee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.