Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillemaandag: Aardverkoeling keer dat ons ’n week lank braai

’n Ou mater wat liefs anoniem moet bly, sê dié week vir my: “Vandag voel ek te oud vir speelgoed, te jonk vir pensioen, te lui vir werk en te moeg vir ’n affair en dan kry ek nog flippen koud ook!”

Brrriljant opgesom!

Ja-nee, aardverwarming se alie as jy weens die koue vir ’n hele week lank nie in Tshwanetoria ’n ou vleisie kan braai nie.

Aardverkoeling dalk eerder?

Maar ten minste gee dit ons, anders as die ouens in Hawaii, waar die temperatuur heeljaar dieselfde is, iets om oor te gesels.

Intussen, lyk dit my, sal hulle ons piepôls in hul eie huis in hul eie bed in hul eie arm moet gaan inent as ons ooit ’n kudde wil word.

Ek is nie ’n brein- of hartchirurg nie (trouens, ek kan nie eens ’n verstopte drein oopkry nie), maar in my eenvoud het ek my eers in my regter- en toe in my linkerarm laat inspuit. Net om te kyk of dit werk.

My ou kindjie, ek is reg om te gaan . . . maar ek moet jou sê, ek is nie haastig nie.
Ouma Tinkie

Ek wou eers 20 jaar wag om te kyk of die entstof nie horings op voorkoppe laat groei nie, maar toe besef ek dat ek waarskynlik nie 20 jaar oor het nie.

En ja, my twee inentings was so moeiteloos, pynloos en simptoomloos dat ek amper lus was vir nog enetjie. So ’n loopdoppie.

Maar nou ja, aangesien ek nie ’n brein- of hartchirurg is nie (of ’n dieselwerktuigkundige of selfs ’n viroloog nie), kan ek nie vir iemand anders sê wat om te doen nie.

My eie eenvoudige redes waarom ek daar in die tou gaan inval het, is heel eenvoudig: Ek het klein kleinkinders oorsee (drie jaar en jonger) en ek sou hulle darem net graag weer ’n slag wou sien voordat hulle universiteit toe gaan of trou.

Tweedens sou ek verkies om, as ek enigsins kan, nog ’n rukkie hier op ons ondermaanse te vertoef. In die gevleuelde woorde van my ou moedertjie, Ouma Tinkie, toe sy my in haar 94ste lewensjaar plegtig verseker het dat sy nie bang is vir die volgende stap nie: “My ou kindjie, ek is reg om te gaan . . . maar ek moet jou sê, ek is nie haastig nie.”

Derdens sal dit vir my bitter lekker wees om weer eendag die volkslied by ’n toets teen die All Blacks uit volle bors en sonder ’n masker saam met 60 000 ander mense te kan sing.

O ja, en ek hou ook nie van hospitale nie. Maar nou ja, soos Oupa Piet altyd gesê het: “Ou seun, as jy die verskil tussen goeie en slegte advies ken, het jy nie advies nodig nie.”

’n Tannie bel die hospitaal en wil weet hoe dit met Marie Human in kamer 302 gaan.

Ná ’n paar minute kom die antwoord: “Dit gaan goed – bloeddruk- en suurstofvlakke mooi, koors normaal en sy word hopelik môre ontslaan. Is u haar moeder?”

“Nee, ék is Marie Human. Niemand sê my mos nooit niks nie!”

Meer oor:  Ouderdom  |  Blouwillemaandag  |  Sterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.